Tuis
Gevorderde soek
  • Tuis
  • Nuus
  • Bedrywe
    • Diere
    • Akkerbou
    • Tuinbou
    • Meganisasie
    • Bedryfsake
    • Tegnologie
    • Wiele
  • Die weer
    • Vandag se weer
    • Weervoorspelling
    • Weerberigte
    • Gesels saam oor die weer
  • Markte
    • Safex-pryse
    • Aandeelpryse
    • Agri-weekliks
    • Veilingspryse
    • Finansies
    • Varsprodukte
  • Vra die kundiges
    • Vra vir Faffa
    • Dierevoeding
    • Finansies
    • Chemikalieë
    • Regskenner
  • Stoeterye
    • Beeste
    • Skape
  • Jou mening
    • Forums
    • Gespreksforum
    • Boereblogs
    • Peiling
  • Multimedia
    • Foto-albums
    • Video's
    • E-pos foto’s aan ons
  • Potpourri
    • Kos en resepte
    • Boer soek 'n vrou
    • Pretkalender
    • Kalender
    • Jag en gewere
    • Jongste Landbouweekblad
    • Bloktoetse
    • Kompetisies
    • Boeke
  • Geklassifiseerde advertensies
Jy is hier: Kundiges / Dierevoeding / Jong-ooitjies-sukkel-om-te-lam

Nuus

SA en Australië deel SKA-projek

Ná jare se beplanning en maande se wag het die SKA-organisasie aangekondig dat Suid-Afrika en Australië dié teleskoop sal deel.

  • Gebrekkige rekord oor grondbesit
  • OBP-entstof weer onder skoot
  • SKA: Suid-Afrika hoor dalk vandag
  • Langklooframphulp: Minister help eindelik
  • Oesskatting in die kol – Graan SA
  • John Deere-winkel gewild op Nampo
  • Bosman wen Jongboer van die Jaar
meer...

Lekkerlees

  • Aktekantoor se inligting oop vir publiek
  • Nampo 2012 - die landbou in al sy glorie
  • Bewerkingstoer na Argentinië
  • Titelaktes van familieplaas
  • Eis teen Transnet nadat plaas afgebrand het?
  • Wie smous met BK’s?

My Weer

  • Voorspelling
  • Vandag
  • My ligging

Kaapstad

  • Vrydag
  • Kans op reën
  • Hoog:18 C
  • Laag:10 C
  • Saterdag
  • Kans op reën
  • Hoog:19 C
  • Laag:9 C
  • Sondag
  • Sonskyn
  • Hoog:19 C
  • Laag:7 C
Sonsopkoms: 7:38
Sonsondergang: 17:46

Kaapstad

Bygewerk:25 May 17:00 IDT
Temp:
Druk:
Doupunt:
Humiditeit:88%
Wind:

Kaapstad

Peiling

Is mentorskap die korrekte oplossing vir die suksesvolle bemagtiging van nuwe boere?:

Jong ooitjies sukkel om te lam

Ingestuur deur Onbekende besoeker op 14 September, 2009 - 21:16

Vraag

 

Ons boer in die Vrystaat met Dohne Merino's. Elke jaar sukkel ek met die jong ooitjies. Hulle kan nie self lam nie en daar moet keisersnees gedoen word. Dit lyk of die geboortekanaal te klein is. Hulle word gepaar op 12 maande ouderdom. Paar ek hulle te jonk of wat kan die probleem wees? Rossouw (rossouw@taxkon.co.za)
 

Antwoord

Deur: Deur dr. JASPER COETZEE

Daar kan verskeie oorsake van geboorteprobleme wees. Die twee belangrikste redes hoekom die jongooie lamprobleme ondervind het, is eerstens heel waarskynlik omdat hulle fisies nog nie ten volle uitgegroei was nie en tweedens moontlik weens subkliniese melkkoors. Jongooie wat nie optimaal uitgegroei is nie, se bekkenopening is kleiner wat tot geboorteprobleme aanleiding kan gee. Jongooie wat 12 maande en jonger gepaar word, moet minstens 80 % en dié wat ouer as 12 maande gepaar word, minstens 90 % van volwasse ooimassa met eerste paring weeg. Jongooie wat hierdie teikenmassas bereik, kan selfs vroeër as 12 maande gepaar word. Onderaan hierdie antwoord is 'n artikel oor die uitgroei van jongooie. 

Jongooie wat op hoë kaliumbevattende weidings en/of rantsoene of oesreste met baie pitte die laaste maand voor lam is, ontwikkel subkliniese melkkoors wat tot geboorteprobleme aanleiding gee. Ongelukkig word die weiding van hierdie ooie nie genoem nie. Dr. Jasper Coetzee kan gekontak word (0833 86 83 82 of jasperco@iafrica.com) vir spesiale lekke om subkliniese melkkoors te voorkom.
 
Indien ooie geboorteprobleme ondervind, moet die lammers met geboorte geweeg word. Die ideale geboortemassa is 3.5 tot 5.5 kg. Lammers swaarder as 6 kg met geboorte kan tot geboorteprobleme aanleiding gee. Dit kan gebeur indien 'n verkeerde voedingsgprogram gedurende laatdragtigheid gevolg word. Aangeheg is 'n voorgestelde voedingsprogram.
 
