Regskenner

Grensdrade van wildreservaat verwyder

Vraag

Ek besit 'n hoewe in 'n sogenaamde wildreservaat. 'n Meerderheid eienaars het besluit om die grensdrade af te haal sodat die wild vrylik rond kan beweeg. Met die jare is daar 'n komitee gestig. Al die eienaars het nie ingekoop in die idee nie en sodoende word daar nie deur hulle enige bydra gelewer nie. Elke jaar word 'n nuwe komitee gekies. Die hoewes se eienaars het titelregte op hulle eiendom. Die huidige komitee het besluit dat 'n grensdraad afgehaal moet word om in te skakel by 'n ander reservaat. Van ons eienaars is nie te vinde daarvoor nie. My eiendom is op die grens. Ek wil net weet wat is my regte insake die heining. Kan 'n komitee só 'n besluit neem om somer net 'n heining af te haal, want dit gaan 'n impak op ons mense wat naby die grensdraad bly hê want die plek word gebruik as 'n jag plaas.

Antwoord

‘n Stel reëls behoort te bestaan wat van toepassing is op die bestuur van so ʼn wildreservaat, wat ingevolge wetgewing of ordonnansie uitgevaardig is. Indien u nie seker is oor welke van toepassing is nie, sal ʼn goeie idee dalk wees om die stadsbeplanner van die munisipaliteit te besoek, sodat hy u van die regte inligting kan voorsien. U kan dan die betrokke inligting wat op wetgewing of ordonnansie gebaseer behoort te wees gebruik om vas te stel watter prosedures gebruik moet word en watter stemreg van toepassing is. U kan na aanleiding daarvan vasstel of die komitee wettig optree deur so ʼn besluit te neem om die heining sonder meer te verwyder. Die Omheiningswet bepaal dat daar ‘n grensheining tussen verskillende stukke grond moet bestaan.

* Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad.

3 April 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.