Dit is nie ekonomies geregverdig om slegs een lek regdeur die jaar te voer nie omdat ooie verskillende behoeftes gedurende die verskillende fisiologiese stadiums het. Indien slegs een lek gebruik word, kan ooie dus op een stadium oorvoer en op 'n ander stadium ondervoed word. Indien slegs een lek gevoer word, moet 'n baie goeie lek (d.i. Voermol Maxiwolgebaseerde lek) gevoer word anders gaan dit hoë lamvrektes en swak lamgroei tot gevolg hê. In hierdie geval moet die volgende opsies oorweeg word:
Opsie 1:
Meng 250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat met 200 kg gemaalde mielies en 50 kg sout. Hierdie lek kan vir beide laatdragtige (300 tot 400 g/ooi/dag) en lakterende ooie (500 tot 600 g/ooi/dag) gevoer word.
Dieselfde lek kan vir droë (150 – 200 g/ooi/dag) asook vroeë en middragtige ooie (250 tot 300 g/ooi/dag) gevoer word. Aangesien hierdie lek se inname vir hierdie klas ooie beperk word, is die enigste manier om dit te voer om dit op so 'n wyse te voer dat elke ooi haar deel kry. Voer dit daagliks of elke tweede dag, maar sorg dat daar voldoende vreetspasie (± 350 – 400 mm/ooi) is sodat al die ooie gelyktydig kan vreet. As alternatief kan in plaas van hierdie lek Voermol Energieblok (eerste keuse) of Voermol Maxiblok (tweede keuse) vir droë, vroeë en middragtige ooie gevoer word.
Opsie 2:
In plaas van 'n lek kan die volgende volledige rantsoen (Lammerooirantsoen) vir laatdragtige en lakterende ooie gevoer word: 375 kg gemaalde lusern (25 mm-lengte) +
350 kg gemaalde mielies + 100 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 100 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel. Volg die volgende voedingsinstruksies:
(1) Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet alle lekbyvoeding gestaak word om te verhoed dat die diere te veel ureum inneem.
(2) Wanneer die Lammerooirantsoen gevoer word, moet daar altyd voldoende vreetspasie (langwol ooie: ± 450 – 500 mm/ooi; kortwol ooie: ± 400 – 450 mm) wees sodat al die ooie gelyktydig kan vreet. Voer Lammerooirantsoen daagliks.
(3) Aangesien die Lammerooirantsoen ureum bevat, moet die maksimum inname nie 3.5 kg per ooi per dag oorskry nie, want anders kan die diere van ureumvergiftiging vrek. Indien die ooie meer as 3.5 kg/dag gevoer moet word, moet met my in verbinding getree word sodat ek dit kan herformuleer.
(4) Die ooie moet stadig en geleidelik op die Lammerooirantsoen aangepas word om laminitis, suurpens (asidose) en moontlike vrektes te voorkom. Indien ooie in lamkampe of lamhokke laat lam word, moet die ooie vanaf ses weke voor lam geleidelik op die Lammerooirantsoen op die veld aangepas word. Begin ses weke voor lam met 250 g Lammerooirantsoen/ooi/dag en verhoog dit weekliks met 250 g/ooi/dag sodat hulle een week voor lam op 1 500 g/ooi/dag is. Hulle kan dan een week voor lam na die lamhokke of lamkampe geskuif word waar hulle ad lib. gevoer word.
(5) Voer ooie met 1-lingfetusse ± 2.5 % en dié met 2-lingfetusse ± 3 % van liggaamsmassa en dié met 1-linglammers ± 3 % en dié met 2-linglammers ± 4 % van liggaamsmassa. Voer elke dag se hoeveelheid in twee porsies, die helfte van die voer in die oggend en die ander helfte laatnamiddag.
(6) Die Lammerooirantsoen kan, in plaas van ʼn lek, ook vir laatdragtige en lakterende ooie op die veld as 'n aanvulling gevoer word, maar dan moet daar voldoende vreetspasie (langwol ooie: ± 450 – 500 mm/ooi; kortwol ooie: ± 400 – 450 mm) wees sodat al die ooie gelyktydig kan vreet. Op die veld word, afhangend van die ooie se kondisie en die hoeveelheid veld beskikbaar, ongeveer 500 tot 1 000 g/ooi/dag as 'n aanvulling gevoer. Pas ooie op dieselfde wyse as vir die lamhokke aan.
Die Lammerooirantsoen kan, in plaas van 'n lek, ook vir droë, vroeë en middragtige ooie ooie (500 – 750 g/ooi/dag) gevoer word. Voer dit daagliks of elke tweede dag met voldoende vreetspasie (± 350 – 400 mm/ooi) sodat alle ooie gelyktydig kan vreet.
8 Februarie 2010