WYSE WAAROP OOILAMMERS UITGROEI, BEPAAL HULLE TOEKOMSTIGE REPRODUKSIE- EN PRODUKSIEPOTENSIAAL
 
Dit is van die uiterste belang dat sogende ooilammers en jongooie optimaal uitgroei, want dit verhoog leeftydproduksie- en –leeftydreproduksietempo. Massaverlies op enige stadium asook swak uitgroei kan leeftydproduksie en –reproduksie permanent en onomkeerbaar verlaag
Die voeding en versorging van ooilammers vanaf speen tot eerste paring word soms erg verwaarloos omdat dié diere se groei en ontwikkeling nie 'n onmiddellik ekonomiese voordeel vir die produsent inhou nie. Produsente beskou dit eerder as 'n onnodige uitgawe, wat 'n totale wanpersepsie is. Die uitgroei van speenooilammers en jongooie, veral op droë weiding is dikwels baie problematies. Lekinnames van pasgespeende lammers is dikwels laag, wat die stres wat gepaardgaan met speen, vererger. Dit onderdruk hulle immuunstelsel wat weer hulle weerstand verlaag en hulle meer vatbaar maak vir siektes. Sulke diere is ook geneig om swakker te immuniseer wanneer hulle teen siektes geënt word. Pasgespeende lammers is ook baie vatbaar vir interne parasietbesmetting wat hulle potensiële immuniteit verder verlaag wanneer hulle geënt word. Australiërs beskou hierdie mislukking van speenlammers om te gedy en goed uit te groei as een van die mees algemene en komplekse siektesindrome (weaner ill-thrift). Dit gee tot swak groei, hoë vrektes, laer leeftydproduksie- en reproduksiepotensiaal aanleiding. 'n Algemene norm by kleinvee is dat vrektes vanaf speen tot eerste paring minder as 3 tot 5 % moet wees (Cottle, 2003). Hoër vrektes dui op ondoeltreffende voeding- en bestuurpraktyke. Hoë naspeense vrektes het nie net 'n groot ekonomiese implikasie omdat daar minder diere is om te verkoop nie, maar vertraag ook seleksievordering omdat streng seleksie, weens die kleiner getal jongooie, nie moontlik is nie.
Om 'n hoë leeftydreproduksietempo te verseker, moet ooilammers 'n hoë groeitempo tot speen en ten minste 'n matige groeitempo daarna tot eerste paring handhaaf. Oorsese navorsers stel dit duidelik dat vervangingsooitjies in geen stadium vanaf geboorte tot eerste paring massa moet verloor nie, want anders word hulle leeftydreproduksiepotensiaal permanent en onomkeerbaar verlaag. Waar speenooilammers slegs op natuurlike weiding aangewese is, gebeur dit dikwels dat hulle gedurende die droë seisoen massa op droë weiding verloor. Dit is een van die belangrikste redes vir 'n lae lampersentasie in baie skaapkuddes. Praktyke wat gedurende verskeie stadiums van die eerste twee jaar van die lewe van jongooie toegepas moet word om 'n hoë leeftydproduksie en -reproduksie te verseker, gaan vervolgens kortliks bespreek word.
Geboorte tot speen
Waar sogende ooilammers en hulle moeders voor speen, asook die ooilammers na speen tot op nege maande ouderdom swak gehalte weiding bewei het, het hierdie ooilammers oor hulle leeftyd slegs gemiddeld 8 % tweelinge per jaar geproduseer. Daarenteen het die groep wat op goeie gehalte weiding was gemiddeld 23 % tweelinge per jaar geproduseer (Reardon & Lambourne, 1966). Die verbetering van die groei van die sogende lam is die eerste stap in die daarstelling van 'n hoogs produserende en reproduserende kudde. Ooilammers wat die eerste paar maande van hulle lewe onder voedingstremming verkeer, sal 'n laer ovulasietempo hê en minder lammers in hulle leeftyd produseer as dié wat goeie voeding ontvang het (Williams, 1984). Daarbenewens is die voeromsetting van die sogende lam uiters doeltreffend sowel as koste-doeltreffend. Die fisiologiese vermoë van 'n lam om die ingenome melk en/of voer na vleis om te sit, is afhanklik van sy ouderdom. Hoe jonger die lam, hoe beter en doeltreffender is sy biologiese prestasies in terme van groeitempo en voeromsetting. Om dus hoër winste te genereer, moet skaapprodusente hierdie uitstekende voeromsettingsvermoë van jong groeiende lammers maksimaal benut. Om die hoogs moontlike groei van sogende lammers te verseker, moet lakterende ooie 'n Maxiwollekmengsel (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies of garspitte + 50 kg sout) op goeie gehalte weiding, verkieslik groenweiding, gevoer word terwyl die lammers ook kruipvoeding moet ontvang. Die volgende kruipvoermengsel gee uitstekende resultate: 150 kg Voermol SS 200 + 175 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol + 625 gemaalde mielies. As alternatief kan Voermol Superlamkorrels ook as 'n kruipvoer gebruik word.
Die doelwit is om die lammers op minstens 25 kg tot 32 kg op 70 dae ouderdom te speen. Navorsing deur die Autralian Wool Innovation (2007) toon dat lammers met speen swaarder as 23 kg  moet weeg en nie later as 84 dae ouderdom gespeen moet word nie. Met speen op 70 dae ouderdom word ongeveer 20 tot 25 % van die kleinste en swakste lammers nie gespeen nie, maar by die ooie gelos. Na ongeveer 10 tot 14 dae word die ooie se uiers ondersoek, dié ooie met 'n uier met skoon spene is die moeders van hierdie klein en swak lammers. Merk hierdie ooie deur die punt van hulle oor af te sny en gee hulle nog een kans en prul hulle by 'n volgende mislukking. Hierdie ooie kan ook na die kruisteelttrop geskuif word sodat hulle nie vir verdere suiwerteling gebruik word nie. Indien daar 'n kans is om hierdie klein en swak lammers teen 'n billike prys te verkoop, moet hulle verkoop word want dit is meestal nie koste-doeltreffend om hulle af te rond nie. Soveel as moontlik van die speenooilammers moet vir vervanging gehou word en slegs dié met opvallende pruleienskappe moet met speen uitgeskot word. Die ramlammers asook die prulooilammers kan óf op aangeplante groenweiding met Voermol Superlamkorrels óf in 'n voerkraal op 'n SS 200-voerkraalrantsoen (125 kg gemaalde lusern + 200 kg Voermol SS 200 + 100 kg Voermol Procon + 40 kg Voermol Melassemeel + 550 kg gemaalde mielies) afgerond word.
Die vroeër speen (70 dae ouderdom) van lammers en die afronding van uitskotooi- en hamellammers in 'n voerkraal skep die geleentheid om meer ooie, tot 20 % meer, aan te hou en terselfdertyd waarde tot eie lammers toe te voeg. Waardetoevoeging tot selfgeproduseerde produkte, in hierdie geval lammers, verseker hoër winsmarges. Dit is 'n vorm van diversifisering wat algemeen aanvaar word as 'n strategie om die risiko in landbou te beperk. In hierdie verband behoort voerkraalafronding 'n integrale deel van 'n skaapboerdery uit te maak om die risiko te verlaag.
Speen tot eerste paring
Skaapprodusente is dikwels geneig om hulle speenooilammers op 'n sogenaamde "oorlewingskursus" te plaas met die doel om hulle vir gehardheid en aanpasbaarheid te selekteer. Indien hulle egter voor eerste paring massa verloor, word hulle leeftydproduksie en -reproduksie permanent en onomkeerbaar verlaag al word hulle later in hulle leeftyd op die beste weiding geplaas. Hulle sal dus nooit hulle volle genetiese potensiaal bereik nie. Seleksie vir gehardheid en aanpasbaarheid moet daarom hoofsaaklik van die ram se kant geskied deur seleksie van ramme onder veldtoestande met minimale byvoeding. Die voer van ramme vir veilings moet eers geskied nadat finale seleksie plaasgevind het.
Speenooilammers moet op die veld of aangeplante weiding tot eerste paring grootgemaak word. Hulle moet op die beste beskikbare en “wurmvrye” weiding, voorkeurweiding, geplaas word. Pasgespeende ooilammers behoort kruipvoeding te ontvang tot minstens 14 dae na speen om hulle oor die speenskok te help of totdat hulle minstens 30 tot 35 kg weeg. Doeltreffende beheer van interne parasiete in speenlammers is eweneens belangrik en daarom moet elke plaas vasstel of daar wurmweerstand voorkom.
(1)    Teikenparingsmassa en -groeitempo
Skotse navorsers toon dat waar ooilammers die eerste 12 maande van hulle lewe op goeie weiding aangewese was, hulle lampersentasie met hulle eerste lamseisoen op twee jaar 169 % was met 'n leeftydgemiddelde lampersentasie van 170 %. Daarenteen was die lampersentasie van ooilammers wat die eerste 12 maande op 'n laer voedingspeil (swakker weiding) was op twee jaar slegs 84 % met 'n leeftydgemiddelde lampersentasie van 118 % (Gunn, 1977). 
Om 'n hoë lampersentasie te verseker, mag ooilammers geen massa verloor van speen totdat hulle die eerste keer lam nie en moet hulle 80 % van volwasse liggaamsmassa met eerste paring weeg indien hulle op 12 maande en jonger vir die eerste keer gepaar word. Indien ouer as 12 maande gepaar word, is die teikenparingsmassa 90 % van volwasse liggaamsmassa. Navorsing wat destyds met die Elsenburg se SA Vleismerino’s deur dr. Lammie Vosloo (1967) gedoen is, toon dat waar jongooie met eerste paring op ongeveer 19 maande ouderdom ongeveer 72 kg (d.i. 90 % van volwasse massa van 80 kg) geweeg het, het ongeveer 50 % van hulle tweelinge met eerste lam gehad. Die Dohnemerino-jongooie van Richard Krige van Boontjieskraal Landgoed, Skaapboer van die Jaar van 2007, weeg met eerste paring op 11 of 14 maande ouderdom 80 % van volwasse ooimassa. Hierdie jongooie het kruipvoeding ontvang en na speen word altyd byvoeding, in die vorm van 'n kragvoeraanvulling, tot 30 dae na eerste paring verskaf. Die gevolg is dat 55 % van hulle jongooie met eerste paring met tweelinge dragtig is.
Die naspeense groeitempo van speenooilammers kan met die onderstaande formule bereken word. Gestel die volwasse ooimassa is 60 kg en jongooie word vir die eerste keer op 18 maande (d.i. 540 dae) gepaar, dan is die teikenpaarmassa van jongooie 54 kg (d.i. 90 % van 60 kg). Indien die speenooilammers op 120 dae ouderdom op 25 kg gespeen word, is berekende naspeense groeitempo (GDT) van die jongooie van speen tot eerste paring:
 

