Grond Guru

Gebruik van vorige sojaboon-oeste vir saad

Vraag

Ek hoor nou dat ʼn paar manne hier waar ek boer, sê hulle gebruik vorige jare se sojabone-oeste as saad. Hulle beweer dat hulle beter oeste afhaal. Hier is tot self een boer was al agt jaar sy sojasaad van sy land afkry. En almal sê hulle kry beter oeste en dat die sojabone jou grond gewoond raak. Die vraag is, is daar enige meriete in die praktyk? Sover ek weet bepaal jou oes of jy voldoende vog en voedingstowwe in jou grond het.

Antwoord

Ja, jy kan van jou vorige oes se saad plant, mits dit nie bastersaad is nie. Bastersaad is baie keer só deur die saadmaatskappye geteel dat jy nie weer daarmee kan plant en ʼn suksesvolle oes afhaal nie. Die kommersiële saad is ook met Rhizobium ingeënt om met die Stikstofvaslegging deur die plant te help. Rhizobium is egter kommersieel in die handel beskikbaar. Doen ʼn soektog op die internet daarvoor.

U is korrek, die oes gaan hoofsaaklik deur die grondbewerkingspraktyke, beskikbare grondwaterinhoud en die bemesting van die sojas bepaal word. Ek het nog van geen wetenskaplike gehoor dat daar so iets bestaan dat die ʼn plant aan ʼn bepaalde grond gewoond kan raak nie. Die betrokke kultivar mag moontlik net meer aangepas wees of toevallig die regte kultivar vir die betrokke omgewing wees. Dit is algemeen bekend dat sekere kultivars beter in sekere streke vaar. Dit het met die mikro-klimaat en ook die kombinasie daarvan met die betrokke  grond te doen. Dit is altyd raadsaam om na die aanbevelings van sojas vir u streek te kyk en ʼn paar van die kultivars te plant en kyk watter een doen die beste. Alle sukses met u boerdery en ek hoop die reën kom gou.

* Geskryf deur dr. Eduard Hoffman, voorsitter van Grondkunde, Universiteit van Stellenbosch

18 Oktober 2016


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.