Verhuur van grond

Vraag

Ek het 'n plaas wat ek tans vir baie min verhuur.
Ek wil graag weet wat markverwante huur is vir 'n plaas van 400ha, helfte weiding, helfte lande.
Ek weet dat huur in die residensiele mark, jaarliks rofweg tussen 7-12% van die waarde van die eiendom beloop. Wat is die norm as verhuur word vir 'n deel van die aanteel en deel van die oes? Hoe kontroleer mens die aanteel en oes? Waar kan ek meer hieroor uitvind?
Dankie
Henk

Antwoord

Deur: Dr. PHILIP THEUNISSEN

Jou norm van 7-12% is net so van toepassing op landbougrond ook. Die vraag wat jy jouself moet afvra is of jy die plaas moet verhuur of dit eerder verkoop en die geld, teen 7-12%, in die bank gaan belê. Daarom is 'n bank se beleggingskoers altyd 'n goeie uitgangspunt om te gebruik. Wat egter hiermee saamgaan is vraag en aanbod vir huurgrond, sowel as grond wat in die mark is.

As grond skaars is, is daar 'n premie op die huurtarief. Ja 'n deel van die aanteel of produksie is 'n alternatief maar het ongelukkig nadele ook. Jy sal eerstens die huurder moet vertrou tensy jy vooraf 'n vaste aantal kilogram vleis of graan as vloerprys vasstel.

Die grootste probleem is egter dat deeloeste gewoonlik agterna betaal word terwyl huur vooruit betaal word. Met huur het jy vooruit dus reeds jou geld en jy kan betyds 'n ander huurder soek as die huidige een nie sy verpligtinge kan nakom nie. Met deeloeste gebeur dit baie dikwels dat die huurder na afloop van die oes met die hoed in die hand en lang trane by jou aankom en grasie vra omdat die oes of pryse dan kwansuis nie so goed was as wat hy gedink het dit gaan wees nie.

Onthou die banke of koöperasies maak gewoonlik eers die boer se produksierekening skoon voordat hulle geld begin uitkeer. So tensy jy die huurder verplig om 'n hoeveelheid graan sommer direk op jou naam te lewer is daar altyd die moontlikheid dat daar te min geld uitgekeer gaan word om jou deeloes te kan betaal.

Dr. Philip Theunissen
COMPUTUS
Finansiële & Forensiese rekenmeester
Sel: 082 378 2335

14 Januarie 2010

Addisionele dokument

0
Geen gradering nie
Jou gradering: Geen