Teikenpaarmassa (54 kg) – speenmassa (25 kg)
=
69 g/dag
Aantal dae van speen tot eerste paring (540 – 120 dae

 
 
 
Navorsing wat die afgelope jare gedoen is, toon dat selde of ooit in die praktyk moontlik is om die teikengroeitempo van weidende jongooie met 'n lekaanvulling te bereik. Dit is wel moontlik met 'n kragvoeraanvulling (200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon +
40 kg Voermol Melassemeel + 700 kg gemaalde mielies of heel garspitte). Hierdie kragvoeraanvulling word op beide groen en droë weidings gevoer. Speenooilammers wat op weimielies of mielie-oesreste met baie pitte uitgegroei word, moet Voermol Landelek (150 – 200 g/ooitjie/dag) gevoer word. 'n Beter mengsel is 150 kg Voermol Landelek plus 50 kg Voermol Procon (250 – 350 g/ooitjie/dag). Op staande sojahooi of op soja-oesreste met baie pitte word Voermol Molovite (200 g/ooitjie/dag) aanbeveel.
Deur die jongooie of 'n merkergroep gereeld, elke twee tot drie weke, te weeg, kan die voedingspeil van die kragvoeraanvulling so gereguleer word dat die berekende groeitempo gehandhaaf word om die teikenmassa met eerste paring te bereik. Dit is die mees koste-doeltreffende wyse, sogenaamde presisievoeding, waarop jongooie gevoer kan word.
Voorafgaande riglyne moet egter nie onvoorwaardelik aanvaar word nie, want indien die volwasse ooimassa te laag is, sal die bereiking van die kritieke massa nie hoë meerlinggeboortes waarborg nie. Dit is ‘n algemeen aanvaarde wetenskaplike feit dat vir elke kilogram wat die paarmassa van jongooie styg, verhoog hulle gemiddelde lampersentasie met ongeveer 1.5 tot 2.5 % (Hatcher, 2006). Optimale uitgroei van jongooie is noodsaaklik, want oorsese navorsers is dit eens dat die goeie uitgroei van vervangingsooie die pelvisgrootte vergroot en sodoende geboorteprobleme verminder.
Volgens Seymour (1996) kan lae lampersentasies by jongooie wat die eerste keer lam, toegeskryf word aan onvoldoende voeding ses maande voor paring. Net soos by volwasse ooie neem die eiselle in die eierstokke van die jongooie ongeveer ses maande vandat dit begin groei en ontwikkel totdat dit gereed is vir ovulasie en bevrugting deur die ram se sperme. Onvoldoende voeding ses maande voor paring is heel dikwels die rede hoekom swak besetting en minder tweelinge gekry word, alhoewel ooie in 'n uitstekende kondisie met paring was (Fletcher, 1974). Waar vervangingsooie ses maande voor paring slegs vir drie maande swak gehalte weiding bewei het, was die besetting slegs 75 % teenoor die 97 % van dié wat goeie weiding gedurende hierdie periode bewei het (Reardon & Lambourne, 1966). Christo van Vuuren van Kestell se SA Vleismerino-jongooie het in 2006 55 tot 60 kg met eerste paring op 17 maande ouderdom geweeg, dit is meer as 80 % van volwasse massa. Slegs 45 % van hierdie jongooitjies het beset geraak en die oorsaak was die baie swak voeding ongeveer ses maande voor paring weens 'n erge droogte. Die ooitjies wat oorgeslaan het, is onmiddellik weer gepaar, maar slegs die helfte het beset geraak.
Voorafgaande voedingstrategie verseker matige groei vir speenooilammers van speen tot eerste paring en voorkom massaverlies op enige stadium voor eerste paring. Hierdie strategie verseker 'n konstante wolgroei met die produksie van gesonde, goeie gehalte wol met 'n hoë treksterkte (meer as 35 N/Ktex) wat 'n pryspremie verdien. Ooilammers moet met speen met Multimin® (0.5 ml/20 kg) asook Vitamien A & E gespuit word terwyl hulle ook met 'n doeltreffende doseermiddel gedoseer of gespuit moet word. Terselfdertyd moet hulle volgens 'n wetenskaplike gefundeerde siektebeheerprogram teen die heersende siektes geïmmuniseer word.
(2)    Optimale uierontwikkeling
 
