Tuis
Gevorderde soek
  • Tuis
  • Nuus
  • Bedrywe
    • Diere
    • Akkerbou
    • Tuinbou
    • Meganisasie
    • Bedryfsake
    • Tegnologie
    • Wiele
  • Die weer
    • Vandag se weer
    • Weervoorspelling
    • Weerberigte
    • Gesels saam oor die weer
  • Markte
    • Safex-pryse
    • Aandeelpryse
    • Agri-weekliks
    • Veilingspryse
    • Finansies
    • Varsprodukte
  • Vra die kundiges
    • Vra vir Faffa
    • Dierevoeding
    • Finansies
    • Chemikalieë
    • Regskenner
  • Stoeterye
    • Beeste
    • Skape
  • Jou mening
    • Forums
    • Gespreksforum
    • Boereblogs
    • Peiling
  • Multimedia
    • Foto-albums
    • Video's
    • E-pos foto’s aan ons
  • Potpourri
    • Kos en resepte
    • Boer soek 'n vrou
    • Pretkalender
    • Kalender
    • Jag en gewere
    • Jongste Landbouweekblad
    • Bloktoetse
    • Kompetisies
    • Boeke
  • Geklassifiseerde advertensies
Jy is hier: Kundiges / Verhoog-wins-wolskape

Nuus

SA en Australië deel SKA-projek

Ná jare se beplanning en maande se wag het die SKA-organisasie aangekondig dat Suid-Afrika en Australië dié teleskoop sal deel.

  • Gebrekkige rekord oor grondbesit
  • OBP-entstof weer onder skoot
  • SKA: Suid-Afrika hoor dalk vandag
  • Langklooframphulp: Minister help eindelik
  • Oesskatting in die kol – Graan SA
  • John Deere-winkel gewild op Nampo
  • Bosman wen Jongboer van die Jaar
meer...

Lekkerlees

  • Aktekantoor se inligting oop vir publiek
  • Nampo 2012 - die landbou in al sy glorie
  • Bewerkingstoer na Argentinië
  • Titelaktes van familieplaas
  • Eis teen Transnet nadat plaas afgebrand het?
  • Wie smous met BK’s?

My Weer

  • Voorspelling
  • Vandag
  • My ligging

Kaapstad

  • Vrydag
  • Kans op reën
  • Hoog:18 C
  • Laag:10 C
  • Saterdag
  • Kans op reën
  • Hoog:19 C
  • Laag:9 C
  • Sondag
  • Sonskyn
  • Hoog:19 C
  • Laag:7 C
Sonsopkoms: 7:38
Sonsondergang: 17:46

Kaapstad

Bygewerk:25 May 18:00 IDT
Temp:
Druk:
Doupunt:
Humiditeit:88%
Wind:

Kaapstad

Peiling

Is mentorskap die korrekte oplossing vir die suksesvolle bemagtiging van nuwe boere?:

Verhoog wins by wolskape

Ingestuur deur Janbez op 10 April, 2007 - 12:41

Vraag

'n Hoë speenpersentasie is die sleutel tot ekonomiese welvaart in skaapboerdery. 'n Kenner skryf hoe om dit te vermag.

Antwoord

Deur: Dr. JASPER COETZEE

Om maksimum wins uit skaapboerdery te genereer, moet die produktiwiteit en die doeltreffendheid van skaapboerdery drasties verhoog word. Aansienlike verbetering in beide produktiwiteit en doeltreffendheid is moontlik indien die reproduksietempo (d.i. speenpersentasie) verhoog word (Fogarty, 1984). Wins word hoofsaaklik op grond van produksiedoeltreffendheid en nie soseer net op produkprys nie, behaal.

