Wie smous met BK’s?

Vraag:

Mnr. Nico van Gijsen het al vantevore uitlatings in sy rubriek gemaak wat my onder die indruk gebring het dat hy met sy teoretiese veralgemenings nie in voeling is met wat werklik in die praktyk in boerderye aangaan nie.

Antwoord:

Met sy rubriek in Landbouweekblad van 27 April 2012 getiteld “BK’s kan jou goed laat opdok vir belasting” het Mnr. Nico van Gijsen weer gedoen maar terselfdertyd uit sy pad gegaan om die rekenmeestersprofessie verdag te maak. Dit is veral laasgenoemde wat my genoop het om die gebruik van BK’s deur rekenmeesters in perspektief te stel.

Om die gebruik van BK’s by boerderye as bloot ‘n gesmous af te maak is van alle waarheid ontbloot, hetsy uit ‘n belasting- of boedelbeplanningsoogpunt:

Eerstens is BK’s by afsterwe DIE ideale voertuig vir kontinuïteit. Omdat dit ‘n regsentiteit op sy eie is word die bates binne die BK nooit by afsterwe aan die eksekuteur oorgedra nie. Slegs die ledebelang vorm deel van die boedel. Die BK se bankrekening bly aktief en sy koöperasierekening bly ook steeds aktief. Die seun, of dan die vrou, kan voortgaan met die boerdery en niks word bevries nie. Bygesê as hulle die nodige tekenregte het en self ook, hoe gering ookal, ‘n ledebelang in die BK het met die verwagting dat die res van die belang vanuit die boedel hulle sal toeval.

Tweedens is dit ook DIE ideale voertuig by erfopvolging. Die pa kan terwyl hy lewe ‘n jong seun geleidelik by die boerdery se eienaarskap betrek deur periodiek klein gedeeltes van die belang na die seun oor te dra namate die seun meer verantwoordelikhede kan hanteer. Wanneer die pa aftree of te sterwe kom, gaan die res van die belang na die seun sodat hy dan die eienaar van die boerdery word. Geen ander entiteit bied die voordeel van geleidelike oordrag in proporsies nie. Maatskappye bied ook hierdie voordeel maar Mnr. Van Gijsen se argumente oor BK’s geld eweneens vir maatskappye ook in sy genoemde rubriek omdat die belasting en eienaarskap in wese dieselfde is.

Derdens is BK’s BY VERRE ‘n beter voertuig as ‘n vennootskap waar twee broers wil saam boer of waar twee boere ‘n gedeelte van hulle boerderye as gesamentlike onderneming wil aanpak. Dit maak net die aanspreeklikheid baie eenvoudiger omdat privaat bates nie deel van die gesamentlike onderneming uitmaak nie. Verder ontbind enige vennootskap wanneer ‘n vennoot uittree of te sterwe kom. Dit is nie die geval met ‘n BK nie.

Vierdens ignoreer Mnr. Van Gijsen pertinent die enorme inkomstebelastingvoordele wat ‘n BK aan ‘n boer bied en is die titel van sy artikel ‘n volslae misleiding in dié verband. Die belastingkoerse (2013) vir individue begin by nul en styg daarna met intervalle tot ‘n maksimum van 40% wanneer die belasbare inkomste hoër as R617 000 is. Op R346 000 is die koers 35%. ‘n Gewone BK betaal deurgaans belasting teen ‘n koers van 28% terwyl trusts deurgaans teen 40% belasting betaal. Ons “BK-smouse” kan egter in die meeste gevalle ‘n boer se BK as kleinsake-onderneming (SMME) klassifiseer en die volgende koerse geld vir so ‘n onderneming:

Belasbare Inkomste ---  Belastingkoers
0 – R63 556               Koers 0%
R63 557 – R350 000     Koers 7%
R350 001 en hoër        Koers 28%

Kom ons maak nou die belastingsom vir die vier moontlike opsies vir ‘n boer met ‘n belasbare inkomste van R350 000:
Inidividu: R 81 500
Trust:       R140 000
BK:           R 98 000
BK (SMME):  R 20 051

Selfs al is die BK nie ‘n SMME nie, kan die belastingkoers van die boerdery ten slegste op 28% in ‘n BK vasgepen word terwyl dit by ‘n individu tot 40% kan beloop. Sodra die boer as individu se belastingkoers dus meer as 28% beloop, is dit meer voordelig om die gedeelte bo dit in ‘n BK te belas. Ek kan dus nie sien waar ‘n BK “jou goed laat opdok vir belasting” nie.

So, mnr. Van Gijsen, as ek ‘n boer ten minste R61 449 per jaar aan belasting kan bespaar en ek kan nog sy erfopvolging ook vergemaklik, het die gehamer op ‘n BK niks met ‘n gesmous te doen nie maar dra ek baie beslis my kliënt se belang op die hart.

* Dr. Philip Theunissen is 'n lid van die SA Instituut van Professionele Rekenmeesters (SAIPA).