Deur toe te sien dat lammers teen die voorafgaande berekende groeitempo groei, sal verseker dat speenooilammers nie oorvoer word nie, wat 'n te hoë groeitempo tot gevolg het en optimale uierontwikkeling nadelig beïnvloed. Vroeggespeende lammers wat van speen tot eerste paring op nege maande ouderdom teen 200 g/dag gegroei het, het 'n laer en minder volgehoue melkproduksie as hulle tydgenote gehad wat teen ongeveer 100 g/dag gegroei het (Umberger, 1980). Wallace et al. (1996) het gevind dat speenooilammers wat baie vinnig gegroei (± 234 g/dag) het 'n laer kolostrumproduksie met lam gehad het as dié wat teen 'n normale tempo (± 75 g/dag) gegroei het. Umberger et al. (1985) het gevind dat ooilammers wat teen 'n hoë tempo gegroei het, minder uierweefselgroei gehad het as dié wat teen 'n matige tempo gegroei het. Aanvanklik is aanbeveel dat ooilammers teen 'n lae tempo (100 tot 120 g/dag) tot op ongeveer vier tot vyf maande ouderdom moet groei om maksimum uierweefselgroei en gevolglik hoë melkproduksie met eerste laktasie te verseker. Uit beide 'n vleis- en ekonomiese oogpunt is dit egter kontraproduktief, want die uitskotooi- en hamellammers kan dan eers op 'n laat stadium bemark word wat die druk op weidings verhoog. Latere navorsing van Johnsson & Hart (1985) toon dat vinnige groei van lammers gedurende beide die periode voor geslagsrypheid (d.i. wanneer die uierweefsel baie aktief groei) en na geslagsrypheid benadeel uierontwikkeling. Die navorsing toon egter verder dat as daar een periode, óf voor geslagsrypheid óf daarna, van laer groeitempo is, word die uierontwikkeling nie nadelig gestrem nie. Alles inaggenome is dit die beste produksiestelsel om lammers teen 'n hoë tempo voor speen te laat groei omdat dit baie koste-doeltreffende is aangesien jong lammers se uitstekende voeromsettingsvermoë maksimaal te benut word; hulle op 70 dae vroeg te speen; uitskotooi- en hamellammers in 'n voerkraal of op weiding af te rond en ooilammers teen matige tempo (< 120 g/dag), soos met voorafgaande formule bereken, te laat groei om terselfdertyd uierontwikkeling en reproduksietempo te maksimeer. In gevalle waar uitstekende weidingstoestande gedurende die naspeense periode heers wat te hoë groeitempo’s tot gevolg het, kan groei tot die berekende groeitempos verlaag word deur die drakrag in die betrokke kampe te verhoog. 
(3)   Seleksieprosedures
 
In die geval van stoetboere word jongooie op grond van BLUP-teelwaardes en rasstandaarde geselekteer. In die geval van kommersiële produsente waar BLUP-teelwaardes nie beskikbaar is nie, moet baie klem op seleksie vir reproduksietempo geplaas word, aangesien dit een van die mees ekonomiese kenmerke is. In hierdie geval moet jongooie nie onnodig op grond van rasstandaarde uitgeskot word nie. Verder hoort sentiment glad nie tuis by die seleksie van jongooie nie! Daar moet eers vasgestel word of 'n jongooie vrugbaar is en wat haar lamgrootmaakvermoë is. Met speen moet ± 15 tot 20 % van die speenooilammers (bv. kleinste, boepense & opvallende prulle) uitgeskot word en die res van die ooilammers moet die eerste paring grootgemaak word. Voor eerste paring moet nie meer as ± 5 tot 10 % van die swakste en dié wat prulfoute sedert speen ontwikkel het, uitgegooi word nie. Soveel as moontlik jongooie moet gepaar word. Skandeer jongooie ongeveer 42 dae nadat die ram uitgehaal is en skot alle jongooie wat oorgeslaan het uit. Die dragtige jongooie word dan vir raseienskappe op grond van bouvorm en wol geselekteer en dié wat nie aanvaarbaar is nie word uitgeskot en as dragtige jongooie verkoop. Probeer om soveel as moontlik jongooie wat met tweelinge dragtig is te hou.
Samevatting
Vervangingsooitjies word as een van die belangrikste bates van die skaapprodusent beskou. Kleinveeprodusente word aangeraai om spesiale aandag aan die voeding en versorging van hulle pasgespeende ooilammers asook vervangingsooie te gee, want dit is die belangrikste belegging wat hulle kan maak om 'n winsgewende skaapboerdery te verseker. Volgens Andrew Vizard (2002) van Australië is sorgvuldige bestuur en voeding van ooie vanaf besetting tot eerste paring van jongooie nodig om “weaner ill-thrift” te beheer. Volgens hom moet die lengte van die paarseisoen maksimum vyf weke wees om “stertkantlammers” te beperk. Die verbetering van die uitgroei van jongdiere is die eerste stap in die daarstelling van 'n hoogs produserende en reproduserende kudde.
 
 
VOEDINGSPROGRAM VIR SKAPE ONDER EKSTENSIEWE EN SEMI-INTENSIEWE TOESTANDE
 
Die doel van hierdie artikel is om slegs breë riglyne te gee met betrekking tot 'n voedings-program vir skape onder ekstensiewe en semi-intensiewe toestande. Indien meer spesifieke inligting verlang word, moet dr. Jasper Coetzee geskakel word.
 