Massa vleis en wol geproduseer per hektaar per jaar word as die belangrikste winsdrywer in wolskaapboerdery beskou. In hierdie verband speel ooiproduktiwiteit 'n sleutelrol. Die vermoë van ooie om tweelinge te produseer, is waarskynlik die mees belangrike enkele kenmerk om die produktiwiteit van ooie te verhoog (Vakil et al., 1968). Ooie wat tweelinge speen, produseer meer kilogram lam per jaar en gedurende hulle leeftyd en genereer 'n hoër inkomste onder feitlik alle toestande as ooie wat enkelinge speen (Vakil et al., 1968). 'n Hoë speenpersentasie is dus die sleutel tot ekonomiese welvaart in skaapboerdery. Die "bench-mark" vir speenpersentasie (lammers gespeen per ooie gepaar per lamseisoen) en totale massa lam gespeen op 100 dae ouderdom per ooi gepaar per lamseisoen is onderskeidelik vir Merino's (> 125 % speen en > 35 kg lam — die top Merinokudde produseer konstant meer as 44 kg lam per ooi gepaar); Dohnemerino's (> 140 % speen en > 45 kg lam); S.A. Vleis-merino's (> 150 % speen en > 50 kg lam) en Dorpers (> 150 % speen en > 50 kg lam). Bemarkingspersentasie (getal diere bemark as persentasie van ooie gepaar per lamseisoen) gee ook 'n aanduiding van die reproduksiedoeltreffend van 'n kudde. Top kuddes se gemiddeld bemarkingspersentasie per lamseisoen is bykans 140 % en al die lammers word bemark voor die volgende lam-seisoen.

Verskeie strategieë en stelsels is beskikbaar om die reproduksietempo van ooie te verhoog, maar die mate waarin dit gebruik of toegepas kan word, hang van die infrastruktuur, voervloei, bestuursvermoë van die produsent, ensovoorts af. Watter strategieë of stelsels ookal gebruik word, die volle potensiaal van die ooi sal volgens Jelbart en Dawe (1984) slegs realiseer indien skaapprodusente toesien dat:

  • Daar aan die voedingsbehoeftes van laatdragtige en lakterende ooie asook groeiende lammers voldoen word.
  • besetting geoptimiseer word deur doeltreffende ram- en ooibestuur.
  • lamoorlewing geoptimiseer word deur toepassing van doeltreffende bestuur tydens laatdragtigheid en lamtyd.
  • meer lammers gebore word deur die toepassing van meervoudige lamseisoene in gebiede waar voldoende hoë gehalte weiding (bv. aangeplante weiding) vir 12 maande van die jaar beskikbaar is.

    Om vleis- en wolproduksie per hektaar te maksimeer, moet alle strategieë, solank dit koste-doeltreffend is, gebruik word om soveel as moontlik en so swaar as moontlik lammers te speen. In die verband is dit belangrik om daarop te let dat voeding (Rowe & Atkins, 2005) die grootste invloed (beraam op > 70 %) het. Daarbenewens speel genetiese faktore ook 'n belangrike rol hoewel die vordering stadiger is, is dit 'n permanente verbetering. In die Vredebest S.A. Vleismerinostoet van dr. Lourens Swart naby Klapmuts is die afgelope 30 jaar slegs meerlinggebore teelramme gebruik. Die meerlingramme is op grond van 'n vrugbaarheidsindeks geselekteer wat die betrokke ram se moederprestasie in terme van getal lammers geproduseer in ag neem. Hierdie indeks maak dit moontlik om meerlinge met vrugbaarder moeders te identifiseer. Hierdie strategie was grootliks daarvoor verant-woordelik dat die lampersentasie vanaf die aanvanklike 136 % tot die huidige 181 % verhoog is. Dit verteenwoordig 'n verbetering in lampersentasie van gemiddeld meer as 1.5 % per jaar en is in baie goeie ooreenstemming met die maksimum van 2 % wat deur Land (1979) gerapporteer is. Hierdie verhoging in lampersentasie kan hoofsaaklik aan teling toegeskryf word omdat die voeding en bestuur van hierdie stoet oor die jare nie noemenswaardig verander het nie. Dit moet beklemtoon word dat hierdie respons onder baie gemiddelde bestuurs- en voedingstoestande behaal is.