7 Mei 2012

7 Mei 2012

3734 keer gelees | 3 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans


Johan

2012/07/11 12:47:27 PM

Nuwe BK's kan nie gestig word nie, maar bestaande BK's is nog steeds te koop teen 'n prys natuurlik. Hoe lyk die toekoms vir bestaande BK's en wat is die regering se plan met BK's?


Nico van Gijsen

2012/08/19 05:02:49 PM

Ek het regtig nie die rekenmeesterprofessie verdag probeer maak nie. As dit so oorgekom het, vra ek sonder huiwering om verskoning. Die leser op wie se navraag ek die rubriek gerig het, het teenstrydige "kundighede", van sy prokureur enersyds en van sy ouditeur andersyds ontvang. Vandaar sy vraag, om, net soos baie ander lesers, deur die rubriek in Landbouweekbad 'n juiste antwoord oor kapitaalwinsbelasting in 'n BK te bekom. Dit is jammer as dr. Theunissen se fynvoeligheid oor sy professie dalk sy oordeel beïnvloed het. Hy het 'n terloopse opmerking van my (wat duidelik in die rubriek as sulks uitgewys is) geneem en 'n hele redenasie daaromtrent probeer bou. Een wat nie veel met die onderwerp onder bespreking, kapitaalwinsbelasting, uit te waai het nie. Dit mag hom dalk loon om sy leesgewoontes in die algemeen bietjie op te skerp, want hy mis klaarblyklik ook heelwat ander belangrike stukke inligting en wetgewing. Ek hanteer enkeles. Oor die voordele van 'n BK wat dr. Theunissen so prominent uitlig, is ek dit grotendeels met hom eens. 'n BK kan opvolgbeplanning en dus die voortsetting van die boerdery, of ander onderneming vergemaklik. Daardie rol van BK's is nooit betwyfel nie. Maar, soos wat ek in my rubriek uitgewys het, "in boedelbeplanning het dit weinig waarde". Let wel, nie geen waarde nie, weining waarde. Hoewel BK's byvoorbeeld opvolgbeplanning kan vergemaklik en die voordeel van beperkte aanspreeklikheid bied, is dit ook so dat lede van 'n BK persoonlik aanspreeklik gehou kan word vir die skuld van die BK. Trustbegunstiges daarenteen kan nie aanspreeklik gehou word vir die skuld van 'n trust nie. Daarbenewens kan enige lid van 'n BK skuld gaan maak namens die BK, wat die BK (en ander lede van die BK) bind. Dis net enkele uiters belangrike punte ter sake as 'n mens onafhanklik en wyer na 'n kliënt se behoeftes en risiko's kyk, eerder as om net die produk aan hom te probeer afsmeer. Sy verwysing na SMME's is nog iets wat hy dalk verkeerd verstaan. Nerens in enige wet word SMME's uitgesonder vir 'n gunstiger belastingkoers nie. Wat die wet wel definieer is kleinsakekorporasies (Engels: Small Business Corporations) waaraan bepaalde voorwaardes gekoppel is, wat hemelsbreed verskil van 'n sogenaamde SMME, klein ondernemings wat omtrent enigiets kan insluit. Maar synde dr. Theunissen verkies om belastingsomme te maak eerder as om hom te bepaal by wat ek geskryf het, of by wat die reg in die wyer sin sê, kom ons kyk na sy belastingsomme teenoor die werklikheid van inkomstebelasting in 'n BK. Die 28% belasting waarna hy verwys geld vir die BK. Dit geld nie vir die boer nie. Die BK is 'n aparte regsentiteit en word as sulks belas. Daardie geld is nog lank nie in die hande van die boer of die lid van die BK nie. Voor die boer die geld in sy eie sak kan steek, is daar nog ook dividendbelasting van 15% betaalbaar. Dit, dr. Theunissen, bring die effektiewe belastingkoers vir die boer wie sy bedryf deur 'n BK doen, op 38.80% te staan, nie 28% nie! Die belasting op R350 000 in sy voorbeeld as dit eers deur die BK gaan wat nie as 'n kleinsakekorporasie kwalifiseer nie, is dus nie R98 000 soos dr. Theunissen aan ons wil voorhou nie, dit is R135 000. Teenoor R81 500 (sy eie berekeninge) as die boer in sy eie naam sou sake gedoen het. Voor 'n mens belastingspeletjies begin speel, moet jy nie dalk net eers die reels van die spel leer nie? BK's, soos trusts, het hul gebruike, maar dit is vir ons aan wie kliente hul finansiele toekoms toevertrou belangrik om die waarheid, die volle waarheid en niks anders nie as net die waarheid aan hulle te openbaar. Anders ís ons mos net smouse, of hoe? Nico


2012/12/16 08:01:37 AM

Nico ek is self n rekenmeester. Jy moet geban word om kommemtaar te lewer.

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 12/06/13 19/06/13 %
Beesvleis A2/A3 2771c 2774c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1440c 1432c down -0.6
Skaapvleis A2/A3 4249c 4300c down 1.2
Varkvleis (gem. prys) 1784c 1792c down 0.4
Braaikuikens 1506c 1506c down 0

Aandele

Pricecheck Flights