|
|
|
| Bygewerk: | 25 May 17:00 IDT |
| Temp: | |
| Druk: | |
| Doupunt: | |
| Humiditeit: | 88% |
| Wind: |
Voer proteïen saam met fosfor in die vorm van 'n oorgangslek in die laat groeiseisoen van grasveld, sê Australiese voedingkundiges.
Ná 'n baie omvattende literatuurstudie beveel McCosker en Winks (1994) van Australië aan dat proteïen saam met fosfor, in die vorm van 'n oorgangslek, in die laat groeiseisoen van die grasveld gevoer word. 'n Oorgangslek stel die produsent in staat om die lek aan te pas soos die voedingswaarde van die natuurlike grasveld verander waardeur optimale diereproduksie en -prestasie verseker word.
Die meeste veeprodusente voer tans 'n fosfaatlek op groen natuurlike grasveld in die somerreënvalgebied. Soos die grasse egter ryp word en vergeel, daal die verteerbaarheid en die voedingswaarde asook die inname daarvan met 'n gevolglike swakker diereprestasie. Tydens hierdie rypwordingsproses is daar dikwels nog heelwat groen loof sigbaar, maar onder sulke toestande is daar reeds 'n proteïentekort. Dit het tot gevolg dat die effektiwiteit van die fosfaatlek drasties afneem. Dit gaan gewoonlik saam met 'n verhoogde fosfaatlekinname. Volgens McCosker & Winks (1994) van Australië kan fosfor nie doeltreffend benut word wanneer die proteïen- en energie-inname van die diere laag is nie. Hierdie navorsers is van mening dat, veral in die hoër reënvalgebiede, beeste op proteïenaanvulling sal reageer terwyl die weiding nog steeds in 'n mate groen is. Plaaslike proewe het ook getoon dat in die suurveldgebiede 'n respons met proteïenaanvulling baie vroeër in die somer (Januarie/Februarie, afhangend van die klimaatstoestande) as wat aanvanklik gemeen is, verkry word. Die voer van beide 'n proteïen- en 'n fosfaatlek om in die diere se proteïen- en fosfaatbehoeftes te voorsien, is nie die aangewese oplossing nie, omdat daar geen waarborg is dat diere beide lekke sal vreet of voldoende hoeveelheid van beide sal inneem nie. Die beste opsie is om dan die Fosfaatlek met 'n Oorgangslek (ook bekend as 'n Herfslek) te vervang wat beide proteïen en fosfaat aanvul asook die nodige minerale en spoorelemente voorsien om sodoende te verseker dat die natuurlike verandering in die veldvoedingswaarde suksesvol oorbrug word. So kan verseker word dat teeldiere in 'n positiewe massabalans bly en selfs nog groei wat reproduksie en produksie bevoordeel.
Die winter van 2005 sal vir lank onthou word as een van die warmste winters in baie jare in die somerreënvalgebied. Dit is gevolg deur 'n voorsomer (tot einde Desember 2005), wat nie uitsonderlik warm was nie, maar met relatief min reën en gevolglike swak groei van die natuurlike veld. Wydverspreide reëns het egter sedertdien in die meeste dele van die somerreënvalgebied geval. In die algemeen is die veld nou kort, maar van 'n baie hoë gehalte. Daar is nog genoeg groeityd vir die veld om saad te produseer, mits dit gespaar word. Die hoeveelheid (volume) weiding wat geproduseer gaan word, sal deur die hoeveelheid opvolgreëns bepaal word. Oorgangslekke word normaalweg verskaf wanneer die voedingswaarde van die grasveld begin daal soos gewoonlik aan die einde van Februarie die geval is. Met die laatreëns lyk dit in hierdie stadium na 'n tipiese "laatjaar" wat tot gevolg sal hê dat daar later as gewoonlik van 'n Fosfaatlek na 'n Oorgangslek oorgeskakel sal word, hoewel met die onvoorspelbaarheid van die klimaat afwykings kan voorkom.
