Telkom se torings op plase en privatisering
Vraag:
Net voordat die privatisering van Telkom gebeur het, het ek n
plaas op n eksekusieveiling gekoop waarvoor Telkom R5000 betaal het vir die reg om n Telkomtoring op die grond op te rig,dit was
m.a.w. n eenmalige betaling.Mag telkom hierdie toring nog bedryf
sonder die betaling van n jaarlikse huur vir die grond en die
gebruik en die onderhoud van die toegang daarheen,soos deur Vodacon en Cell-C betaal word. Kan ek nou vergoeding eis vir die
gebruik van en onderhoud van die pad en die terrein deur Telkom
en wie kan ek kontak daaromtrent indien ek dit mag eis.
Antwoord:
Normaalweg registreer instansies soos Telkom serwitute oor die grond waarop hul toring staan. Dit is ‘n kontrak waarin al die regte en verpligtinge van beide die eienaar van die grond en Telkom uiteengesit word. Dit het onder andere betrekking op die termyn van die serwituut, die serwituutgelde betaalbaar deur Telkom aan die eienaar, die onderhoud van die pad en perseel en verskeie ander bepalings soos deur die partye ooreengekom. Die serwituut-ooreenkoms word dan in die Registrateur van Aktes se kantoor geregistreer in die vorm van ‘n serwituut oor die plaas.
U eerste verpligting sal wees om te gaan kyk wat die inhoud van die ooreenkoms bepaal. U kan ook ‘n afskrif daarvan bekom. Kry ‘n prokureur wat toegang tot die inligting in die Aktekantoor het om hierdie inligting/afskrif vir u aan te vra. As u dit self wil doen, kan u die Aktekantoor daaromtrent nader.
Met betrekking tot die serwituut, het Telkom ’n afdeling wat hulle ooreenkomste in die verband hanteer met wie u in verbinding kan tree.
*Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur, Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad. butch@billtolken.co.za
26 Junie 2012
666 keer
gelees |
0 kommentaar