Wie smous met BK’s?
Vraag:
Mnr. Nico van Gijsen het al vantevore uitlatings in sy rubriek gemaak wat my onder die indruk gebring het dat hy met sy teoretiese veralgemenings nie in voeling is met wat werklik in die praktyk in boerderye aangaan nie.
Antwoord:
Met sy rubriek in Landbouweekblad van 27 April 2012 getiteld “BK’s kan jou goed laat opdok vir belasting” het Mnr. Nico van Gijsen weer gedoen maar terselfdertyd uit sy pad gegaan om die rekenmeestersprofessie verdag te maak. Dit is veral laasgenoemde wat my genoop het om die gebruik van BK’s deur rekenmeesters in perspektief te stel.
Om die gebruik van BK’s by boerderye as bloot ‘n gesmous af te maak is van alle waarheid ontbloot, hetsy uit ‘n belasting- of boedelbeplanningsoogpunt:
Eerstens is BK’s by afsterwe DIE ideale voertuig vir kontinuïteit. Omdat dit ‘n regsentiteit op sy eie is word die bates binne die BK nooit by afsterwe aan die eksekuteur oorgedra nie. Slegs die ledebelang vorm deel van die boedel. Die BK se bankrekening bly aktief en sy koöperasierekening bly ook steeds aktief. Die seun, of dan die vrou, kan voortgaan met die boerdery en niks word bevries nie. Bygesê as hulle die nodige tekenregte het en self ook, hoe gering ookal, ‘n ledebelang in die BK het met die verwagting dat die res van die belang vanuit die boedel hulle sal toeval.
Tweedens is dit ook DIE ideale voertuig by erfopvolging. Die pa kan terwyl hy lewe ‘n jong seun geleidelik by die boerdery se eienaarskap betrek deur periodiek klein gedeeltes van die belang na die seun oor te dra namate die seun meer verantwoordelikhede kan hanteer. Wanneer die pa aftree of te sterwe kom, gaan die res van die belang na die seun sodat hy dan die eienaar van die boerdery word. Geen ander entiteit bied die voordeel van geleidelike oordrag in proporsies nie. Maatskappye bied ook hierdie voordeel maar Mnr. Van Gijsen se argumente oor BK’s geld eweneens vir maatskappye ook in sy genoemde rubriek omdat die belasting en eienaarskap in wese dieselfde is.
Derdens is BK’s BY VERRE ‘n beter voertuig as ‘n vennootskap waar twee broers wil saam boer of waar twee boere ‘n gedeelte van hulle boerderye as gesamentlike onderneming wil aanpak. Dit maak net die aanspreeklikheid baie eenvoudiger omdat privaat bates nie deel van die gesamentlike onderneming uitmaak nie. Verder ontbind enige vennootskap wanneer ‘n vennoot uittree of te sterwe kom. Dit is nie die geval met ‘n BK nie.
Vierdens ignoreer Mnr. Van Gijsen pertinent die enorme inkomstebelastingvoordele wat ‘n BK aan ‘n boer bied en is die titel van sy artikel ‘n volslae misleiding in dié verband. Die belastingkoerse (2013) vir individue begin by nul en styg daarna met intervalle tot ‘n maksimum van 40% wanneer die belasbare inkomste hoër as R617 000 is. Op R346 000 is die koers 35%. ‘n Gewone BK betaal deurgaans belasting teen ‘n koers van 28% terwyl trusts deurgaans teen 40% belasting betaal. Ons “BK-smouse” kan egter in die meeste gevalle ‘n boer se BK as kleinsake-onderneming (SMME) klassifiseer en die volgende koerse geld vir so ‘n onderneming:
Belasbare Inkomste --- Belastingkoers
0 – R63 556 Koers 0%
R63 557 – R350 000 Koers 7%
R350 001 en hoër Koers 28%
Kom ons maak nou die belastingsom vir die vier moontlike opsies vir ‘n boer met ‘n belasbare inkomste van R350 000:
Inidividu: R 81 500
Trust: R140 000
BK: R 98 000
BK (SMME): R 20 051
Selfs al is die BK nie ‘n SMME nie, kan die belastingkoers van die boerdery ten slegste op 28% in ‘n BK vasgepen word terwyl dit by ‘n individu tot 40% kan beloop. Sodra die boer as individu se belastingkoers dus meer as 28% beloop, is dit meer voordelig om die gedeelte bo dit in ‘n BK te belas. Ek kan dus nie sien waar ‘n BK “jou goed laat opdok vir belasting” nie.
So, mnr. Van Gijsen, as ek ‘n boer ten minste R61 449 per jaar aan belasting kan bespaar en ek kan nog sy erfopvolging ook vergemaklik, het die gehamer op ‘n BK niks met ‘n gesmous te doen nie maar dra ek baie beslis my kliënt se belang op die hart.
* Dr. Philip Theunissen is 'n lid van die SA Instituut van Professionele Rekenmeesters (SAIPA).
7 Mei 2012
7 Mei 2012
3734 keer
gelees |
3 kommentaar