Dien kalk korrek toe

Vraag:

’n Doelgerigte program van kalktoediening is nodig om grondversuring teen te werk, die grond te stabiliseer en opbrengste op ’n ekonomies gesonde grondslag te plaas.

Antwoord:

Gewasproduksie vind grootliks plaas op grond wat jaarliks bewerk word. Hierdie bewerkingsproses versteur die ewewig tussen grond, plant en klimaat, en het grondversuring tot gevolg. Dié proses word juis aangehelp deur die onoordeelkundige gebruik van stikstof, veral die gereduseerde vorm daarvan. Die versuringsproses kan suur grond oplewer wat feitlik geen plantegroei meer kan onderhou nie, sê dr. Gawie du Toit van Pretoria, ’n bekende grondkundige raadgewer.

Grond met ’n ligte tekstuur (soos sand- tot sandleemgrond) word besonder nadelig daardeur beïnvloed, hoewel grond met ’n swaarder tekstuur (soos leem- tot sandkleileemgrond) ook aan hierdie vernietigingsproses onderhewig is.

Die toediening van kalk vorm die grondslag vir gesonde gewasverbouing en dus ekonomies doeltreffende voedselproduksie. Daarom word daadwerklike aandag vereis om die grond (die voedselproduksiestelsel) te stabiliseer en op ’n ekonomies gesonde grondslag te plaas en te onderhou. Hiervoor word ’n doelgerigte en dinamiese program van kalktoediening vereis.

Du Toit vertel jare lange navorsingswerk, veral aan die Universiteit van Pretoria en onlangs ook op die Nooitgedacht-proefplaas by Ermelo, dui onteenseglik daarop dat die toediening van hoëgehalte-landboukalk van kardinale belang is vir suksesvolle gewasproduksie. Van die inligting in hierdie skrywe is afkomstig van navorsing deur mnr. Marius van Rensburg van Nooitgedacht.

Die neutralisering van oormatige grondsuurheid deur die regte hoeveelheid landboukalk toe te dien, maak dit vir die boer ook moontlik om met baie minder stikstof-, fosfaat- en kaliumkunsmis (NPK) klaar te kom as waarop die algemene riglyne dui. Dit lei noodwendig tot laerisiko-produksiemiddele, met meer ekonomies doeltreffende oeste en uiteindelik ’n finansieel gesonde landboubedryf.

Die mieliebedryf is die grootste gewasbedryf in Suid-Afrika. Dit vorm ook die grondslag van die vee- en verwante bedrywe, soos vir die produksie van vleis, melk, eiers, kaas en botter, wat dan ook meer ekonomies kan presteer. Uiteindelik kan voedselproduksie, wat vandag die mees strategiese “wapen” in lande se beheer is, waarskynlik tóg ekonomies en teen ’n hoë gehalte geskied. “Voedselsekerheid kan derhalwe só ’n permanente posisie in die land inneem,” sê Du Toit.

Suurheidsgraad van grond
Die suurheidsgraad van grond kan as gesond beskou word by ’n pH (water) van 6,5 of ’n pH (KCl) van 5,5. By hierdie waarde is die toeganklikheid van voedingselemente optimaal en die grondmikrobes funksioneer die beste.

Met gewone grondbewerking en matige stikstofbemesting is die versuringsproses in die grond minstens gelykstaande aan ’n jaarlikse toediening van 1 ton kalk per ha. Hierdie vereiste kan natuurlik groter word, veral met die onoordeelkundige en oormatige toediening van stikstof.

Die beskikbaarstelling van makro- en mikrovoedingselemente deur die grond neem af namate die grond se pH (water) na waardes onder 5 daal (of ’n pH (KCl) van onder 4). Swaar bemesting kan in ’n mate vir kalktoediening instaan, maar teen ’n prys. Die werklike probleem word nie opgelos nie; slegs die simptoom word behandel. Veral die molibdeenprobleem kan net met ’n verhoogde pH herstel word.

Namate die grond verder versuur, word ’n punt bereik waar selfs hierdie swaar toediening van misstowwe (veral met fosfaat) nie meer kan verhinder dat opbrengste daal nie.

Kalkgebruik vir grondversuring
Du Toit sê minstens 1 ton tot 2 ton kalk per ha  is jaarliks nodig om grondversuring wat in ’n seisoen deur mielieproduksie veroorsaak word, op droëlande teen te werk.

Vir die 2,5 miljoen tot 3 miljoen ha  grond onder mielieproduksie in Suid-Afrika sal minstens 3 miljoen ton kalk benodig word om die pH op ’n konstante vlak te hou. Dan word nog nie eens voorsiening gemaak nie vir die omvangryke gevalle waar die pH kritiek laag is en heelwat meer kalk nodig is. Voeg nog al die ander gewasse, behalwe mielies, by wat ook kalk benodig, dan is dit duidelik dat aansienlike hoeveelhede kalk benodig word; waarskynlik minstens 5 miljoen ton per jaar.

Volgens statistiek van die Misstofvereniging van Suid-Afrika word kwalik meer as 1 miljoen ton kalk per jaar vir alle gewasse in die land gebruik; dus is daar ’n geweldige agterstand. “Derhalwe sal ernstige aandag aan hierdie uiters belangrike aspek gegee moet word indien ons gewasproduksie in die algemeen, en mielieproduksie in die besonder, op ’n gesonde, volhoubare vlak in die toekoms wil hou,” sê Du Toit.

Die toediening van goeie gehalte landboukalk om hierdie ongewenste toestand reg te stel, vorm dus die grondslag van suksesvolle mielie- en algemene gewasproduksie. Pleks van geld aan ’n oormaat kunsmis te bestee, sal dit die boer oor en oor loon om eerder geld in kalk te belê. Die resultate spreek vanself. ’n Groter belegging in kalk kan dan lei tot ’n meer realistiese toediening van misstof, met ’n beter oesprestasie en dus groter winsmarge. 

Kontakbesonderhede: Dr. Gawie du Toit (grondkundige), Pretoria  sel: 083 630 1330 ;  e-pos: gmdt@lantic.net

Inligting uit Landbouweekblad, 5 Augustus 2011

11 Oktober 2012

639 keer gelees | 0 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 14/05/13 21/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2814c 2815c down 0
Speenkalf (lewend) 1583c 1552c down -2
Skaapvleis A2/A3 4428c 4430c down 0
Varkvleis (gem. prys) 1766c 1774c down 0.5
Braaikuikens 1483c 1512c down 2

Aandele

Pricecheck Flights