1. Prikkelvoeding van teelramme
 
Om 'n hoë besetting en hoë tweelinggeboortes te verseker, moet ramme in 'n uitstekende kondisie, vrugbaar en dekbehendig wees, oor 'n baie hoë geslagsdrang beskik en topfiks wees om ooie meermale gedurende haar hittesiklus te dek asook groot testes (skrotumomtrek van meer as 30 cm op 15 maande ouderdom) hê om voldoende spermselle te produseer. Aangesien die ontwikkeling van spermselle ongeveer twee maande neem, moet byvoeding vir ten minste twee maande voorsien word. Teelramme moet gevolglik vanaf twee maande voor die paarseisoen 'n deurvloeiproteïengebaseerde ramprikkelrantsoen soos Voermol Superlam-korrels of 'n Ramprikkelmengsel (200 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 575 kg gemaalde mielies of heel garspitte) teen 'n beperkte peil (500 – 1 000 g/ram/dag) gevoer word. Daar moet voldoende vreetspasie wees sodat alle ramme gelyktydig kan vreet. Indien die weiding skaars is, moet goeie kwaliteit lusernhooi ad lib. eenkant bygevoer word. Sodra byvoeding 'n aanvang neem, moet met die oefening (30 minute vinnig stap twee maal daagliks) van die ramme begin word. Waar geoefende (fikse) ramme met ooie gepaar is, was die besetting van die ooie 92 % teenoor die 76 % van die ongeoefende ramme se ooie. Alle ander aktiwiteite soos die nodige doserings (vir beide ronde- en neuswurm) en entings moet ongeveer ses weke voor die paarseisoen gedoen word. Daarbenewens moet Multimin asook Vitamine A en E drie maande voor die paarseisoen gespuit word terwyl entings wat koors veroorsaak, soos byvoorbeeld bloutong, na die paarseisoen gespuit moet word.
2. Uitgroei van vervangingsooie (jongooie)
Om 'n hoë lampersentasie te verseker, moet jongooie vanaf speen voortdurend groei en in geen stadium voor paring massa verloor nie. Daar moet veral voorkom word dat jongooie ses maande voor paring massa verloor, want dit kan tot 'n betekenisvolle verlaging in besetting en gevolglik lampersentasie lei. Die optimale uitgroei van vervangingsooie is noodsaaklik, want die massa wat 'n jongooi met tweetand bereik, bepaal haar uiteindelike grootte en produksie. Jongooie moet gevolglik altyd byvoeding vanaf speen tot 30 dae na eerste paring ontvang waarna hulle by die volwasse ooie se voedingsprogram ingeskakel kan word. Waar jongooie 80 % van die volwasse ooie se massa met paring op 11 of 14 maande ouderdom bereik het, was 55 % van hierdie jongooie dragtig met tweelinge. Afhangend van die gehalte en die hoeveelheid van die weiding, moet die jongooie die volgende kragvoermengsel op droë weiding (500 tot 1 000 g/ooi/dag) en groenweiding (100 tot 300 g/ooi/dag) gevoer word: 
200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 40 Voermol Melassemeel + 700 kg gemaalde mielies of heel garspitte. Voer hierdie kragvoeraanvulling daagliks met vreetspasie vir elke dier om optimale uitgroei van jongooie te verseker. Vir elke 1 kg wat sy swaarder is met eerste paring, styg haar lampersentasie met ongeveer 1.5 tot 2.5 %. Om 'n hoë lampersentasie te verseker, moet jongooie met eerste paring in 'n uitstekende kondisie (3.5 KP) wees en hulle teikenmassa met eerste paring bereik het. Daarbenewens word die hoogste lampersentasie verkry indien die voedingspeil van jongooie alreeds vanaf twee maande voor paring verhoog word deur hulle in spaarkampe te plaas en voort te gaan met bogenoemde kragvoeraanvulling tot 30 dae na eerste paring.
3. Prikkelvoeding van teelooie
Ooie wat met paring in massa toeneem, is meer geneig om tweelinge te produseer as dié wat massa handhaaf of verloor. Besetting en tweelinggeboortes neem af indien die ooie kort voor die prikkelperiode massa verloor. Ovulasietempo (aantal eiselle per hittesiklus afgeskei) bepaal die boonste limiet van die ooi se fekunditeit (meerlinggeboortes) en dit word geneties beheer. Die mate waarin 'n ooi haar genetiese reproduksiepotensiaal bereik, is afhanklik van omgewingsfaktore soos voeding en bestuur (Downing & Scaramuzzi, 1991). Voeding het volgens Rowe & Atkins (2005) die grootste invloed (> 70 %). Om dus 'n hoë lampersentasie te verseker, moet ooie met paring in 'n uitstekende kondisie (3.5 Kondisiepunt) wees en vir elke kg wat hulle swaarder is met paring, styg die lampersentasie met ongeveer 1.5 tot 2.5 %. Om ooie in 'n stygende massa te kry, moet hulle vanaf minstens drie weke voor paring in spaarkampe geplaas word en vir minstens ses weke 'n prikkellek gevoer word. Op droë weiding word Voermol Maxiwolkorrels teen 300 tot 400 g/ooi/dag gevoer. Maxiwol Produksiekorrels moenie gevoer word waar die drinkwater brak is of waar baie brakbossies voorkom nie, want dit sal onvoldoende lekinname tot gevolg hê. Geen soutlek of -klip moet daarom gevoer word nie. Op groenweiding of waar die drinkwater brak is of waar baie brakbossies voorkom, moet 'n Maxiwollekmengsel (250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 50 kg sout) teen 300 tot 400 g/ooi/dag gevoer word. Indien die ooie gekoggel is, kan die voedingspeil van die Maxiwolkorrels of Maxiwollekmengsel na ses weke oor 'n drie weke periode geleidelik tot onderhoudspeil (± 150 – 200 g/ooi/dag) verlaag word. Dit word gedoen omdat die nuutste navorsing toon dat die ooie wat met paring in ‘n uitstekende kondisie (3.5 KP) is, die eerste maand van dragtigheid op ‘n onderhoudsvlak gevoer moet word om maksimum embrio-oorlewing te verseker. Ooie moet vier tot ses weke voor paring Multimin plus Vitamien A & E gespuit word asook die nodige doserings en entings (multiklostridiale entstof & Ensoöties aborsie) moet gedoen word. Vanaf vier weke voor paring moet ooie rustig gehou word en geen stresvolle aktiwiteite moet in hierdie periode uitgevoer word nie. Waar ooie twee tot vier weke voor paring geskeer en gedip is, was die besetting 89 % as gevolg van hierdie stresvolle aktiwiteite teenoor 96 % waar hierdie aktiwiteite langer as vier weke voor paring geskied het. Waar ooie kort voor paring oor 'n lang afstand aangejaag is, het die stres as gevolg daarvan hulle ovulasietempo met tot 60 % verlaag.
4. Voeding gedurende vroeë dragtigheid
Enige faktore wat spanning kan veroorsaak, moet gedurende die eerste maand van dragtigheid vermy word, want dit kan embriomortaliteite tot gevolg hê. Waar ooie gedurende paring gehanteer is deur hulle elke vierde dag kraal toe te bring om gedekte ooie te identifiseer, was hulle lampersentasie 65 % teenoor die 98 % van die ooie wat nie gehanteer is nie. Om embriomortaliteite en afsterwing van die fetus te voorkom, moet waar moontlik, geen stresvolle aktiwiteite (bv. dosering, ent, skeer, dip, ensovoorts) vir die eerste maand nadat die ramme uitgehaal is, uitgevoer word nie. Die verskil (bekend as verdwynfaktor) tussen die aantal lammers geskandeer en dié wat werklik gebore word, is 'n aanduiding van die embrionale en fetale verliese (fetusse wat afsterf) en kan so hoog as 23 % en selfs hoër wees. Gedurende die eerste maand van dragtigheid moet die paringskondisie van die ooie gehandhaaf word en enige massaverliese moet voorkom word. Indien nodig, kan 'n lek, meestal dieselfde as wat vir prikkelvoeding gebruik word, voorsien word teen so 'n peil dat die ooie hulle paringsmassa handhaaf. Vermy die paring van ooie op klawer- en lusernweiding wat aan 'n vogstremming ly, deur insekte beskadig of met virusse of swamme besmet is omdat hierdie plante onder hierdie omstandighede hormone produseer wat die lampersentasie nadelig kan beïnvloed.
5. Voeding gedurende middragtigheid
