|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Ek het Dorper-, Vleismerino- en Dohnemerino-ooie wat in die veld loop. Die ramme wat tussen hulle loop, is Dohnemerino- en Vleismerinoramme.
Die weiding op die plaas is baie goed en sluit 'n tipe bossie in wat die gannabossie genoem word, wat uiters voedsaam vir die skape is. Die plaas is tussen Koffiefontein en Luckhoff.
Ek beplan om lammers op 30 kg in te koop en te voer tot op 'n gewig van 45 kg. Ek wil graag die lammers bedags in die veld laat loop en saans laat inkom waartydens ek die ligte sal laat brand sodat hulle deurnag vreet. Ek wil graag die voerkraalresep gebruik wat aanbeveel is:
125 kg gemaalde lusern (25 mm-sif)
200 kg Voermol SS 200 (V8592)
100 kg Voermol Procon 33 (V12701)
40 kg Voermol melassemeel (V1995)
550 kg gemaalde mielies
1015 kg TOTAAL
Wat sal dit my kos om die mengsel vir 100 lammers te voer met inagneming dat hulle net in die nag daarvan sal eet, tot op 45kg?
Aangesien die grondstofkoste nie verstrek word nie, kan die prys van die voerkraalrantsoen as volg bereken word:
|
Grondstof |
Berekening voerkraalrantsoenprys in Rand/kg |
|
Lusern |
0.1232 x prys van lusern in Rand/kg = R |
|
Voermol SS 200 |
0.1970 x prys van SS 200 in Rand/kg = R |
|
Voermol Procon |
0.0985 x prys van Procon in Rand/kg = R |
|
Voermol Melassemeel |
0.0394 x prys van Melassemeel in Rand/kg = R |
|
Mielies |
0.5419 x prys van mielies in Rand/kg = R |
|
|
Die prys van die voerkraalrantsoen (in Rand per kilogram) word verkry deur bogenoemde bedrae bymekaar te tel. |
Afhangend van die ras; genetiese groei- en voeromsettingspotensiaal van die lammers; gehalte en hoeveelheid weiding beskikbaar; tyd van die jaar; temperatuur; reën, wind en koue; lengte van die lammers se wol; die afstand wat die lammers moet loop van die voerkraal na die weiding; hoeveel keer per dag (oggend en aand) die lammers gevoer word, ensovoorts kan gespekuleer word dat hulle ongeveer 1.2 tot 1.5 kg voer per dag sal vreet.
Deur die daaglikse voerinname (in kg/lam) met die voerkraalrantsoen se prys (Rand/kg) te vermenigvuldig, word die daaglikse voerkoste per lam verkry. Deur die daaglikse voerkoste met die aantal staandae in die voerkraal te vermenigvuldig, word die totale voerkoste per lam vir die hele voerperiode verkry. Die aantal staandae kan bereken word deur die massa wat in die voerkraal aangesit moet word, naamlik 15 kg te deel deur die groeitempo van die lammers (in kg per dag). Indien die lammers byvoorbeeld 0.280 kg/dag groei, is die aantal staandae 54 dae en indien hulle 0.325 kg/dag groei, is die aantal staandae 46 dae.
Hoe meer die lammers van die voerkraalrantsoen vreet, hoe gouer sal hulle afrond, maar hoe minder sal hulle van die weiding vreet. Dit is egter 'n baie beter opsie om die lammers aanvanklik op die veld te laat groei (backgrounding) tot 'n seker massa (± 35 tot 38 kg) en hulle daarna voltyds na die voerkraal te skuif en finaal vir die slagmark af te rond. Tydens "backgrounding" op die veld kan die lammers as volg stadig en geleidelik op die voerkraalrantsoen aangepas word en wanneer hulle dan permanent na die voerkraal geskuif word, is aanpassing nie nodig nie:
(1) voer die lammers die eerste dag slegs 100 g/lam van die Voerkraalrantsoen;
(2) verhoog die voedingspeil van die Voerkraalrantsoen elke dag daarna met 100 g/lam, m.a.w. Dag 2: 200 g/lam; Dag 3: 300 g/lam, ensovoorts totdat 'n peil (ad lib.) bereik word waar hulle begin om van die voer te los;
(3) voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte in die oggend en die ander helfte laatnamiddag;
(4) sorg dat daar voldoende vreetspasie (± 250 tot 300 mm/lam) is sodat al die lammers gelyk kan vreet, m.a.w. moenie selfvoerders gebruik nie, want dan gaan die lammers hulle aanvanklik oorvreet wat tot laminitis, suurpens en vrektes aanleiding kan gee, en
(5) na die aanpassingsperiode (eerste 10 dae) moet die daaglikse hoeveelheid voer verkieslik drie maal (oggend, middag en laatnamiddag) per dag gevoer word.
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
21 Mei 2011
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24