Grond Guru

Droogte op skoolgrond: Soek oplossing

Vraag

Goeie Middag Ons laerskool Tjaart van der Walt in die Oos-Kaap het tans 'n groot probleem met droogte. Ons kan tans glad nie sport oefen of wedstryde speel nie. Met die provinsiale / nasionale droogte kan ons glad nie ons besproeinings stelsel gebruik nie. Ons het al navrae gedoen om te boor vir water. Die tegnikuste wat uitgekom het om die water te toets sê dat ons omring is met soutwater en dat ons glad nie die water kan gebruik omrede dit ons skool se gras sal laat vrek. Nou so 1km van ons af in die noordelike areas is daar soutpanne. Ons vraag is kan ons nie die "boorgat" water gebruik om ons gronde nat te maak nie? Ons het gehoor wat die tegnikus gesê het, maar 'n tweede opinie is altyd welkom. My klein brein sê vir my daar groei gras teen aan die riviere en vleie wat soutwater bevat selfs teen aan ons kus. Hoekom sal sout water dan ook nie vir ons gronde werk nie. Indien daar nou geesins 'n ander uitweg is nie wat sal julle vir ons voorstel om te doen 1) die duur opsie en dan 2) die bekostigbare opsie. Die toestand van ons gronde, dit lyk of dit klei grond is (kliphard), en dan die gras vleg glad nie eers met mekaar nie. Dit lyk soos die van 'n dam of 'n rivier wat droog geloop het. Laaste vraag kry mens iets soos soutgras? Ons is regtig waar al raadop vir die droogte en maak al alternatiewe reëlings om ons sport voort te sit. Ons oefen alreeds op ander velde in Port Elizabeth. Dankie vir julle tyd en moeite om my vraag te lees. Hoop vir goeie nuus Mooi dag verder

Antwoord

Ek neem aan die water van die boorgate is wel getoets en dat die Natriuminhoud (soute) bekend is. Ek gaan ʼn aanbeveling maak bloot op die inligting wat u verskaf het. Dit sal egter steeds die koste en moeite werd wees om wel die boorgat water na ʼn laboratorium vir die bepaling van die NAV (Natrium-adsorpsieverhouding) en ook die weerstand en geleiding daarvan te laat bepaal. Die ontleding sal dit dan moontlik maak om te voorspel wat die effek van die water op die sportvelde se gras sal wees.

Die probleem van besproeiing met brakwater (soutryke water wat baie Natrium, tafelsout bevat) is dat wanneer dit aan die grond toegedien word, die Natrium aan die grond se kleiplaatjies gaan sit. U meld dat die sportvelde uit kleigronde bestaan. Dit gaan die probleem om met brakwater te besproei net vererger. Die kleigronde is gewoonlik swak gedreineer en indien die grond as gevolg van die gebruik van brakwater, verbrak het, kan ʼn mens nie weer ná die tyd die soute uitloog nie. Die soute in die grond, wat aan die klei geabsorbeer is, gaan verhoed dat plante die water kan opneem en die gras gaan baie gou verwelk.

Die soute kan wel uit die water gehaal word deur middel van tru-osmose apparaat. Die kapitale uitleg hiervan is egter baie duur en gebruik baie elektrisiteit wat dit hopeloos te duur gaan maak. Die tegnologie word in die Midde-Ooste gebruik om drinkwater in byvoorbeeld Dubai te maak. Hulle kan dit doen weens die oormaat energie waaroor hulle beskik. Daar is egter nie ʼn goedkoop manier om dit te doen nie. Wees bedag op persone wat sogenaamde wondermiddels verkoop wat die water “sag” kan maak deur een of ander preparaat of vloeistof by die water te voeg. Natrium slaan nie sommer so maklik neer nie (“sak uit”) en word slegs effektief met tru-osmose verwyder.

Grasse wat wel onder braktoestande groei, kan glad nie verkeer hanteer nie en is dus nie vir sportvelde geskik nie. Een opsie is om gryswater te gebruik maar net die tipe wat vanaf storte of baddens afkomstig is. Dalk het u plaaslike munisipaliteit gesuiwerde afvalwater wat gebruik kan word. Die probleem hiervan is dat ʼn mens nooit seker is of dit skoon genoeg is om op sportvelde te gebruik nie.

My enigste oplossing vir u is om die groen “grasmatte” wat ʼn mens by hardewarewinkels en matfabrikate kan koop, te gebruik. Ek hou self glad nie daarvan nie, maar dit is dalk die enigste uitweg. Hier in die Wes-Kaap is dit baie gewild by kleuterskole. Ek dink egter nie ʼn mens sou rugby daarop kan speel nie, jy sal ʼn vreeslike seer “grassburn” opdoen as jy daarop sou val. Ek hoop die reën kom gou, dan is ons probleme opgelos.

* Geskryf deur dr. Eduard Hoffman, voorsitter van die departement grondkunde, Universiteit van Stellenbosch.

20 April 2017

 


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.