    Vervolgens gaan kortliks van die belangrikste aspekte, wat 'n betekenisvolle bydrae kan lewer om vleis- en wolproduksie per hektaar te verhoog, bespreek word. Hierdie artikel moet aanvullend tot dié wat reeds in die Wolboer gepubliseer is, beskou word.

    Aspekte van belang voor en gedurende paring

    (1) Teelramme

    Die bydrae van die ramme tot 'n hoë reproduksietempo in skaapkuddes kan nie verontagsaam word nie. Aspekte soos die voorbereiding van ramme vir paring, fisiese geskiktheid, vrug-baarheid, dekbehendigheid, gesondheid, fiksheid, regte voeding, wollengte, ensovoorts is kritiek om 'n hoë reproduksietempo te verseker. Met seleksie van teelramme moet voorkeur gegee word aan ramme met die hoogste ekonomiese BLUP-teelwaarde met aanvaarbare bouvorm- en woleienskappe en hoë groeivermoë. Indien hierdie inligting nie beskikbaar is nie, gee voorkeur aan die volgende ramme:

  • Ramme gebore uit moeders wat meer lammers gespeen het as kere wat hulle lamkanse gehad het en verkieslik al hulle lammers suksesvol grootgemaak het.
  • Tweelinggebore ramme met ferm en elastiese testes met 'n omtrek van meer as 35 cm op 15 maande.
  • Ramme met 'n baie hoë libido (geslagsdrang).

    'n Spesiale aanvulling [200 kg Voermol SS 200 (V8592) + 150 kg Voermol Procon (V12701) + 80 kg Voermol Melassemeel (V1995) + 575 kg gemaalde mielies of heel garspitte) moet vir teelramme vanaf twee maande voor paring teen 500 tot 750 g/ram/dag saam met voldoende ruvoer gevoer word. Dit sal help om hulle in 'n uitstekende kondisie te kry en testesgroei te bevorder waardeur spermproduksie verhoog word wat bevorderlik is vir 'n hoë lampersentasie. Daar is aanduidings dat ramme met pers lieste 'n hoër geslagsdrang het, wat meehelp om tweelingpersentasie te verhoog. Die persverkleuring is veral opvallend as die ramme voldoende deurvloeiproteïen (bv. Voermol Procon 33) ontvang het. Fikse ramme met hoë libido dek ooie meermale tydens die periode wat hulle op hitte (bronstig) is waardeur tweelinggeboortes dramaties verhoog word. Die beste toets of maatstaf van 'n ram se vrug-baarheid en libido bly egter die lampersentasie van die ooie waarmee hy gepaar is (Lindsay, 1999). Ramme moet volgens ouderdom by ooitroppe gevoeg word, want 'n dominante ram, gewoonlik die ouer ramme, kan jong ramme so intimideer dat hulle nie in die teenwoordigheid van die dominante ram sal dek nie. Waar drie ramme per 100 ooie gebruik is, was die speenpersentasie 8 % hoër as waar twee ramme met 100 ooie gepaar is (NWKV).

    (2) Teelooie

    Die boonste limiet van 'n ooi se fekunditeit (meerlinggeboortes) word geneties beheer en die mate waarin sy dit bereik, is afhanklik van omgewingsfaktore (bv. voeding) (Downing & Scaramuzzi, 1991). Om 'n hoë lampersentasie te verseker, moet ooie met aanvang van die paarseisoen in 'n uitstekende kondisie (3.5 Kondisiepunt), so swaar as moontlik en in 'n stygende massatoenamefase wees (Rowe, 2003). Vir elke kilogram wat 'n ooi swaarder is met paring, styg die lampersentasie met 1.5 tot 2.5 %. Ooie wat in massa toeneem met paring, is meer geneig om tweelinge te produseer as dié wat massa handhaaf of verloor. Volgens Australiese navorsers is die vetheid van 'n ooi (m.a.w. haar kondisiepunt) 'n aanduiding van haar energiestatus. 'n Lae energiestatus benadeel die reproduksietempo van die ooi omdat energie (oftewel vetheid) reproduksie "dryf" (Adams et al., 2005), met ander woorde hoe beter die kondisie hoe hoër die lampersentasie. Die voorsiening van prikkelvoeding aan ooie wat reeds in 'n goeie kondisie (3 Kondisiepunt) was, het die lampersentasie in 'n Merinokudde met gemiddeld 11 % verhoog (Coetzee, 2006). Daarteenoor toon oorsese navorsing dat ooie wat skraal (2 Kondisiepunt) is se lampersentasie met meer as 33 persentasie-eenhede verhoog kan word indien hulle in 'n uitstekende kondisie (3.5 Kondisiepunt) met paring is (MLC, 2001). In Australië is met behulp van skandering bepaal dat die verwagte lampersentasie van ooie wat vet was, 150 % was teenoor 110 % van die ooie wat maer was (Robertson, 2005).

