Wil plaas koop

Vraag

Ek wil graag ‘n plaas koop in die Swartruggens-omgewing en het ‘n paar vrae, dis ‘n klein plasie en effe duur maar die veld is baie mooi:
Die grond is reg langs die Elandsrivier, wie kan vir my sê of ek wel water regte het om te pomp uit die rivier uit?
Hoe kan ek uitvind of daar enige grond eise is op die plaas?
Die agent sê daar is 2 boorgate wat nie toegerus is nie, hoe weet ek daar is defnitief water, moet hy vir my ‘n sertifikaat gee?
Is daar enige wette rondom die toespan van ‘n plaas.
Ons is 3 vennote wat die grond wil koop, moet ons dit in ‘n BK koop of wat stel julle voor?
Is daar nog enige iets spesifieks wat voor op die uitkyk moet wees?
Watter bank is deesdae die beste om by aan te klop vir 'n lening?
Kan ek die bogenoemde alles in die koopkontrak noem om myself te beskerm of hoe beskerm ek myself?
Gerhard Dirker

Antwoord

Dr. PHILIP THEUNISSEN

1. Maak absoluut seker van die waterregte by die Dept. van Waterwese. Geen ander dokumentêre bewys is goed genoeg nie.
2. Daar was 'n afsnypunt om grondeise in te dien. Ek wil glo dat die Dept van Grondsake jou hieroor sal kan inlig of daar wel 'n eis ingedien was. Daar kan nie later weer 'n eis kom nie.
3. Vra die agent om iemand wat boorgate boor, te kry om die boorgate te toets en sy verslag aan jou te gee.
4. Daar is nie wette rondom die toespan van 'n plaas nie. Maak net seker jy bly binne die bakens van die plaasgrens. As jy met wild wil boer. moet jy jou provinsie se Afdeling Natuurbewaring kontak want daar is sekere voorskrifte vir sekere soorte wild. Jy kan ook 'n omheiningsertifikaat kry wat jou 'n mate van beskerming gee vir die wild wat binne die omheining loop.
5. 'n BK is in my opinie die beste ondernemingsvorm as daar meer as een eienaar gaan wees. Dit maak dit maklik om een vennoot se aandeel uit te koop of om later nog vennote by te kry. Stel net 'n samewerkingsooreenkoms op om die onderlinge reëlings tussen julle te orden wat onder andere sal bepaal aan wie 'n uitredende vennoot sy belang mag verkoop, of wat die reëling sal wees as een van die vennote te sterwe kom.
6. Maak seker wat die situasie rondom die plaaswerkers se verblyfreg is. Jy mag 'n plaaswerker wat verblyfreg het verskuif, mits jy vir hom van soortgelyke huisvesting voorsien. As daar tans mense met verblyfreg op die plaas bly, moet jy of daarmee vrede maak of dit as 'n verkoopsvoorwaarde stel dat die verkoper hulle op sy koste moet verskuif en van alternatiewe verblyf moet voorsien.
7. 'n Bank is 'n bank is 'n bank ... Die een met die laagste rentekoers en die minste verskuilde bankkoste is die beste bank.

Geskryf deur dr. Philip Theunissen
COMPUTUS
Finansiële & Forensiese rekenmeester
Sel: 0823782335

27 Januarie 2010

Addisionele dokument

4.583335
Gemiddeld: 4.6 (12 votes)
Jou gradering: Geen