Afronding van speenkalwers op sugargraze en weimielies

Vraag

Hoe lank sal dit neem om speenkalwers van 180 kg na 280 kg te vat op sugargraze en weimielies? Watter byvoedings of lekke behoort ek te gebruik? Jaco

Antwoord

Deur: Dr. JASPER COETZEE

Die tydperk wat dit gaan neem om kalwers op sugargraze af te rond, gaan afhang van die gehalte van die weiding asook die genetiese groeipotensiaal (gehalte) van die kalwers en watter byvoeding gegee gaan word. Op hierdie weiding word daagliks 1.2 kg Voermol Supermol per kalf gevoer. Die kalwers moet ook met 'n geskikte oorinplantaat geïnplanteer word. Swaarder kalwers (± 250 kg) vaar beter en gee 'n beter groeirespons as ligte kalwers (< 200 kg). 

Die probleem met sugargraze is dat wanneer toestande gunstig (hoë vog en warmtoestande) is dit dikwels onder die diere uitgroei. Wanneer dit hoër as 'n meter raak, begin die kwaliteit afneem wat tot laer groei van die kalwers aanleiding gee. Indien die sugargraze van 'n goeie gehalte is en dit deur beweiding korter as 'n meter gehou kan word, kan groeitoenames van tot 0.8 – 1 kg per speenkalf per dag gehandhaaf word. Indien die gehalte van die weiding egter afneem, kan die groei na 0.5 tot 0.6 kg per dag val.
 
Op weimielies moet speenkalwers Voermol Landelek ad lib. gevoer word om die benutting daarvan te verbeter, asook suurpens en opblaas te beperk. Die inname van die Landelek is ongeveer 800 tot 1 200 g/kalf/dag. Voermol Landelek moet te alle tye beskikbaar wees om rumenversteurings te beperk. Afhangend van die mielie-opbrengs behoort speenkalwers op weimielies tot 1.0 – 1.2 kg/kalf/dag met die Voermol Landelekaanvulling te groei. Speenkalwers vreet egter die mielielande nie skoon nie en daar bly nog heelwat mieliepitte op die lande agter. Om die lande optimaal te benut, moet lammers of skape die kalwers volg nadat die kalwers na 'n nuwe blok mielies geskuif is.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
27 Augustus 2010
 

Addisionele dokument

0
Geen gradering nie
Jou gradering: Geen