Gedurende middragtigheid (Maand twee en drie van dragtigheid) is die optimale groei van die plasenta (nageboorte) van kritieke belang. 'n Klein nageboorte gee aanleiding tot 'n toename in lamvrektes weens te klein lammers (minder as 3.5 kg) met geboorte, swak lewensvatbaarheid en swak moedereienskappe asook 'n lae melkproduksie (tot 25 % afname in melkproduksie) weens swak uierontwikkeling. Indien ooie met paring in 'n uitstekende kondisie (3.5 Kondisiepunt) was, is dit toelaatbaar dat hulle in middragtigheid kondisie verloor (nie meer as 0.5 Kondisiepunt nie) op voorwaarde dat hulle minstens 50 tot 100 g/ooi/dag in massa oor hierdie periode toeneem. Jongooie daarenteen groei nog en moet verkieslik as 'n aparte trop op voorkeurweiding bestuur word. Indien die beskikbare weiding nie in die middragtige ooie se voedingsbehoeftes voorsien nie, moet 'n lek verskaf word. Die tipe lek hang van die tipe weiding, asook die gehalte en hoeveelheid daarvan af. 'n Keuse van die volgende lekke is as aanvulling op droë weiding beskikbaar: Voermol Ekonolek; Proteïenblok; Energieblok of Produksielek. Skakel dr. Jasper Coetzee vir spesifieke lekaanbevelings en -resepte indien ooie nie hulle voorgeskrewe liggaamsmassatoename handhaaf nie. Alle droë ooie, insluitend jongooie wat vir die eerste keer gepaar is, moet met skandering, 42 dae na paring, uitgeskot word.
6. Voeding gedurende laatdragtigheid
Laatdragtige ooie moet vanaf vier of ses weke, in sommige geval selfs vanaf agt weke, voor lam voldoende deurvloeiproteïen inneem om uierontwikkeling te stimuleer; bies- en melkproduksie te verhoog; moedereienskappe van die ooie en lewenskragtigheid van lammers te verbeter, asook geboorteprobleme (geel lammers met geboorte) en abnormale dik taai bies te beperk, wat almal meehelp om lamvrektes te beperk en/of lamgroei te verhoog. Die aanvulling van deurvloeiproteïen op swak kwaliteit droë weiding het die massa lam gespeen per ooi gepaar met tot 5.1 kg verhoog asook die daaropvolgende lampersentasie met tot 28 %. Ooie mag maksimum 0.5 Kondisiepunt (KP) gedurende laatdragtigheid verloor solank hulle kondisie met lam nie swakker as 2.5 KP is nie. Die beste resultate word egter verkry indien hulle kondisie met lam 3.0 tot 3.5 KP is. Volwasse ooie moet minstens 15 % (d.i. 7.5 kg vir 'n 50 kg ooi) en jongooie 10 % in massa gedurende die laaste twee maande van dragtigheid toeneem om 'n gewenste geboortemassa (3.5 – 5.5 kg) vir hoë lamoorlewing te verseker. Die voorsiening van 'n hoë deurvloeiproteïenlek (300 – 500 g/ooi/dag) soos 'n Maxiwollek-mengsel (250 kg Voermol Maxiwol + 200 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 50 kg sout); Maxiwol Produksiekorrels; Maxiwol Readymix of Maxiblok vier tot ses weke voor lam is ononderhandelbaar. Indien die weiding skaars is of ooie in lamkampe en lamhokke laat lam word, moet 'n volledige rantsoen [375 kg gemaalde lusern (20 – 25 mm lengtes) + 350 kg gemaalde mielies + 150 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel)] vanaf vier of selfs ses weke voor lam gevoer word. Aangesien hierdie rantsoen ureum bevat, moet die maksimum inname tot 2.5 kg/ooi/dag beperk word om ureumvergiftiging te voorkom. Indien hoër peile gevoer moet word, skakel dr. Jasper Coetzee vir 'n alternatiewe rantsoen. Ooie moet stadig en geleidelik op hierdie volledige rantsoen aangepas word om suurpens te voorkom. Ooie wat gedurende laatdragtigheid ondervoed is se piek en volhoubaarheid van melkproduksie is laer as goed gevoerde ooie. Ooie moet ook vier tot ses weke voor lam met Multimin plus Vitamien A en E ingespuit word asook die nodige doserings en entings (multiklostridiale) ontvang.
7. Voeding gedurende laktasie
Die voedingspeil gedurende die eerste twee maande na lam moet sodanig wees dat ooie nie meer as 10 % van hulle massa verloor nie. Proewe toon dat waar die ooie meer massa verloor het, hulle daaropvolgende lampersentasie tot 25 en in een geval tot 51 persentasie-eenhede laer was. Dit is toelaatbaar dat ooie in vroeë laktasie kondisie verloor solank die kondisiepunt nie laer as 2.0, maar verkieslik nie laer as 2.5 daal nie. Jongooie wat vir die eerste keer lam, moenie meer as 3 % en volwasse ooie nie meer as 7 % in massa gedurende die eerste twee maande van laktasie verloor nie. Om 'n hoë speenmassa te verseker asook 'n hoë lampersentasie met die daaropvolgende lamseisoen, moet dieselfde deurvloeiproteïen-gebaseerde lek of volledige rantsoen wat gedurende laatdragtigheid gevoer word, ook gedurende vroeë laktasie op die beskikbare weiding gevoer word. Die ideaal is dat ooie na lam na groen aangeplante weiding geskuif word. 'n Beperking van voerinname kan melkproduksie met tot 50 % verlaag. Die groei van tweelinglammers word nadelig beïnvloed indien die ooie vir langer as 10 dae 'n voedingsbeperking ervaar. Melkproduksie van ooie word nadelig beïnvloed deur 'n voedingsbeperking van vier weke en geen styging in melkproduksie vind plaas nie al word ad lib-voeding na hierdie periode voorsien. Indien ooie nie skandeer word nie, moet die soog- en droogtegniek gebruik word om droë ooie asook ooie wat gelam het, maar met stertsny geen lam soog nie, te identifiseer. Al hierdie ooie, insluitend jongooie wat die eerste keer gepaar is, moet uitgeskot word. Hierdie ooie moet verkoop word en die inkomste kan gebruik word om dragtige ooie, verkieslik dié wat met tweelinge dragtig is, in te koop.
8. Kruipvoeding van sogende lammers
'n Ooilam wie se moeder goeie voeding vanaf vier weke voor lam tot speen ontvang het asook die ooilam self tot op 14 weke ouderdom, maar verkieslik tot geslagsrypheid sal maksimum ontwikkeling van die toekomstige reproduksiepotensiaal van die ooilam verseker. Spiersel-vermeerdering by lammers vind tot op drie maande ouderdom en spiergroei tot op ongeveer nege maande ouderdom plaas. Die maksimering van beide verhoog die karkaswaarde van slaglammers en die uiteindelike volwasse grootte van jongramme asook -ooie, wat in laasgenoemde geval verhoogde lewensproduksie en -reproduksie tot gevolg het. Speenmassa van lammers op 100 dae ouderdom behoort minstens 45 % van hulle volwasse massa te wees en minstens 50 % voordat hulle die droë seisoen ingaan. 'n Kruipvoermengsel (150 kg Voermol SS 200 + 175 kg Voermol Procon 33 + 40 kg Voermol Melassemeel + 625 kg gemaalde mielies of heel garspitte) behoort ad lib. vanaf twee weke ouderdom tot ongeveer twee weke na speen voorsien te word. Lammers wat kruipvoeding ontvang en vir die slagmark bestem is, kan op ses weke ouderdom met 'n geskikte oorinplantaat (bv. Ralgro® of Zeraplix) geïnplanteer word omdat dit groei en voeromsetting verbeter.
9. Voeding van droë ooie
Na speen moet droë ooie voldoende geleentheid gebied word om hulle massa wat hulle sedert die vorige paring verloor het, te herwin. Afhangend van die kondisie van die ooie met speentyd blyk dit dat die beste resultate in terme van lampersentasie verkry word as lammers minstens drie maande voor die volgende paring gespeen word. Proewe in dié verband toon dat dit die besetting van ooie bevoordeel (98 % vs. 90 % en 94 % vs. 79 %). Daar moet gepoog word om droë ooie met die aanvang van die prikkelperiode in 'n goeie kondisie (minstens 3.0 KP) te hê. Indien die gehalte en hoeveelheid van die beskikbare weiding van so 'n aard is dat hierdie mikpunt (d.i. 3.0 KP) nie haalbaar is nie, moet 'n lek verskaf word. Die tipe lek hang van die tipe weiding asook die gehalte en hoeveelheid daarvan af. 'n Keuse van die volgende lekke is as aanvulling op droë weiding beskikbaar: Produksielekmengsel van Voermol Ekonolek of Winslekkonsentraat; Energieblok of Voermol Produksielek. Skakel dr. Jasper Coetzee vir spesifieke lekaanbevelings en/of -resepte indien ooie nie hulle voorgeskrewe liggaamsmassatoename handhaaf nie.
10. Afronding van speenlammers op aangeplante weiding
Speenlammers wat vir die slagmark bestem is, kan met die gebruik van 'n spesiale deurvloeiproteïenaanvulling asook deur die volg van sekere bestuursriglyne meestal heelwat meer winsgewend op aangeplante weiding as in 'n voerkraal afgerond word. Afgesien daarvan dat die lammers in hierdie stelsel dieselfde groeitempo as in 'n voerkraal kan handhaaf, kan hulle tot 30 dae en sommige gevalle tot 60 dae gouer as dié wat geen byvoeding op die weiding ontvang het nie, afgerond word. Dit het tot gevolg dat meer diere op die weiding afgerond kan word of dat meer weiding vir die res van die kudde beskikbaar is. Voorvereistes vir suksesvolle afronding is goed uitgegroeide (28 – 32 kg) en gesonde lammers wat met Ralgro® of Zeraplix geïnplanteer is en die voorsiening van Voermol Superlamkorrels op 'n digte stand, volop aktief-groeiende, goeie kwaliteit, groen blaarryke en smaaklike aangeplante weiding. Voermol Superlamkorrels moet daagliks in bakke teen 300 tot 500 g/lam/dag gevoer word. Daar moet voldoende vreetspasie wees sodat alle lammers gelyktydig kan vreet. Die nodige doserings en entings (multiklostridiale entstof) moet gedoen word voordat afronding 'n aanvang neem.