    Prikkelvoeding kan in die vorm van gespaarde weiding en/of prikkelvoer wees. As prikkel-voer kan sjokoladegraan [200 kg mielies of gars + 25 kg Voermol Korn Kandy (V1551) +
    4 kg CLC gebluste boukalk] teen 300 g/ooi/dag vanaf drie weke voor paring vir minstens ses weke gevoer word. Nuutste navorsing in Australië toon dat 'n beter respons met prikkel-voeding verkry word indien dit daagliks en nie elke tweede of derde dag nie aan ooie gevoer word weens 'n hoër massatoename (Rowe, 2003). Waar sjokoladegraan gevoer word, moet daar voldoende vreetspasie wees sodat al die ooie gelyktydig kan vreet. Ooie moet ook vier weke voor paring en weer vier weke voor lam met Multimin asook Vitamien A en E gespuit word omdat proewe in die Suid-Kaap getoon het dat dit die speenpersentasie met 7 tot 17.5 persentasie-eenhede verhoog het.

    Teelooie moet geen kontak (bv. aanraking, sien, hoor en ruik) met enige manlike diere (bv. ramme, ramlammers, koggel- en bokramme, ensovoorts) vanaf vyf, maar verkieslik agt weke, voor paring hê nie, want dit kan besetting verlaag. Die koggel van ooie met 3 % hoogs aktiewe koggelramme met 'n hoë libido (bv. Afrikaner- of Afrinokoggelramme) vir ongeveer 10 dae kan meerlinggeboortes met tot 21 % in die lente (King et al., 1989) en tot 14.4 % in die herfs verhoog (King, 1994).

    Aspekte van belang gedurende dragtigheid

    Om resorpsie van die embrio's en fetale afsterwing (kan so hoog as 23 % wees) te voorkom, moet ooie gedurende paring en die eerste maand nadat die ramme uitgehaal word nie aan enige spanning (bv. dosering, ent, dip, skeer, skandeer, langafstandvervoer, aanjaag met honde, drastiese verandering van weiding, ensovoorts) onderwerp word nie. Massaverlies moet ook verhoed word deur 'n geskikte lek te voorsien en die voorsiening van skaduwee (bv. bome of skadunet) is noodsaaklik indien temperature van meer as 35 °C voorkom om fetale verliese te beperk.

    Die nuutste Australiese navorsing toon dat waar ooie die volle duur van dragtigheid in 'n goeie kondisie (3 Kondisiepunt) gehou word, die produktiwiteit van die kudde verhoog kan word (Rose, 2006). Volgens Rose (2006) kan 10 tot 40 ekstra lammers per 100 ooie gepaar meer gespeen word indien ooie met lam in 'n goeie kondisie (minstens 3 Kondisiepunt) is. Lamvrektes het gevarieer van 15 tot 28 % waar Merino-ooie in 'n redelike kondisie (2.5 Kondisiepunt) met lam was teenoor minder as 10 % lamvrektes waar ooie in 'n uitstekende kondisie (3.5 Kondisiepunt) was (Rowe, 2003).

