Drakrag van weiding vir Dorpers

Vraag:

Ek probeer ‘n aanduiding kry van hoeveel Dorpers per hektaar moontlik is? Wat vreet ‘n wit Dorper per dag? Aannames: Grond en gras is optimaal bemes Tipiese Hoёveld reёnvalseisoen (30km oos van Pretoria by Bapsfontein). Geen besproeiing. Weidingtyd: 10hoo vm tot 17hoo namiddag Snags kry skape voorgeskrewe byvoeding in kraal.

Antwoord:

Die opbrengspotensiaal van Smutsvinger/Oulandsgras in u area is ongeveer 6 ton/ha. In goeie reënjare wat goed oor die groeiseisoen versprei is, kan die opbrengs so hoog soos 8 ton/ha wees. Vir beplanningsdoeleindes is my aanname soos volg:

  • Opbrengs van weiding: 6 ton/ha. Hierdie produksie vind plaas in ongeveer 5 maande in die somer.
  • Weidinginname van een kleinvee-eenheid (KVE) wat 50 kg weeg is ongeveer 550 kg per jaar, d.w.s. 1.5 kg/dag.
  • 90 % van die skaap se inname is vanaf die weiding en 10 % is saans in die vorm van byvoeding in die kraal.

Die drakrag vir 5 maande in die somer sal in die orde van 25-30 KVE/ha wees. In terme van ooie met lammers is dit 15-20 ooie/ha vir die 5 maande.

Geskryf deur Hendrik van Pletzen, Tegniese Bestuurder, Voermol (hendrikvp@mweb.co.za) 083456363

19 Julie 2012

Drakrag van weiding vir skape

Vraag:

Ek het 2 ha weiding (gras) van 'n lae gehalte, Pretoria-area, geen besproeiing. Hoeveel skape kan ek daarop laat wei sonder enige byvoeding? Sal wel lek gee. Ek neem aan daar sal ook 'n verskil wees tussen winter en somer?

Antwoord:

Afhangend van die grondvrugbaarheid, tipe grond en jaarlikse reënval asook reënvalverspreiding behoort die drakrag ongeveer twee tot drie skape per hektaar per jaar te wees.

Natuurlike weiding plaas egter 'n perk op die reproduksie- en produksievermoë van skape weens 'n tekort aan kritieke voedingstowwe wat verhoed dat skape volgens hulle genetiese potensiaal produseer. Om maksimum wins te genereer, moet die genetiese potensiaal van skape ten volle ontsluit word (Hatcher, 2005; Ferguson et al., 2007). Dit is dus baie kortsigtig om nie byvoeding te gee nie. Die uiteindelike doelwit van skaapboerdery moet wees om maksimum vleis en wol (in die geval van wolproduserende skape) van hoogstaande gehalte, om 'n pryspremie te verdien, teen die laagste moontlike koste vir 'n spesifieke omgewing per hektaar te produseer. Daar is heelwat produsente, veral in sekere areas, wat baie skepties is oor enige vorm van byvoeding en dit eerstens beskou as 'n onnodige uitgawe en tweedens dat dit aanleiding sal gee tot die teel van minder geharde en wanaangepaste skape. Die ironie is egter dat daar produsente is wat ondanks die feit dat hulle aansienlike bedrae geld aan strategiese byvoeding spandeer, ook die hoogste netto wins uit skaapboerdery realiseer. Strategiese byvoeding is toelaatbaar solank dit die produsent help om meer geld te maak. In hierdie verband is dit baie belangrik dat die regte lekke op die regte tyd (bv. prikkelvoeding, laatdragtigheid en laktasie) gevoer word, want dit kan 'n groot bydrae lewer om die winsgewendheid van skaapboerdery te verbeter. Lekaanvulling is noodsaaklik om weiding meer doeltreffend te benut asook om die omsetting van weiding na 'n bemarkbare produk (bv. vleis, wol, vesel en melk) te bevorder. Dit is verder belangrik om die voedingsbehoeftes van 'n kudde en die voervoorsiening vanaf die voerbronne (bv. veld, aangeplante weiding en lekke) te sinchroniseer (harmonieer). Om dit te kan doen, is dit noodsaaklik om 'n voervloeibeplanning vir elke kudde uit te werk.

Die verlies as gevolg van geen lekbyvoeding word meestal nie in ag geneem nie. Wanneer geen aanvulling op natuurlike veld gegee word nie, kan lamvrektes toeneem en lamgroei afneem. Hierdie verliese kan potensieel hoër wees as die koste van aanvulling (Jolly & Cottle, 2010).

Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)

8 Oktober 2011

8 Oktober 2011

Drakrag van plaas

Vraag:

S T MOKOKA BOERBOKKE: My gebede is verhoor aangesien ek al lank na ‘n plasie soek om op te boer! Ek het hulp gekry om op ‘n stuk grond (440 hektaar) naby Vaalkopdam te huur. Ek het my 20 bokke en 50 beeste vanaf die kommunale gebied by Ramokokastad na die grond verskuif. My vraag is met hoeveel beeste en bokke kan ek op die grond boer? Ek sou ook graag met Dorpers wou boer. Sou dit raadsaam wees? S T MOKOKA E-MAIL mokokast@hotmail.com

Antwoord:

Die dravermoё van die plaas sal die aantal beeste, bokke en skape waarmee op die plaas geboer kan word, bepaal. Een grootvee eenheid (GVE) is ‘n droё koei van 450 kg en ‘n kleinvee eenheid is ‘n ooi van 50Kg. Ses kleinvee eenhede (KVE) is gelyk aan een GVE.

As die dravermoё van die plaas bv. 6 hektaar per GVE is, dan sal jy met ongeveer 66 beeste, of met 50 beeste en 64 skape/bokke kan boer.

Jy kan verseker ook met Dorpers boer, mits jou beplanning (hulle getalle) om met hulle te boer binne die drakrag van die plaas val. Belangrik is dat jy hulle aankoop vanuit die omgewing om onnodige aanpassing van die diere te voorkom.

Die dravermoё van die plaas in die Vaalkopdam omgewing sal jy verkry van die naaste kantoor van die Departement van Landbou.

Geskryf deur: dr. Hannes Dreyer, Veekundige (hannesdreyer@vodamail.co.za)

4 Julie 2010

Lees ook:

http://upetd.up.ac.za/thesis/available/etd-08162007-090126/unrestricted/12chapter7.pdf

http://gadi.agric.za/articles/Herselman_MJ/gve00.htm

19 Julie 2012

1118 keer gelees | 0 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 14/05/13 21/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2814c 2815c down 0
Speenkalf (lewend) 1583c 1552c down -2
Skaapvleis A2/A3 4428c 4430c down 0
Varkvleis (gem. prys) 1766c 1774c down 0.5
Braaikuikens 1483c 1512c down 2

Aandele

Pricecheck Flights