Grond Guru

Is ons grond vergiftig?

Vraag

Ons is afgetree op ʼn plaas. My man het groente in een hoek van ons erf geplant. Op een of ander manier moes daar gif in die grond beland het. Moontlik was daar gif gespuit met die houer waarmee die tuin agterna natgegooi is. Ons kan dit nie verklaar nie maar die hele groentetuin het gevrek asook 'n groot boom langsaan. Daar groei lang grasse op die stukkie grond maar geen groente wil groei nie. Waar kan ons die grond laat ontleed en wat sal dit kos. Die grond is reeds vier jaar dood. Ons woon 100km vanaf Port Elizabeth.

Antwoord

Ek neem aan dat u seker is dat dit wel gif is. Indien daar op die gedeelte van die erf wel gif weggegooi is, behoort dit met tyd af te breek en uit die grond te loog. Genoeg water en tyd is hiervoor nodig. Die grond moet dalk net ook goed gedreineer word. Dit kan moontlik ʼn breëblaar-onkruiddoder wees weens die feit dat daar nog wel grasse groei. Die feit dat daar ook ʼn boom is wat gevrek het, laat my wonder of die oorsaak nie iets anders kan wees nie.

Een so moontlikheid is dat die grond dalk te veel Natriumsoute bevat en verbrak het. Indien u gryswater gebruik het om die groente mee nat te maak, is dit die oorsaak. Enige seep bevat Natriumsoute, en veral dié van wasmasjiene. Ek het verskeie soortgelyke probleme hier in die Kaap teëgekom waar mense wasmasjienwater gebruik het om tuine mee nat te maak. Na ʼn verloop van tyd het die gras egter begin vrek. Die Natriumsout word deur die klei in die grond vasgehou. Die sout veroorsaak dat die plantwortels harder moet werk om die water op te neem. Die Natriumsoute in die grond hou die water te sterk vas en die plante verwelk. Jong saailinge, veral sommige groente gewasse, is baie gevoelig vir braktoestande in die grond.

Daar is egter ʼn eenvoudige eksperiment wat gedoen kan word om vir brak te toets. Kyk eers of u nie ʼn witterige sout neerslag op die oppervlak of net onder die grondoppervlak kan sien nie. Kyk of vars kraanwater maklik infiltreer. Indien u ʼn souterigheid sien of die water nie wil infiltreer nie, omdat ʼn grondkors vorm, dan weet u die grond is verbrak. Dit kan egter herwin word deur die toediening van gips. Enige grondlaboratorium kan egter ook vir verbrakking toets, vra spesifiek daarvoor. Ek wil weens etiese redes nie hier spesifieke laboratoriums aanbeveel nie maar doen ʼn internet-soektog daarvoor. Maak net seker die Laboratorium is SANAS-geakrediteer.

Ek sal u egter glad nie aanraai om vir onkruiddoders te toets nie. Die monstertrekking, behandeling daarvan en die ontleding is egter baie duur. So ń ontleding kan tot R2000 per monster kos. Kom ons probeer eers die brak-toets en neem dit dan van daar verder.

Grond is ‘n lewende medium en gaan nooit dood nie! Dit kan toksiese elemente bevat of sekere tekorte het, maar dit kan met die regte behandeling weer herwin word. Sterkte en voorspoed.
* Geskryf deur dr. Eduard Hoffman, voorsitter van die departement grondkunde, Universiteit van Stellenbosch.

** Lees ook dr. PJ Pieterse, departement agronomie, Universiteit van Stellenbosch, se kommentaar hieronder by die vraag:
Ek vermoed dis dalk bromacil. Dis die enigste middel wat ek kon agterkom wat ‘n vyf jaar onthoudingstydperk het nadat dit aangewend is en die dame sê die grond is al 4 jaar “dood”. Dit is ook geregistreer in pynappels wat dit dan redelik moontlik maak dat daar kontaminasie kon wees siende die probleem in die Oos-Kaap is. Iemand wat ek weet wat sulke toetse doen is Absolute Science (http://www.abscience.co.za/) in Pretoria en kontakbesonderhede is 012 803 0331 of garethm@absolutescience.co.za . Ek weet ongelukkig nie wat die koste is nie. Vermoed dit sal redelik duur wees.

19 Maart 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.