Babers van die genus Clarias het buiten kieue, ook ‘n addisionele lugasemhalingsorgaan (ook genoem ‘n “pseudobranch” oftewel “vals long”). Dit is geleë aan weerskante van die kop in “kamers” bo die kieuedeksels. In Suid Afrika is die algemeenste verteenwoordiger die skerptandbaber, Clarias gariepinus. Die volksnaam is effens verwarrend aangesien die “tande” eerder beskryf kan word as rasperagtige beenplate.
In ieder geval kan babers suurstof uit lug onttrek solank die asemhalingsorgaan klam bly. Om die waarheid te sê, is babers verplig om uit lug asem te haal (“obligate air breathers”). Indien jy ‘n baber sou rondjaag tot op die punt van uitputting sonder om hom toe te laat om op te kom en lug te “hap”, sal die vis basies verdrink. Dit het ook implikasies vir akwakultuur. Die “larfies” (jong vissies wat pas uitgebroei het) is negatief fototropies (m.a.w. hulle swem weg van lig af). Uitbroeikamers word dus dikwels donker gehou – indien lig van bo af in die uitbroeibakke skyn, kan die vissies aanhoudend ondertoe swem (weg van die lig af) en “verdrink”.
Verder het babers sterk penne in hulle borsvinne. Deur oordrewe swembewegings van die stert en lyf “kruip” of “loop” die vis basies met die borsvinne (kan seker beskryf word as “leopard crawl”). Indien omstandighede ongunstig raak, sal die visse kort afstande oor land beweeg om te soek na spreekwoordelike “groener weivelde”. Soos vermeld moet die lugasemhalingsorgaan egter klam bly en daarom sal die visse gewoonlik beweeg in die nag as dit koeler is, of na ‘n reënbui as die omgewing nat is. Dit is dus wel so dat babers vir ‘n geruime tyd in nat modder sal oorleef. Hulle kan egter nie vir langer periodes onder droë modder soos ware Afrika-longvisse oorleef nie. Longvisse kan vir 7 tot 8 maande in ‘n slymkokon in ‘n rustende toestand oorleef tot die habitat weer oorstroom word.
24 Augustus 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)