Die Potch-lek is 'n ou generasie lek. Daar is tans baie beter lekke wat baie beter en meer koste-doeltreffende response gee.
Hierdie lek moet onder geen omstandighede vir skape gebruik word nie, want weens sy hoë ureuminhoud is die risiko vir ureumvergiftiging baie hoog. 'n Skaap is nie 'n "vleisbees" nie, maar 'n "melkkoei." Indien 'n Dorperooi 'n tweeling soog en haar melkproduksie per kilogram liggaamsmassa word omgewerk na dié van 'n melkkoei, moet 'n melkkoei 30 kg melk produseer om die ekwivalente melkproduksie van die ooi te handhaaf. Met ander woorde 'n skaapooi moet 'n soortgelyke "suiwelmeel" as 'n melkkoei kry.
'n Dorperooi moet die volgende deurvloeiproteïenlek gedurende laatdragtigheid (300 tot 400 g/ooi/dag) en laktasie (400 tot 500 g/ooi/dag) gevoer word: 250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 200 kg gemaalde mielies + 50 kg sout).
Droë ooie moet op volop goeie gehalte droë grasveld een van die volgende onderhoudslekke (100 – 180 g/ooi/dag) gevoer word:
(1) Rumevite Ekonolek (klaargemeng);
(2) Winslekmengsel [250 kg Voermol Winslekkonsentraat + 50 kg gemaalde mielies, heel garspitte of Voermol Melassemeel + 100 kg sout;
(3) Voermol Proteïenblok.
Indien die veld van 'n lae gehalte is of die veld skaars is of die ooie skraal is, moet droë ooie een van die volgende produksielekke (250 tot 350 g/ooi/dag) gevoer word:
(1) 700 kg Rumevite Ekonolek + 300 kg gemaalde mielies of heel garspitte;
(2) 400 kg Voermol Winslekkonsentraat + 400 kg gemaalde mielies of heel garspitte + 150 kg sout;
(3) Voermol Energieblok;
(4) Voermol Produksielek;
(5) Voermol Maxiwol Produksiekorrels.
Op volop goeie gehalte groenweiding kan 'n P6-lek (meng 50 Rumevite P12 met 50 kg sout) teen 17 tot 40 g/ooi/dag aan droë ooie gevoer word. Indien die droë ooie skraal is of vir middragtige ooie, kan op groen aangeplante weiding Voermol Molovite teen 200 g/ooi/dag en op groen natuurlike veldweiding Voermol Supermol teen 250 g/ooi/dag aangevul word om die voorgeskrewe massatoenames te handhaaf. Indien die voorgeskrewe massatoenames nie met hierdie lekke op groenweiding gehandhaaf kan word nie, moet dit om die helfte met gemaalde mielies of heel garspitte gemeng en teen onderskeidelik teen 400 en 500 g/ooi/dag gevoer word.
29 Augustus 2010