Beste skaaprasse om te voer

Vraag

Ek wil met 'n skaapvoerdery begin en wil weet watter skaaptipe is die beste om te voer?

Antwoord

Deur: Dr. JASPER COETZEE

Voordat besluit word op watter tipe skaap die mees ideale is, moet daar vasgestel word wat die spesifieke verbruikers verkies en waar die lammers bemark gaan word omdat dit 'n invloed op die skaapras kan hê. 'n Tweede aspek wat belangrik is, is watter tipe lammers is in die nabyheid van die voerkraal teen relatief billike pryse beskikbaar, want vervoerkoste kan 'n groot uitgawe word indien lammers 'n ver afstand vervoer moet word. Langafstandvervoer plaas groot stres op die lammers wat hulle voerkraalprestasie benadeel. 

Die meeste skaapvoerkrale verkies 'n wolvleistipe lam (bv. SA Vleismerino; Dohnemerino en gladdelyf Merino’s). Hierdie lammers moet oor 'n hoë genetiese groeipotensiaal en 'n uitstekende voeromsettingspotensiaal beskik. Slegs gesonde, goeie gehalte lammers moet in 'n voerkraal afgerond word.  Vermy boepenslammers, want 'n swak lam kan nooit reggevoer word nie. Om maksimum wins in 'n voerkraal te generereer, gee voorkeur aan:
·       Wolvleistipe lammers van 28 tot 32 kg
·       Jong lammers, hoe jonger (< 4 maande) hoe beter, mits hulle minstens 28 kg weeg
·       Kruisraslammers (bv. SA Vleismerino; Dohnemerino en gladdelyf Merino’s wat met 'n Dormer of Ile de France gekruis is)
·        Ramlammers
·       Lammers wat kruipvoer ontvang het
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
14 Februarie 2010

Addisionele dokument

4.5
Gemiddeld: 4.5 (10 votes)
Jou gradering: Geen