Hieronder is Gerdie Landman van die Mooimelk Koeihotel van Cookhouse se mening.
Ek antwoord kortliks Hanskalf se vraag sonder om myself as kenner te wil uitgee... dis bloot my ondervinding gegrond op die twee stelsels waarmee ons boer... Het self vir 20 jaar in die Tsitsikamma van weidings met kragvoer aanvulling gemelk... daarna vir die die afgelope 5 jaar op volvoer in die Visrivier naby Cookhouse.
Ek stem saam met Hanskalf - ons moet weer herbesin oor al ons stelsels om die regte aanpassings te maak sodat ons in die toekoms kompeterend kan melk...! My standpunte is met goeie bedoelings geskryf, tog wil ek nie voorgee dat dit die enigste standpunte oor die onderwerp is nie...
- Melkproduksie van weidings af gaan altyd gepaard met fokus op produksie, sonder om noodwendig die verbruikspatroon van melk in ag te neem... en dit beteken seisoenale melkprodusie saam met die gunstige groei van gras in die lente en die somer...
- Direkte melkproduksiekoste van weidings is beslis goedkoper as volvoerstelsels waar daar beduidende meganisasie ter sprake is... maar, dis gegrond op die aanname dat die grond en besproeiingstelsels reeds in plek is... en dis natuurlik nie 'n billike vergelyking nie.
- Om genoeg besproeiingsgrond te besit, waar voer vir die melkkudde geproduseer kan word, kan 'n aardige kapitale uitleg behels... In die Tsitsikamma kos 'n melkplaas met besproeiing nou sowat R100 000 per Ha. Die drakrag is sowat 3 melkkoeie per Ha (Onthou daar moet kos vir die ander 50% onproduktiewe diere in die kudde ook wees) Om dus 200 Ha te koop kos R20 miljoen - sonder die 600 koeie met hul nageslag...
- Dis die groot voordeel van volvoerstelsels... jy kan met 'n melkstal en mark vir konstante produksie deur die jaar, danksy die opberging van kuilvoer, met 'n veel kleiner kapitale uitleg wegspring - omdat jy voer van die 2de buurman van jou af en selfs sover as wat 'n trekker met sleepwa kan ry, kan aanry. Ons ry kuilvoer 30 Km aan met ons eie trok, en dit het groot voordele omdat ons nie al daardie grond hoef te besit nie...
- Die weidingstelsel se nadeel is dat jy koeie hoogstens 3km in een rigting kan laat stap om te gaan wei... dus het jy 'n perk op getalle en melkvolume uit een melkstal.
- Die ander groot voordeel van die volvoerstelsels is dat jy beslis meer markgerig kan produseer, en dus 'n beter jaarprys vir jou melk kan beding... teen laer risiko soos Hanskalf dit self ook stel...!
- Die nagmerrie vir 'n besproeiingsmelkboer as sy water opraak, is dat hy nie gerat is om baie diere te voer nie...!
- Beplan om eers genoeg kuilvoer vir 'n hele goeiseisoen te maak voordat jy begin melk, sodat daar altyd 6 maande se voorraad voer op hande is... en begroot maar daarvoor, dit kan baie geld vasmaak...
OPGESOM - Om by 'n beter antwoord uit te kom, moet jy die volledige som maak, kapitaaluitleg se dienspaaiement is deel van produksiekoste... eers daarna kan mens direkte produksiekoste begin verreken... en as mens op die volvoerstelsel wil melk, gaan kies 'n streek in die land waar voer volop is en waar jy nader aan die markte vir melk is...
Ek glo mens moet dalk die term soos Hanskalf dit stel, verder vat... "Dit is miskien bietjie wyd, maar die hele situasie in die melkbedryf op die oomblik het ander denkwyses na vore laat kom."
Ek en ons seun het onlangs 'n toer onderneem om voerbronne te ondersoek... en hoe klink die volgende vir jou...? Mielies @ R980 per ton (In oestyd) 1ste graad Lusern @ R920 per ton jaarprys, melkprys van R3-20 per liter... afstand van die mark is minder as 200Km...
Maar dan moet jy bereid wees om tussen voerprodusente naby die Gauteng mark te gaan vestig... koop slegs ‘n 100Ha standplaas waar die melkstal en koeie aangehou word...!
Groetnis uit die melkstal,
Gerdie Landman
29 Augustus 2010