    Inname van voldoende deurvloeiproteïen [voorsien deur Maxiwollekmengsel; Voermol Maxiwol Produksiekorrels (V15415), Maxiwol Readymix (V7815) of Maxiblok (V17424)] gedurende laatdragtigheid stimuleer uier-ontwikkeling, verhoog bies- en melkproduksie en verbeter die vloeibaarheid van biesmelk. Dit alles help mee om moedereienskappe van ooie en lewenskragtigheid van lammers te verbeter asook die geboorteproses te vergemaklik en uiteindelik word lamoorlewing en lamgroei verhoog. Die doelwit moet wees om die ooie se voedingspeil sodanig te reguleer dat hulle minstens 15 tot 18 % in massa gedurende laatdragtigheid toeneem. Plaaslike waarnemings toon dat laatdragtige ooie op beide groen en droë weiding, selfs aangeplante weiding onder besproeiing, deurvloeiproteïen in die vorm van Maxiwollekke moet kry om voldoende uierontwikkeling en hoë lamoorlewing te verseker. Die voorsiening van Maxiwollekke aan jongooie wat die eerste keer gaan lam en ooie wat met tweelinge dragtig is van so vroeg as agt weke voor lam, gee uitstekende resultate. Dit beperk lamvrektes en verseker dat ooie voldoende melk onmiddellik na geboorte het wat noodsaaklik is vir hoë lamoorlewing onder veldtoestande omdat dit die vorming van 'n sterk ooi-lamband en die verkryging van passiewe immuniteit bevorder. In 'n paar troppe Merino-jongooie waar hierdie praktyk gedurende 2006 toegepas is, was die lamvrektes so laag as 1 tot 8 %.

    Waar lamvrektes meer as 10 % is, moet sterk oorweeg word om die lamhokstelsel te gebruik, veral vir ooie met tweelingfetusse en moontlik jongooie wat vir die eerste keer lam omdat lamvrektes met hierdie stelsel tot minder as 5 % beperk kan word. Dit volgende volledige rantsoen gee uitstekende resultate in die lamhokke: 375 kg gemaalde lusern (25 mm-lengtes) + 350 kg gemaalde mielies + 150 kg Voermol Maxiwolkonsentraat + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel. Ooie moet vanaf minstens vier weke (soms 6 tot 8 weke) voor lam geleidelik op hierdie rantsoen aangepas word sodat wanneer hulle in die lamhokke kom, hulle dit ad lib. (beperk tot 2.5 kg/ooi/dag om ureumvergiftiging te voorkom) kan ontvang. Hoë lamvrektes is dikwels as gevolg van ensoötiese aborsie en daarom moet alle ooie voorkomend (4 tot 6 weke voor paring) daarteen geïmuniseer word.

    Aspekte van belang gedurende laktasie

    Produsente soek dikwels na 'n verklaring hoekom hulle ooie 'n lae lampersentasie het, al is die voeding en bestuur van hulle ooie op 'n relatief hoë vlak voor paring en gedurende dragtigheid. Verskeie navorsers toon dat 'n voedingsbeperking gedurende vroeë laktasie (eerste twee maande na lam) 'n nadelige invloed op die lampersentasie van ooie in die daaropvolgende lamseisoen kan hê (Hunter, 1962; Smith, 1962, 1966; Fletcher, 1974). Onvoldoende voeding gedurende die eerste twee maande na lam wat meer as 10 % liggaamsmassaverlies van lakterende ooie tot gevolg het, is waarskynlik die heel vernaamste rede vir 'n lae lampersentasie in Suid-Afrikaanse skaapkuddes. Hierdie verskynsel kom voor ten spyte daarvan dat die ondervoede ooie die massaverskil een maand voor paring uitgewis en hulle dieselfde weeg as die ooie wat voldoende voeding ontvang het. Daar is aanduidings dat dit die getal droë ooie verhoog terwyl die aantal tweelinggeboortes ook afneem (Fletcher, 1974).