Oorgangslekke vir vleisbeeste
Die doel van 'n Oorgangslek is dus om die dalende voedingswaarde van die grasveld koste-doeltreffend aan te vul om volgehoue diereprestasie te verseker. Speenkalwers baat ook by die addisionele proteïenaanvulling omdat dit sal meehelp dat hulle die winter swaarder sal ingaan en gevolglik massaverlies gedurende die winter sal beperk. Tydens die oorgangsfase van groen- (somer) na droë grasveld (winter) in die somerreënvalgebied word gepoog om daagliks 50 tot 80 g proteïen en 7 tot 12 g fosfor vir beeste deur middel van 'n Oorgangslek aan te vul. Die Oorgangslek, wat 'n lae ureuminhoud het, verminder die gevaar van ureumvergiftiging wanneer diere later na 'n hoë ureumbevattende Onderhoudslek (Winter- of Proteïenlek) oorgeskakel word. 'n Verdere voordeel is dat die diere hulle dan nie aan die hoë ureumbevattende lekke oorvreet indien dit vir die eerste keer uitgesit word nie omdat die oorskakeling geleidelik plaasgevind het.
In die soeter grasveldgebiede word Voermol Superfos (V17422) of 'n Super 18-gebaseerde Oorgangslek [80 kg Voermol Super 18 (V355) + 50 kg Rumevite 12P (V11994) + 50 kg sout] met groot welslae gebruik. In gevalle waar dit nodig is om meer proteïen te voorsien, veral op swakker en suurder grasveld, kan een van die volgende vier Oorgangslekke gebruik word deur van Voermol se Onderhoudslekke of Proteïenlek-konsentrate te gebruik om 'n Oorgangslek te meng.
Oorgangslekke vir skape en bokke
Aangesien skape en bokke baie selektiewe vreters is en hulle 'n baie hoër voedings-behoefte as vleisbeeste het, is die aanbeveling vir 'n Oorgangslek baie meer gekompliseerd. Die spesifieke lek wat vir skape en bokke aanbeveel word, hang, behalwe van die hoeveelheid en gehalte van die weiding, ook af van die dier se fisiologiese status (bv. droog, dragtig, ensovoorts) en sy kondisie. As 'n Oorgangslek vir droë, vroeë en middragtige ooie kan Voermol Superfos of die Super 18-gebaseerde Oorgangslek (20 - 40 g/skaap/dag) op veral soeter grasveld gevoer word. Bekker (1996) is egter van mening dat 'n Oorgangslek vir droë, vroeë en middragtige ooie minstens 25 g proteïen per dier per dag op suurgrasveld moet voorsien. Volgens hom is dit absoluut noodsaaklik dat addisionele proteïen vir hierdie klas diere voorsien word indien hulle 'n massastilstand bereik. Hierdie addisionele proteïen kan voorsien word deur die verskaffing van 105 tot 180 g Rumevite Ekonolek (V11147) of Winslekmengsel [250 kg Voermol Winslekkonsentraat (V17865) + 100 kg sout); 90 tot 140 g Voermol Proteïenblok (V10448) óf 140 tot 250 g Voermol Super 18/dier/dag.
Om egter optimale produksie tydens die oorskakeling van groen na droë weiding te verseker, moet diere met hoë voedingsbehoeftes soos groeiende speenlammers, laatdragtige en lakterende ooie asook ooie tydens paring voldoende deurvloeiproteïen en energie ontvang. Hierdie klas diere behoort, afhangende van die hoeveelheid en gehalte van die weiding, ongeveer 250 tot 400 g/dier/dag van een van die volgende deurvloeiproteïen-gebaseerde lekke gevoer te word:
Maxiwollekmengsel (V4985)
[250 kg Voermol Maxiwol + 200 kg gemaalde mielies of heel kleingrane + 50 kg sout]; Voermol Maxiwol Produksiekorrels (V15415); Voermol Maxiwol Readymix (V7815) & Voermol Maxiblok (V17424).
Samevatting
Die voorsiening van 'n Oorgangslek met die oorgang van groen natuurlike gras na droë gras bevorder die produksie en reproduksie van koeie omdat dit massa- en kondisieverlies beperk. Oorgangslekke word gewoonlik na die eerste swaar ryp met 'n Onderhoudslek vervang. Lekaanvulling moet voortdurend by veldtoestande en die diere se behoeftes aangepas word om optimale produksie en reproduksie te verseker. Reënval is egter bepalend en daarom sal elke produsent sy eie veldtoestande voortdurend moet evalueer om te bepaal wanneer aanpassings in sy leksamestelling of verandering in lekkeuse noodsaaklik is. In die droogtegeteisterde gebiede moet egter produksielekke aan lakterende koeie asook laatdragtige en lakterende kleinvee-ooie voorsien word om produksieverliese te beperk en om lae kalf- en lampersentasies volgende jaar te voorkom.
7 Februarie 2007
Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24