Ek benodig raad en hulp: Ek moet my inkomste uit my plaas verhoog en het gedink om "strooise" (vorige bedeling se swart huise) in kampeer plekke te omskep of 'n tipe "animal farm" waar dorps/stadskinders na plaas diere ens kan kom kyk, of kosgee.
Het enige iemand raad/voorstelle en of dit kan werk?
Hierdie idee kan baie goed werk. Die belangrikste vraag is hoe ver is dit vanaf die stad - vir so-iets om te werk het mens voete nodig wat nie ver hoef te ry om die fasiliteite te besoek nie.
Dit is nie so belangrik om te veel aktiwiteite aan te bied nie, maar vandag se kinders wil vermaak word in plaas van om self te speel. Dit sal goed wees as daar voldoende plek en grond en water is om te speel. Goeie braaigeriewe vir die ouers is nodig, genoeg koelte en nie TV of sulke afleiding nie. Ponies en perde kan baie aandag trek, veral as daar iemand is wat kleintjies kan lei op die perd. Maar die grootte van die plek sal bepaal of perde 'n opsie is.
Die behoefte van die stadsmens is hoofsaaklik om buite te kom, die kinders weg te kry vanaf die TV en om aan kinders die kans te gee om aan diere te vat en te raak. 'n Bok of twee is belangrik dat daar gereeld klein bokkies is.
Die bestuur van so 'n plek is belangrik. Dikwels begin mense met so 'n idee maar as gevolg van verwaarlosing gaan dit vinnig agteruit. Probeer om met 'n goeie besigheidsmodel, 'n betekenisvolle deel van die inkomste terug te sit in die besigheid in. Vra alle besoekers se selfoonnommers en/of e-pos adresse en bou so 'n databasis op dat mens vinnig vir hulle kan laat weet as daar kleintjies is of 'n nuwe aantrekkingskrag. Dit is nodig om besoekers wat dit geniet het, gereeld terug te lok, want hulle sal vriende en familie saambring. Die kinders sal vinnig reageer as mens foto's stuur van die nuwe varkies wat gebore is of die nuwe lammers wat aangekom het.
Laastens wil ek sê as betroubare arbeid naby beskikbaar is, sal dit 'n belangrike aantrekking wees as mens die kinders soort van kan neem en oppas terwyl die ouers lekker kan kuier. Die ondernemer moet net besef dat Saterdag en Sondag sy werksdae sal wees en dat vakansiedae 'n geleentheid is.
Geskryf deur Louis Hauman, ‘n boer van Kuruman. louis@soetvlakte.co.za
2 September 2010