    Navorsing toon dat, met goeie voeding gedurende die eerste twee maande van laktasie, die daaropvolgende lampersentasie met tot 25 — 51 persentasie-eenhede verhoog kan word. Om hierdie rede word aanbeveel om ooie 300 tot 500 g Maxiwollek [250 kg Voermol Maxiwolkonsentraat (V4985) + 200 gemaalde mielies of heel garspitte + 50 kg sout] of enige van die ander Maxiwollekke vir minstens die eerste twee maande van laktasie te voer. Indien lakterende ooie sappige groenweiding bewei, moet goeie, smaaklike, droë ruvoer (bv. lusernhooi) addisioneel gevoer word omdat dit die inname van voldoende effektiewe vesel verseker, wat op sy beurt weer die bottervetproduksie van ooie verhoog. Hierdie praktyk het op grasklawerweiding die groei van sogende Dohnemerino-lammers binne een week van 143 na 269 g/dag verhoog.

    Om oormatige massaverlies by lakterende ooie te voorkom, moet kruipvoer aan lammers voorsien word in gevalle waar die weiding onvoldoende is of in die geval van ooie wat tweelinge soog en jongooie wat die eerste keer gelam het. Die voorsiening van kruipvoer (150 kg Voermol SS 200 + 150 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 625 kg gemaalde mielies of heel gars) maak dit moontlik dat lammers vroeër gespeen kan word, wat die ooie voldoende kans bied om weer hulle massa te herwin. Lampersentasies is hoër in kuddes waar lammers twee tot drie maande voor paring gespeen word. Met speen moet die ooie in minstens twee groepe volgens kondisie (skraal vs. goeie) verdeel word. Die skraal ooie moet dan op beter weiding geplaas word sodat hulle met die aanvang van die prikkelperiode in 'n goeie kondisie kan wees.

    Met behulp van die soog- en droogmetode moet ooie wat misluk om 'n lam te speen (m.a.w. ooie wat oorslaan asook ooie wat lam, maar nie 'n lam speen nie) asook ooie wat swak en ligte lammers speen, geïdentifiseer word. Hierdie diere moet liefs bemark word. Die inkomste wat daardeur genereer word, moet gebruik word om dragtige ooie, veral dié wat met tweelinge dragtig is, of ooie wat tweelinge soog, te koop.

    Vroegspeen van lammers

    Volgens André Fourie van Anker Agri van Bredasdorp, speen al meer produsente in die Suid-Kaap hulle lammers vroeër, op ongeveer 80 dae ouderdom, wanneer hulle minstens 22 tot
    25 kg weeg. Met vroegspeen word voldoende geleentheid aan die ooi gebied om haar liggaamsmassa voor paring te herwin, wat noodsaaklik is vir 'n volgehoue hoë reproduksie-tempo. Met die vroegspeenstelsel ontvang sogende lammers vanaf ongeveer 14 dae ouder-dom kruipvoer. Kruipvoeding het tot gevolg dat die lammers ongeveer 21 dae gouer hierdie speenmassa bereik as dié wat geen kruipvoeding ontvang het nie. Na speen word die lammers op die beste beskikbare weiding geplaas en word steeds kruipvoer gevoer totdat hulle 'n massa van 30 kg bereik. Indien volop goeie gehalte aangeplante weiding beskikbaar is, word hulle na 30 kg met 'n aanvulling [Voermol Superlamkorrels (V17425)] op dié weiding vir die slagmark afgerond. Indien die weiding skaars is of die gehalte nie na wense is nie, word hulle óf met speen óf sodra hulle 30 kg bereik in 'n voerkraal afgerond.

