Sal dit baie waardeer as u my met die volgende kan help:
Ek, my broer en my suster is besig om ‘n stuk grond van 66 Ha saam te koop. Ons wil dit nie in ‘n maatskapynaam koop of registreer nie en ek weet voorheen kon landbougrond nie in meer as een persoon se naam geregistreer word nie.
Het die wet verander? Kan ons dit in ons drie name registreer?
Ons het probeer uitvind by prokureurs, die een se ja jy kan en die ander se weer nee want dit kom neer op onderverdeling wat onwettig is.
Die Wet op Onderverdeling van Landbougrond het verhoed dat plase in kleiner dele opgedeel kan word. Die rede daarvoor was om te verhoed dat die plase te klein word en onekomies raak. Die wet is sedertdien gewysig maar na my beste wete nog nie gepromulgeer nie.
Wat julle wil doen kom nie op onderverdeling neer nie. Julle wil bloot net gesamentlike eienaars wees. Ek het verskeie kliënte wat op hierdie basis woonhuise in die dorp besit en in my opinie kan ek nie sien waarom dit nie ook op plase van toepassing kan wees nie.
Ek kan ongelukkig nie met sekerheid dit sê nie en stel voor jy kontak 'n prokureur wat ondervinding van plaasoordragte het. Jy kan dalk ook 'n Aktekantoor skakel wat vir jou uitsluitsel kan gee (as hulle nie dalk staak nie.)
Geskryf deur dr. Philip Theunisen philip@computus.co.za
31 Augustus 2010