Is boerdery die uitleg werd?

Vraag

Is dit in vandag se wereld-ekonomie enigsens selfs die moeite en geld werd om te gaan boer as jy eerstens nie die vaardigheid en tweedens nie die finansiele steun het nie? Ons kyk ook hier na die nationalisering van grond. Ek het onlangs a.g.v. herstruktuering my werk verloor en mag my weg oop sien om kos te produseer, maar as ek kyk wat mens vandag as boer moet deurmaak deur die politiek, geldmarkte en rentes, begin ek wonder want die opbregste is nie meer so lonend soos dit was 15-20 jaar gelede nie en alles bly in die slag.

Antwoord

Deur: Dr. PHILIP THEUNISSEN

Daar was dalk so kort tydjie onder die Nasionale Party se bewind toe dit polities maklik was om te boer, maar andersinds was politiek nog altyd deel van boerdery gewees. Dis hoekom boere aan die Groot Trek deelgeneem het. Dis hoekom boere aan die Boere-oorlog deelgeneem het. Om een of ander rede, wat ek nou sal verduidelik, het boerdery nog nooit só onaantreklik geword dat niemand meer daarvoor kans sien nie.

Boerdery se sukses word nie net aan wins gemeet nie. Daar is twee ander faktore ook, naamlik die beleggingswaarde en die lewenstyl. Beide hierdie twee aspekte het ook 'n finansiële waarde. Selfs in donker tye bly grond en vee se waarde styg, want landbougrond word al hoe minder en mense in die stede wat moet kos kry, raak al hoe meer.

Ek dink net mens MOET jou eie heil op die plaas uitwerk en nie sit en wag dat politici of die georganiseerde landbou jou paadjie vir jou teer nie. Soos enige ander besigheid moet jy self die moontlikhede identifiseer, dan sal die geleenthede oopgaan. Daar is 'n wesentlike persentasie boere met wie dit steeds goed gaan. Probeer om so min as moontlik skuld te maak en pas jou lewenstyl by jou inkomste aan. Laastens: Onthou niemand skuld jou iets omdat jy boer nie, jy doen dit uit eie keuse.

Geskryf deur dr. Philip Theunissen philip@computus.co.za

3 Augustus 2010

Addisionele dokument

5
Gemiddeld: 5 (5 votes)
Jou gradering: Geen