Regskenner

‘Ons wil eksekuteur vra om afstand te doen’

Vraag

Ons as familie wil die Eksekuteur (prokureur) van my oorlede moeder se testament vra om afstand te doen. Wat is ons opsies indien hy nie wil nie.

Antwoord

Die eksekuteur van ʼn boedel word aangestel deur die testateur (oorledene) wanneer hy die testament opstel. Dit was dus sy begeerte dat die eksekuteur in sy testament die afhandeling van sy boedel sou hanteer. Die vraag ontstaan dan hoekom erfgename, wat nie ‘n invloed op die aanstelling van ʼn eksekuteur behoort te hê, begerig is dat die eksekuteur nie die bereddering van die oorledene se boedel behoort waar te neem nie.

Soos u sal waarneem, is erfgename se wense oor wie die hantering van die boedel behoort waar te neem, nie juis van belang – die vraag gaan eerder of die eksekuteur die bepalings van die Boedelwet en sy verpligtinge ingevolge daarvan nakom. Doen hy dit wel, sal nie die Meester of die Hooggeregshof met sy aanstelling inmeng nie. Versuim hy egter sy pligte soos opgelê in die Boedelwet, sal die Meester hom van sy amp as eksekuteur onthef. Erfgename kan hul wel tot die Hooggeregshof wend, indien hul sou wou poog om op goeie gronde ʼn eksekuteur uit sy amp te onthef. Die eksekuteur kan uiteraard self van sy aanstelling afstand doen, indien hy verkies, maar om oom Piet, vir wie oorlede pa al die jare as sy vertroueling beskou het en as eksekuteur in sy testament aangestel het, sonder goeie gronde te vereis om van sy amp as eksekuteur afstand te doen, sal waarskynlik nie slaag nie.

* Geskryf deur Butch van Blerk, direkteur: Bill Tolken Hendrikse Ingelyf, van Bellville, Kaapstad.

19 Maart 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.