    Hierdie geïntegreerde stelsel maak dit moontlik om lammers ongeveer twee maande vroeër as die tradisionele stelsel te bemark. Op hierdie plase word die drakrag dieselfde gehou, maar omdat die lammers weens kruipvoeding vroeër gespeen en gouer bemark word weens vinniger afronding met 'n aanvulling op die weiding en/of in 'n voerkraal, kan tot 10 — 20 % meer ooie aangehou word, waardeur vleis- en wolproduksie per hektaar aansienlik verhoog word. Die beste aanvulling (sowat 500 g/lam/dag) om lammers op groenweiding af te rond, is Voermol Superlamkorrels. Met goeie gehalte weiding, voorsiening van Superlamkorrels en die gebruik van 'n oorinplantaat kan dieselfde groei as in 'n voerkraal verkry word. Die beste voerkraalrantsoen is: 150 kg gemaalde lusern (25 mm-lengtes) + 200 kg Voermol SS 200 + 50 kg Voermol Procon + 80 kg Voermol Melassemeel + 525 kg gemaalde mielies of heel garspitte.

    Optimale uitgroei van jongooie

    Ooilammers wat die eerste paar maande van hulle lewe onder voedingstremming verkeer, sal 'n laer ovulasietempo hê en minder lammers in hulle leeftyd produseer as dié wat goeie voeding ontvang het (Williams, 1984). Ooilammers moet 'n baie hoë groeitempo tot speen handhaaf. In omstandighede waar dit nie moontlik is nie, moet kruipvoer verskaf word. Na speen moet ooilammers teen 'n matige tempo groei en in geen stadium voor eerste paring massa verloor nie. Hulle groeitempo moet sodanig wees dat hulle 'n massa van minstens
    60 %, maar verkieslik 70 tot 75 % van volwasse massa bereik indien voor 12 maande gepaar word. Die teikenmassa is minstens 80 % (verkieslik 85 — 90 %) indien op 15 tot 18 maande ouderdom gepaar word. Speenooilammers wat swak voeding tussen 6 en 12 maande ouderdom ontvang het en wat op 18 maande die massaverskil ingehaal het, het 'n laer lampersentasie op tweejaarouderdom gehad as dié wat goeie voeding ontvang het (Esplin et al., 1977). 'n Lae voedingspeil, selfs net vir 'n kort periode, voor 12 maande ouderdom verlaag die leeftydreproduksiepotensiaal van jongooie permanent en onomkeerbaar.

    Seleksie vir hoë reproduksietempo

    In kuddes waar teelwaardes nie beskikbaar is om te selekteer vir massa lam gespeen per ooi gepaar nie, moet soveel as moontlik tweelinggebore jongooie as vervangingsooie gebruik word en voorkeur moet gegee word aan ramme wat as 'n tweeling gebore is. Ooie en ramme wat as meerlinge gebore is, neig om beter te reproduseer as enkelinge. Dormerjongooie wat as tweelinge gebore is, het in hulle eerste en tweede lamseisoen onderskeidelik 27 en 24 % meer lewende massa lam geproduseer as dié wat as enkelinge gebore is (Van der Merwe, 1976). Lampersentasie van ooie wat as 'n enkeling en tweeling gebore is, was onderskeidelik 138 en 152 % terwyl die lampersentasie van enkeling- en tweelinggebore ramme se ooie waarmee hulle gepaar was onderskeidelik 139 en 151 % was (Vakil et al., 1968). Volgens Cloete (1986) was die lampersentasie van enkeling- en tweelinggebore Merino-ooie onderskeidelik 103 en 112 %. Die grootste koste van 'n skaapboerdery is die voer en/of weiding wat vir onderhoud (d.i. 1 kg per 50 kg ooi of 1.2 kg per 70 kg ooi vir 365 dae van die jaar) benodig word. Met 'n hoër reproduksietempo verbeter die doeltreffend van skaapproduksie omdat die koste om 1 kg wol en 1 kg vleis te produseer verminder. Vir vleisproduksie is die doeltreffendheid van ooie met tweelinge 35 tot 50 % beter as dié met enkelinge (Butler et al., 1986).

