Boer as belegging?

Vraag

Is boerdery 'n goeie belegging? As in ag geneem word dat grond jou produksie middel is dan sit ek met 'n opbrengs op kapitaal van 6 persent, wat lyk of dit naby aan die norm is. Is dit nie beter en verkoop boerdery en bele my geld op die aandelemark? (Ten minste kan niemand jou aandele nasionaliseer nie.)

Antwoord

Daar is steeds baie geleenthede in boerdery. Verder wil ek sommer met die intrapslag ook sê dat ek persoonlik nie 'n nasionalisering van plase in Suid-Afrika verwag, soos in Zimbabwe nie. Daar is net te veel op die spel, SA se ekonomie is baie, baie sterker as wat Zimbabwe s'n ooit was en ons is in die wêreldkollig danksy die suksesvolle aanbieding van die FIFA Wêreldbeker-sokkertoernooi. Ek kan ongelukkig geen waarborg verskaf vir my woorde nie want dis net as jy 'n yskas koop wat jy 'n waarborg ook bykry.

Anders as aandele, moet boerdery se opbrengs aan drie goed gemeet word: Eerstens is daar die produksie-inkomste, tweedens is daar 'n beleggingsinkomste en derdens is daar 'n leefwyse. As aldrie saam oorweeg word, is die landbou steeds 'n goeie begelgging. Tweedens moet ons dalk baie verder as die volgende vyf jaar kyk. Landbougrond word al hoe minder en die monde wat in die stede gevoer moet word, al hoe meer. Ek glo dus dat die landbou se resultate aan die hand van aldrie maatstawwe oor 'n langer termyn oorweeg moet word.

Geskryf deur dr. Philip Theunissen philip@computus.co.za  

13 Julie 2010

Addisionele dokument

4
Gemiddeld: 4 (1 vote)
Jou gradering: Geen