Lammers van verskillende groottes word gebore
Vraag:
Ek en my man het ongeveer ’n jaar en ’n half gelede ons eerste Damaraskape gekoop. ’n Ooi wat ons as ’n lam saam met haar ma gekoop het, het met haar eerste lamtyd ’n tweeling (’n ram- en ooilam) gehad. Die rammetjie was van normale grootte, maar die ooitjie was omtrent helfte so groot as die rammetjie. Toe ons die dooie ooilam drie dae ná die geboorte onder droë kraalmis ontdek het, was ons baie teleurgesteld, maar het aanvaar sy was so klein omdat dit die ooi se eerste lammers was en boonop ’n tweeling.
Maar onlangs, sowat nege maande later, gebeur dieselfde ding met ’n volbek-ooi wat ek in Junie verlede jaar op ’n skou gekoop het. Hierdie keer het ons die ooilam (per ongeluk) raakgesien en deurgehaal. Sy weeg net 1.5 kg terwyl haar boetie 3.5 weeg. Die ooi het aanvanklik glad nie in haar belang gestel nie. Die ooilam was só swak dat sy net plat kon lê. Met behulp van ’n tietiebottel en baie geduld het die ooi haar teruggevat en drink sy nou self aan die ooi.
Ek wil weet wat dit veroorsaak, want dit is duidelik nie aan die ooi se ouderdom gekoppel nie. Hoekom is die een lam helfte so klein en hoekom elke keer die ooilam?
Dit sal wonderlik wees as iemand vir my ’n antwoord hierop kan gee.
MIA SWANEPOEL
Antwoord:
Die ongebore lam (fetus) lê binne-in die plasenta (nageboorte) in die baarmoeder van die ooi. Kort nadat 'n ooi gelam het, word die nageboorte (plasenta) deur die ooi uitgewerp. Op die nageboorte kom ronde “knoppe” voor, bekend as kotiledons (baarmoederkoeke). Ongeveer 16 dae na bevrugting begin die aanhegtingsproses waardeur embrio (later 'n fetus genoem) aan die baarmoederwand begin vasgeheg. Die plasentamembraan is rondom die embrio. In die baarmoederwand is daar spesiale strukture, bekend as karunkels wat dan letterlik “inhaak” by die kotiledons wat op die plasenta voorkom. Hierdie aanhegtingstruktuur (karunkels plus kotiledons) is bekend as 'n plasentoom. Die belangrikste funksie van die plasentoom is om die bloed met die voedingstowwe aan die ongebore lam te voorsien en om afvalstowwe te verwyder (Celi & Bush, 2010). Daar is 'n groot aantal plasentome. Hoe groter en hoe meer plasentome daar is, hoe meer voedingstowwe ontvang die ongebore lam en hoe groter en swaarder gaan die lam met geboorte wees.
In die geval van tweelinge lê elke lam in sy eie plasenta en word die aantal plasentome tussen hulle verdeel. Teoreties behoort elke lam van 'n tweeling ewe veel plasentome te hê. Wanneer een lam van 'n tweeling 3.5 kg en dié ander een 1.5 kg weeg, is hierdie verskynsel heel waarskynlik weens die toevallige en oneweredige verdeling van die aantal plasentome tussen die onderskeie fetusse in die baarmoeder. Met ander woorde die een fetus het byvoorbeeld 60 % van die aantal plasentome en die ander een slegs 40 %. Indien een van 'n meerling kort na aanhegting in die baarmoeder afsterf en geresorbeer word, versteur dit ook die balans van verdeling, in die geval van meerlinge, tussen die twee baarmoederhorings en die grootte van die oorblywende fetusse wat die variasie in die grootte tussen lammers van dieselfde ooi vergroot (Tempest, 1990). Die feit dat dit elke keer die ooilam was wat die kleinste was, is bloot toevallig.
Dit blyk dat die inneem van voldoende biesmelk (kolostrum) deur die lam, so gou as moontlik na geboorte, die vorming van ‘n band met die ooi bevorder. Navorsing toon dat die vorming van ‘n band met die ooi vertraag word, al word die lam net vir die eerste twee uur na geboorte verhoed om te suip (Nowak, 1994). Indien die lam nie binne die eerste drie uur suip nie, neem sy speensoekaktiwiteit af asook die ooi se belangstelling in die lam (Cottle, 1987; Holst, 1997). Hoe swaarder lammers met geboorte is, hoe sterker en lewenskragtiger is hulle. Sulke lammers suip eerste en dikwels ook binne een uur na geboorte wat die bindingsproses tussen die ooi en die lam bevorder. 'n Klein lam (soos die 1.5 kg lam) is swak lewensvatbaar en omdat hy glad nie suip nie of baie lank neem om op te staan en te suip, verloor die ooi binne drie uur belangstelling in die lam en vind die bindingsproses glad nie plaas nie (Cottle, 1987). Sulke lammers word meestal deur die ooie weggegooi en hulle kans vir oorlewing is baie skraal.
