Vra vir Faffa

Aggressiwiteit in kleinwild

Vraag

Word ‘n rooibokooi meeste gedood deur ‘n rooibokram of ‘n bosbok of Njala? Ons probeer vasstel watter bokspesie ‘n bokooi gedood het. Sy is gedood deur stampe wat longbeserings veroorsaak het.

Antwoord

Dit is wel bekend dat njalabulle baie aggresief is. In klein kampies, waar te veel diere aangehou word en waar daar nie genoegsame voerbakke is nie, sal manlike diere met horings, insluitend rooibokke en bosbokke, maar veral njalas, die voerbakke domineer.

Dit is nie goed om rooibokke, bosbokke en njalas in dieselfde kamp aan te hou nie. Hulle kompeteer direk vir natuurlike voeding, veral die bosbokke en njalas.

In klein kampies stel ek voor dat daar met slegs een spesie geteel word (mono-spesies kamp). In die geval waar die boer rooibokke, njalas en bosbokke teel, moet daar dus vier of meer kampe wees. Dit is uiters belangrik dat die spesies dan jaarliks van kamp tot kamp geroteer word en een van die kampe een keer per vier jaar goed gerus word (ideaal meer gereeld indien daar meer as vier kampe is).

Mono-spesies kampe  maak bestuur baie maklik en indien dit reg bestuur word, sal kompetisie vermy en produksie aansieklik verhoog word.

Geskryf deur:

Dr. Jacques O’Dell

Spesialis Wildlewe Veearts, BSc, BVSc, MMedVet (Wildlewe siektes)

Fakulteit Veearteny, Universiteit van Pretoria.

E-pos: jacques.odell@up.ac.za

8 Julie 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.