Vervaardiging van landboutoerusting
Vraag:
Ek het 'n fyn saad groenteplanter ontwikkel. Daar is nog net een prototipe wat met die hand gebou is, maar dit het in die afgelope seisoen egter uitstekende resultate gelewer met verskeie gewasse.
Die prototipe is nie van 'n bemarkbare gehalte nie (i.t.v. afwerking ens.), maar maak gebruik van 'n baie belowende en unieke konsep.
Ek besef hierdie is nie heeltemal 'n landbou-ekonomies kwessie nie, maar ek het tog een of twee vrae:
Waar kan 'n mens na finansiering kyk vir die behoorlike ontwikkeling van die produk en die benodighede vir groter skaal vervaardiging? Ek verneem dat 'n bank hier kan help gegewe 'n behoorlike besigheidsplan opgestel is en sekuriteit daar is. Kan 'n mens in die geval die produk iewers bekend stel (bv. Nampo) en belangstellendes kry om te bestel (as oortuiging vir die bank)?
Verder, wat is die stand van die SA- en buurlandmark aangaende sulke implemente? Soos ek verstaan is behoorlike groenteplanters peperduur, en die onderhoud op ander goedkoper planters nou weer 'n kopseer. Die betrokke produk kan bogenoemde beslis klop in die argument, veral op die aankoopprys van die duurder modelle. Dit impliseer egter nie noodwendig dat genoeg eenhede verkoop sal word om die aanvanklike kapitaalinset gou genoeg te delg nie. Om saam te vat; is die mark in u opinie dus groot/gewillig genoeg vir so 'n produk om van die grond af te kom?
Laastens, is dit aanbevole om intellektuele eienaarskap oor die konsep te verkry? In my opinie voldoen die produk aan die veresites om as patent geregistreer te word. Die kostes verbonde aan die patenteondersoek is egter skryend en kan 'n fatale hap uit die saadkapital vat.
Baie dankie, u antwoord sal baie waardeer word.
Antwoord:
Ek weet nie hoe groot jy wil gaan nie maar as jy soos in 'n eie fabriek wil oprig kan jy na die IDC (Nywerheidsontwikkelingskorporasie) gaan maar dan moet dit 'n projek van miljoene rande wees. As alternatief kan jy dalk jou konsep na 'n bestaande vervaardiger van landboutoerutsing vat. Daar is verskeie plaaslike vervaardigers, soos GC Tillage, Radium, Rovic en Leers, Erdvark, ens. Hulle het reeds die masjinerie en bemarkingskanale om projekte van die grond af te kry.
Ek deel jou siening oor patentereg. DIt kos duur en is nie regtig so beskermend nie.
Geskryf deur dr. Philip Theunissen philip@computus.co.za
27 Julie 2010
27 Julie 2010
2886 keer
gelees |
1 kommentaar