Voedingsbehoeftes van ooie

Vraag

Wat is die voldoende hoeveelheid voer van 'n gebalanseerde rantsoen wat 'n ooi per dag benodig vir onderhoud en produksie. En natuurlik wat is die beste rantsoen vir die onderskeie stadiums. Die gedagte is om na 'n intensiewe stelsel oor te beweeg.

Antwoord

Deur: Dr. JASPER COETZEE

Volgens die Amerikaanse handboek, NRC (2007), benodig 'n 60 kg ooi ongeveer 1 kg voer per dag (op droë materie-basis) vir onderhoud en gedurende laatdragtigheid 1.65 kg/ooi/dag indien sy met 'n tweeling dragtig is. Gedurende laktasie verhoog dit na 1.8 kg/ooi/dag.

 
Die volgende rantsoen kan vir onderhoud gebruik word:
            500 kg gemaalde lusern (25 mm-sif)
            250 kg gemaalde mielies
            240 kg Voermol Melassemeel
            990 kg TOTAAL
 
Die volgende produksierantsoen kan vir laatdragtige ooie vanaf vier weke voor lam en vir lakterende ooie gevoer word:
            375 kg gemaalde lusern (25 mm-sif)
            350 kg gemaalde mielies
            100 kg Voermol Maxiwolkonsentraat
            100 kg Voermol Procon
             80 kg Voermol Melassemeel
         1 005 kg TOTAAL
 
Onder plaaslik omstandighede is gevind dat bogenoemde voedingspeile van die NRC vir Suid-Afrikaanse omstandighede en tipe skape te laag is. Tans word onder intensiewe omstandighede aanbeveel dat ooie met 1-lingfetusse na aanpassing ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaammassa en dié met 1-linglammers ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % van liggaammassa gevoer word. Voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte van die voer in die oggend en die ander helfte laatnamiddag.
 
Dit is nie ekonomies geregverdig om ooie voltyds onder 'n zero-beweidingstelsel aan te hou en te voer nie. Dit is wel ekonomies geregverdig indien ooie vanaf vier weke voor lam in intensiewe toestande gevoer en hulle lammers vroeggespeen (70 – 84 dae) word. In hierdie stelsel moet die lammers kruipvoeding (150 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 625 kg gemaalde mielies) gevoer word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
 
18 Julie 2010

Addisionele dokument

4.666665
Gemiddeld: 4.7 (3 votes)
Jou gradering: Geen