Lammers wat minder as 3.5 kg weeg, dui daarop dat die laatdragtige ooie se byvoeding onvoldoende was en/of dat hulle nie die korrekte byvoeding ontvang het nie. Kleiner lammers se onvermoë om voldoende melk in te neem, is waarskynlik een van die belangrikste redes vir hulle lae oorlewing (Gama et al., 1991). Volgens Cloete en Brand (1987) is die ideale geboortemassa wat maksimum lamoorlewing sal verseker 3.5 tot 5.5 kg. Die nuutste Australiese navorsing asook waarnemings in die praktyk toon dat hierdie onderste grens van 3.5 kg te laag is. Australiese navorsers is van mening dat die ideale geboortemassa om maksimum lamoorlewing te verseker, 4.5 tot 5.5 kg is (AWI & MLA, 2008). Volgens Court et al. (2010) moet die geboortemassa van lammers tussen 4 en 5.5 kg met geboorte wees om hoë lamoorlewing te verseker. Hoewel daar verskille in geboortemassa tussen rasse is, word 'n teikengeboortemassa van 4.8 tot 5 kg vir tweelinge voorgestel, met enkelinge wat 0.9 kg swaarder en drielinge ongeveer 0.7 kg ligter as tweelinge is (Lynch & Hanrahan, 2011). Die optimum geboortemassa blyk dus vir onderskeidelik enkel-, twee- en drielinglammers ongeveer 5.5; 5 en 4 kg te wees.
Die grootste fout wat uit 'n voedingsoogpunt gemaak word, is die ondervoeding van deurvloeiproteïen gedurende laatdragtigheid. Daar is 'n dramatiese verhoging in die deurvloeiproteïenbehoeftes van die ooi gedurende die laaste drie weke voor lam weens die vinnige groei van die ongebore lam(mers), uierontwikkeling en biesproduksie. Volgens Robinson (1983) is deurvloeiproteïen die voedingstof, veral waar laatdragtige ooie 'n energietekort ervaar, wat op die meeste weidings gebeur, wat die grootste invloed op die lewensvatbaarheid van die pasgebore lam het omdat dit die geboortemassa van die lam verhoog. Volgens Barry en Manley (1985) voorsien weiding, selfs hoë proteïenbevattende weidings, dikwels nie voldoende aminosure (afkomstig vanaf deurvloeiproteïen) om aan die laatdragtige ooie se behoeftes te voldoen nie omdat tot 85 % van die proteïen in groenweiding in die grootpens van die skaap afgebreek word (Corbett, 1987). Dit is daarom noodsaaklik dat deurvloeiproteïen ook op groenweidings vir laatdragtige ooie aangevul word. In dié verband is aangetoon dat die aanvulling van deurvloeiproteïen gedurende die laaste drie weke voor lam die geboortemassa van tweelinge met tot 25 % verhoog het.
Die aanvulling van ekstra deurvloeiproteïen (resepte vir deurvloeiproteïenlekke en volledige rantsoene is op aanvraag beskikbaar) verhoog nie net die geboortemassa, bies- en melkproduksie nie, maar dit het ook 'n langtermyn invloed op die immuniteit en binding tussen die ooi en haar lam(mers) (Vipond et al., 2009). Deurvloeiproteïen verminder ook die impak wat parasietbesmetting op die produktiwiteit van skape het deurdat dit die immunologiese weerstand van diere veral tydens tye van stres verhoog.
Dikwels word nie die gewenste respons met deurvloeiproteïenaanvulling verkry nie omdat die aangevulde deurvloeiproteïenbronne nie die regte aminosuurprofiel bevat nie en gevolglik nie die regte aminosure verskaf nie wat dan tot ‘n aminosuurwanbalans aanleiding gee wat die produksie nadelig beïnvloed (Lapierre et al., 2000). Daarbenewens kan ‘n oormaat aminosure groei, voerinname en/of voedingstofbenutting verlaag. Nog ‘n rede vir ‘n swak respons kan wees dat die aanvulling nie voldoende aminosure voorsien nie.
Die laatdragtige ooi kry haar noodsaaklike aminosure vanaf drie deurvloeiproteïenbronne. Die meeste en goedkoopste deurvloeiproteïen is afkomstig vanaf mikrobeproteïen wat in die grootpens van die ooi deur die mikrobes vervaardig word mits voldoende substraat (bv. ammonium vanaf ureum) beskikbaar is. Dit is bekend dat mikrobiese proteïen dikwels nie voldoende is om aan die aminosuurbehoeftes vir optimale produksie van hoog produserende diere soos laatdragtige en lakterende ooie te voorsien nie. ‘n Tweede bron van aminosure is afkomstig van die inname van deurvloeiproteïen vanuit weiding en deurvloeiproteïenlekke. Laastens kan die ooi, indien sy ‘n tekort aan aminosure ervaar, haar karkasweefsel (labiele proteïen) in ‘n mate afbreek om te help om die aminosure aan te vul (Dawson et al., 1999).
Die korrekte voeding van laatdragtige ooie is van kritieke belang om diereprestasie en die winsgewendheid van ‘n skaapkudde te verhoog omdat dit geboorteprobleme verminder en die lewensvatbaarheid van lammers verhoog; metaboliese siektes soos domsiekte en melkkoors voorkom asook lamgroei versnel weens verhoogde melkproduksie (Brown & Meadowcroft, 1990). Met aanvullings vir laatdragtige ooie moet daar gepoog word om aminosuurwanbalanse in die dunderm reg te stel asook om toe te sien dat die laatdragtige ooi voldoende energie en minerale inneem om sodoende maksimum respons op ‘n koste-doeltreffende wyse te verseker.
Afgesien van deurvloeiproteïenaanvulling moet laatdragtige jongooie met enkelingfetusse, jongooie met tweelingfetusse; volwasse ooie met enkelingfetusse en volwasse ooie met tweelingfetusse onderskeidelik gedurende die laaste twee maande voor lam 8.5; 12.5; 10 en 18 % in massa toeneem om optimum geboortemassa te verseker.
Geskryf deur: Dr. Jasper Coetzee, Pr.Sci.Nat. (Anim.Sci.) Ph.D. (Agric.) Stell.
Professionele Veekundige (400328/83), Kleinveevoeding- en Bestuurspesialis (jasperco@iafrica.com) 076 846 8800
25 Junie 2012
591 keer
gelees |
0 kommentaar