11. Afronding van speenlammers in 'n voerkraal
Diversifisering word algemeen aanvaar as 'n strategie om die risiko in landbou te beperk. In hierdie verband behoort voerkraalafronding 'n integrale deel van 'n skaapboerdery uit te maak om die risiko te verlaag. Om maksimum wins in 'n voerkraal te realiseer, is dit van kritieke belang om die voerkoste per kg massatoename te verlaag hoofsaaklik deur verbetering van die voeromsetting (kg voer ingeneem/kg massatoename). Dit kan egter nie geskied deur die voerkraalrantsoen goedkoper te maak deur goedkoper grondstowwe (bv. laegraadse ruvoer, newe- en/of afvalprodukte) met 'n lae energiedigtheid en voedingswaarde te gebruik nie omdat dit tot 'n drastiese verlaging van voeromsetting sal lei. Daarenteen, hoe duurder hoë kwaliteit grondstowwe word, hoe belangriker en kritieker raak die gebruik van groeibevorderaars soos voerbymiddels en groeistimulante om die voeromsetting te verbeter en dus wins te maksimeer. Voorvereistes vir maksimum winsgenerering is goed uitgegroeide (28 – 32 kg) en gesonde lammers, suksesvolle aanpassing asook doeltreffende prosessering en uitstekende voerkraal-bestuur en -fasiliteite. Daarbenewens is die voorsiening (drie maal per dag) van 'n hoë kwaliteit gebalanseerde, hoogs smaaklike, energieryke rantsoen met die nodige buffers, ammoniumsoute, groeistimulante, deurvloeiproteïen, 'n reeks minerale en vitamines aan voerkraallammers ewe kritiek. 'n Voorbeeld van so 'n voerkraalrantsoen is: 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon 33 + 80 kg Voermol Melassemeel + 525 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 150 kg gemaalde lusern (20 – 25 mm lengtes). Addisionele aktiwiteite wat uitgevoer moet word, is inplanting van Ralgro® of Zeraplix; toediening van die nodige doserings en entings (multiklostridiale entstof); inspuiting van Multimin, Vitamien A en E asook skeiding van lammers in homogene groepe.
12. Afronding van speenlammers op oesreste of weimielies
Die inname van groot hoeveelhede grane verlaag die verteerbaarheid en inname van droë oesreste (bv. mielieblare en graanstoppels) en kan ook blaasstene, suurpens, swak diere-prestasies en selfs vrektes tot gevolg hê. Grane het verder 'n tekort aan proteïen, veral deurvloeiproteïen, asook kalsium, magnesium, sink en koper wat diereprestasie beperk. Weimielies asook kleingraan- en mielie-oesreste met baie graanpitte is veral geskik vir die afronding van speenlammers, maar is ook 'n waardevolle voedingsbron vir lakterende ooie en vervangingsdiere. Om vrektes as gevolg van suurpens te beperk en terselfdertyd diereprestasie koste-doeltreffend te bevorder, moet Voermol Landelek aan skape (150 – 200 g/lam/dag) op weimielies of oesreste, met baie graanpitte, voorsien word. Diere moet eers vir ongeveer 14 dae voordat hulle na weimielies of oesreste met baie graanpitte geskuif word, geleidelik op die grane en Landelek aangepas word (sien Voermol Produkhandleiding vir korrekte aanpassingsprosedures). Diere wat vir die slagmark bestem is, moet met Ralgro® of Zeraplix geïnplanteer word wanneer afronding 'n aanvang neem.
13. Grootmaak van teelramme
Teelramme moet grootgemaak word onder toestande wat vergelykbaar is met dié waaronder hulle nageslag moet produseer en reproduseer. Die meeste kommersiële skaapprodusente verkies geharde en aangepaste ramme en gevolglik moet jongramme op die veld met geen of minimale byvoeding grootgemaak word. Indien die veld nie 'n groei van minstens 90 g/dag van speen tot prestasietoetsing op 12 of 15 maande ouderdom kan onderhou nie, moet 'n lae vlak (300 – 500 g/ram/dag) van die ramprikkelmengsel (200 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 575 kg gemaalde mielies of heel garspitte) as byvoeding voorsien word. Na prestasietoetsing kan die ramme op die veld met die ramprikkelmengsel (500 – 1 000 g/ram/dag) of met 'n volledige ramrantsoen (200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 425 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 250 kg gemaalde lusern) vir die veilings afgerond word. Die seleksie van teelramme moet baie akkuraat wees omdat die ram tot 75 % van die genetiese verbetering van die kudde bydra. Teelramme moet op grond van die ekonomies belangrike raseienskappe asook hulle BLUP-teelwaardes geselekteer word. Die BLUP-teelwaardes verskaf die akkuraatste aanduiding van die ram se voorspelde teelwaarde. Indien BLUP-teelwaardes nie bekend is nie, moet teelramme op grond van raseienskappe geselekteer word, maar daar moet dan veral gefokus word om die kudde se reproduksietempo te verhoog. Voorkeur moet dus gegee word aan ramme wat gebore is uit moeders wat meer lammers gespeen het as kere wat hulle lamkanse gehad het; meerlinggebore ramme en ramme met ferm en elastiese testes met 'n omtrek van meer as 35 cm op 15 maande (d.i. vir ramme in 'n goeie kondisie) asook ramme met 'n baie hoë geslagsdrang. Ramme met 'n hoë geslagsdrang het meestal 'n baie wakker en lewenskragtige houding; helder en lewendige oë; 'n aggressiewe geaardheid en pers lieste.
14. Samevatting
Doeltreffende byvoedingspraktyke vorm 'n integrale deel van doeltreffende bestuur- en telingpraktyke. Hierdie praktyke moet nie in isolasie van mekaar beskou word nie, maar wel as 'n eenheid, want gesamentlik vorm hulle die basis van 'n winsgewende skaapboerdery. Die strategiese aanvulling van die regte voedingstowwe, veral deurvloeiproteïen asook energie, spoorelemente en vitamines, in die regte hoeveelheid en kombinasies aan weidende diere is van kritieke belang om maksimum en koste-doeltreffende respons te verseker. Terselfdertyd moet 'n baie hoë bestuursvlak gehandhaaf word terwyl bestuurspraktyke voortdurend aangepas moet word. In hierdie verband is dit absoluut noodsaaklik dat 'n doeltreffende en wetenskaplik gefundeerde bestuurs-, siektevoorkomende en gesondheidsbeheerprogram nougeset gevolg moet word en voortdurend aangepas moet word soos nuwe inligting beskikbaar raak. Om 'n hoogs produktiewe skaapkudde te verseker, moet geneties meerderwaardige teeldiere (ideaal om slegs beproefde superieure teelramme te gebruik wat geneties beter is as jou kudde) geselekteer word terwyl onproduktiewe diere (d.i. dié wat nie lam nie of nie 'n lam speen nie) summier en voortdurend uitgeskot moet word.
Om maksimum wins te genereer, moet die produsent sy prioriteite reg kry en fokus op daardie aspekte (bv. reproduksietempo) wat die meeste wins genereer. Om 'n hoë prys en 'n pryspremie vir sy bemarkbare produk te verdien, word die produsent gedwing om 'n gehalte produk en dit wat die mark en die verbruiker vra, te produseer en kan hy nie meer enige hoeveelheid van enige gehalte en wanneer hy wil, produseer nie. Produsente word sterk aangeraai om suksesvolle produsente te besoek en van hulle te leer wat hulle doen om hoogs suksesvol te wees. Hierdie produsente het altyd nuwe idees en beter maniere om dinge te doen. Verder word produsente aangeraai om die nuutste tegnologie te gebruik, want volgens dr. Johan Willemse (2001) gaan 'n produsent baie moeilik sy inkomste teenoor uitgawe verhoog sonder om nuwe tegnologie en bestuursmetodes te gebruik. In hierdie verband is Australiese konsultante dit eens dat die gewilligheid van 'n produsent om nuwe tegnologie en bestuurspraktyke in sy kudde te gebruik, grootliks sy winsgewendheid bepaal. Produsente word versoek om die beste kundiges in dié verband te konsulteer om op hoogte te kom van die nuutste tegnologie asook die mees winsgewende produksiestelsel(s) vir sy spesifieke omstandighede.
Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere
(Telno.: 021 - 8879559; 0833 86 83 82; jasperco@iafrica.com)
12 September 2009
 
