Akkers as voer en akkervergiftiging

Vraag:

Die ganse eet akkers wat van die bome afval. Kan ek akkers verwerk (maal) en dan gebruik as ‘n voeding vir pluimvee? Is te veel akkers dalk giftig?

Antwoord:

Akkerbome (Eikebome) val onder die familie Fagaceae en die bekendste akkersoort in Suid-Afrika is Quercus robur. Akkers word vir voer gebruik.

Giftige bestanddele: Akkers bevat 7 – 10 persent looisuur, maar dit blyk nie die enigste gifstof te wees nie.
Giftigheid: Giftigheid verskil volgens die verskillende soorte eike en ook volgens die grond en klimaatstoestande. In die Boland en Hoёveld word akkers vir diere gevoer. Boere loog die akkers in water voordat dit gevoer word. Varke en beeste kan baie akkers vreet voordat dit hulle kwaad doen en dit dien as goeie kos in baie gevalle, veral vir varke. Tog is dit bekend dat varke dood is aan akkervergiftiging en weer veral in die gevalle waar die akkers gemaal is en in groot hoeveelhede op ‘n leё maag aan jong varke wat nie daaraan gewoon was nie, gevoer is. Akkers kan met groot voordeel aan varke gevoer word, maar dit is raadsaam om dit gemeng met ander kragvoer te voer. Te veel akkers in die rantsoen kan die groeikrag belemmer. Vergiftiging is ook in skape en perde aangemeld. Dit is bekend dat selfs eikeblare en die blomknoppe vergiftiging by beeste en skape veroorsaak het. Oorsee is groot verliese aangeteken as diere net akkers gevoer word.
Vergiftigings kom soms voor na erge windstorms, reёn waar akkers afgewaai word en waar bome groot getalle akkers dra. Groen akkers en jong blare blyk meer giftig te wees en bevat ook hoёr vlakke van tanniene. Beeste jonger as 2 jaar is meer vatbaar vir vergiftiging. Vergiftiging kom veral in die herfs en winter voor. Die vergiftiging tree gewoonlik 4-9 dae nadat groot hoeveelhede akkers gevreet is, in. Varke en voёls is baie weerstandig teen vergiftiging.
Siektetekens: Die tekens is net soos dié wat ons by vergiftiging met jong wattelbome (Acacia) sien. Die eerste verskynsel is verstopping, wat gevolg word deur aanhoudende maagwerking. Die mis is soms bloederig. Verder kan die volgende siektetekens voorkom: gebrek aan eetlus, herkouers herkou nie, verlies in gewig, koliek, afskeiding van groot hoeveelhede urine wat lig van kleur is of ‘n donker koffiekleur het, sere in die bek, bleekheid van die slymvliese en slymafskeiding uit die neus en oё. Die temperatuur van aangetaste diere is soms subnormaal. As ysterchloriede in akute gevalle by die urine van aangetaste diere gevoeg word, word dit blouerig.
Nadoodse letsels: Maagdermontsteking en bloedings in die niere en soms nierontsteking en daar kan vloeistof in die bors- en buikholte wees. Groot hoeveelhede akkerstukkies word in die mis gevind.
Behandeling:
As groot hoeveelhede akkermeel oor lang tydperke in die rantsoene van hoenders gevoer word, is die geel van die eiers geneig om groenerig (olyfgroen) te word. Dit is moontlik dat die vrugbaarheid van sulke eiers aangetas is.
Voorkoming: Deur bykomende voeding vir diere te gee in kampe waar baie akkerbome is, kan vergiftiging voorkom word. Kalsiumhidroksied (teen 15% van die gewig van die byvoeding) kan by die byvoeding gevoeg word. As diere nie die byvoeding weens bitter smaak wil vreet nie, kan vlakke van 10% bygevoeg word.
Akkers vir ganse: dr. Mick Versfeld sê dat akkermeel alleenlik nie sal voldoen aan die voedingsbehoeftes van ganse nie.
Bronne:
Kellerman, T. S., Coetzer, J.A.W., Naude, T.W. and Botha, C.J. 2005. Plant Poisonongs and Mycotoxicosies of Livestock in Southern Africa. Oxford University Press. ISBN 978 0 19 57613 4
Steyn, D. G. 1949. Vergiftiging van mens en dier. J. L. Van Schaik, Bpk. Pretoria.
Saamgestel deur: dr. Faffa Malan, Veeartskonsultant (dokfaffa@nashuaisp.co.za)
23 April 2012

24 April 2012

1243 keer gelees | 0 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 14/05/13 21/05/13 %
Beesvleis A2/A3 2814c 2815c down 0
Speenkalf (lewend) 1583c 1552c down -2
Skaapvleis A2/A3 4428c 4430c down 0
Varkvleis (gem. prys) 1766c 1774c down 0.5
Braaikuikens 1483c 1512c down 2

Aandele

Pricecheck Flights