    Samevatting

    Om massa vleis en wol geproduseer per hektaar te verhoog, moet soveel as moontlik van voorgenoemde stelsels en strategieë gekombineer word. Heelwat ruimte bestaan nog om die winsgewendheid van skaapboerdery te verhoog omdat verskeie opnames toon dat maksimum wins nie gegenereer word nie omdat produsente nie tegnies doeltreffend genoeg is nie. Die eerste stap om die winsgewendheid van 'n skaapboerdery te verhoog, is om die ooiproduktiwiteit in terme van hoeveelheid vleis en wol geproduseer per hektaar te verhoog deur die reproduksietempo van die ooikudde as geheel, en terselfdertyd die groeitempo van die lammers, drasties te verhoog. Om reproduksietempo te verhoog, moet produsente op die verbetering van voedingsbestuur gedurende kritieke tye (voor paring; laatdragtigheid en laktasie) fokus (Rowe, 2004); soveel as moontlik jongooie wat een van 'n tweeling is in die kudde inbring en tweelinggebore teelramme, en wel dié wie se moeders meer lammers gespeen het as wat hulle lamkanse gehad het, gebruik. Optimum voeding gedurende die verskillende fisiologiese stadiums van die teelooi is noodsaaklik vir 'n hoë reproduksietempo, hoë lamoorlewing en hoë lamgroei om te verseker dat die genetiese potensiaal van skaapkuddes bereik word (Fogarty, 1984). Hoe hoër die reproduksietempo hoe meer vervangingsdiere is op seleksie-ouderdom beskikbaar en hoe strenger kan daar geselekteer word waardeur seleksievordering versnel word. Volgens Rowe en Atkins (2005) sal die grootste vordering in produktiwiteit gemaak word deur binne-kuddeseleksie asook die bestuur en voeding van die diere volgens hulle potensiaal. Dit maak nie saak hoe goed die prestasie van 'n kudde is nie, dit kan steeds verbeter word deur seleksie (Caple et al., ongedateer).

    Meervoudige lamseisoene (bv. lam elke 7.2; 8 of 9 maande) kan slegs oorweeg word om vleis- en wolproduksie per hektaar te verhoog, indien die produsent se bestuursvlak en sy kudde se reproduksietempo reeds op 'n baie hoë vlak is en indien 'n uitstekende voervloei (bv. aangeplante weiding onder besproeiing) vir 12 maande van die jaar beskikbaar is. Dit is belangrik om daarop te let dat versnelde lamstelsels nie kan vergoed vir swak bestuur, swak voeding of lae vrugbaarheid nie.

    Afgesien van voorgenoemde riglyne moet 'n doeltreffende siektevoorkomende gesondheids-program (d.i. ent- en doseerprogram) gevolg word.

  • Geskryf deur dr. Jasper Coetzee, Voermol Voere, (Tel no.: 021 - 8879559; 0833 86 83 82) jasperco@iafrica.com)

    10 April 2007

  • 0
    Geen gradering nie
    Jou gradering: Geen
    • 1763 keer gelees
    Nuwe inskrywing

    Geborgde skakels


    Plaassilo's - 'n Blink Gedagte

    Kwaliteit Saad

    Die toekoms is in jou land

    In lyn met die boer

    MSD Animal Health

    Our brand new website

    Daaglikse nuusbrief

    Weeklikse nuusbrief

    Teken In

    • Registreer as gebruiker
    • Wagwoord vergeet?

    E-pos forum

    • Waarom is boere so stil?
    • Soek Atchar in Malelane/Komatipoort area.
    • Hoe meet jy as melkboer jou melk, per kg of liter
    • Boom Lusern en siektes
    • Nekklamp vir beeste
    meer...

    Gewildste stories

    Vandag

    • John Deere-winkel gewild op Nampo
    • Boer aangerand oor begrafnis

    Immergroen stories

    • RSS-voere
    • E-pos foto's aan ons

    Pas gelees

    • Olyfverbouing in SA is eeu oud
    • Kleinboere benodig tegnologie
    • Wie is ons?
    • Kontak ons
    • Gebruiksvoorwaardes
    • SMS-diens
    • RSS-voere
    • Teken in op LBW
    • LBW-argiewe
    • Vennote

    Alle regte voorbehou. © Landbou.com 2011. In Suid-Afrika gepubliseer deur Media24

    Web Development by FormFunction