5
Gemiddeld: 5 (2 votes)
Jou gradering: Geen
  • 2852 keer gelees
  • Drukker-vriendelike uitgawe
  • Stuur na vriend
  • PDF uitgawe
Nuwe inskrywing

Kommentaar

Onbekende besoeker
24 Aug 2010 21:17

briljant Baie dankie Dit beantwoord baie van my vrae. Geoff Cilliers geoffcilliers@gmail.com

  • antwoord

Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)


Geborgde skakels


Plaassilo's - 'n Blink Gedagte

Kwaliteit Saad

Die toekoms is in jou land

In lyn met die boer

MSD Animal Health

Our brand new website

Daaglikse nuusbrief

Weeklikse nuusbrief

Teken In

  • Registreer as gebruiker
  • Wagwoord vergeet?

E-pos forum

  • Waarom is boere so stil?
  • Soek Atchar in Malelane/Komatipoort area.
  • Hoe meet jy as melkboer jou melk, per kg of liter
  • Boom Lusern en siektes
  • Nekklamp vir beeste
meer...

Gewildste stories

Vandag

  • John Deere-winkel gewild op Nampo
  • Boer aangerand oor begrafnis

Immergroen stories

  • RSS-voere
  • E-pos foto's aan ons

Pas gelees

  • Voedselpryse vererger hongersnood
  • Voedigsbehoeftes van melkbokke
  • Wie is ons?
  • Kontak ons
  • Gebruiksvoorwaardes
  • SMS-diens
  • RSS-voere
  • Teken in op LBW
  • LBW-argiewe
  • Vennote

Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24

Web Development by FormFunction