Karp (Cyprinus carpio) het dus al ‘n lang geskiedenis wat akwakultuur betref. Die Chinese het reeds so vroeg as 475 voor Christus met karpe geboer, terwyl die Romeine in Europa die eerste eeu na Christus met die praktyk in Europa begin het. Daar word verder gemeld dat daar in die 12 de en 13 de eeu ook baie in Oos-Europa met karpe geboer is. Die vis is dus steeds baie gewild in sommige Europese en Oosterse lande.
Soos vroeër bespreek, is babers (Clarias gariepinus) ook baie geskik vir akwakultuur. Daar was veral in die laat 80’s / vroeë 90’s baie groot belangstelling in baberboerdery in Suid-Afrika. Daar is twee voorbeelde waarna ek graag wil verwys. Die eerste is die baie volledige “South African National Scientific Programmes Report Number 153”, uitgegee in 1988, met die titel “The culture of sharptooth catfish, Clarias gariepinusin southern Africa” (saamgestel deur Hecht, Uys en Britz). Die tweede is ‘n artikel deur Andries Gouws in Landbouweekblad (28 Augustus 1992). Om eerlik te wees verkies ek persoonlik babervleis (visse van so tussen 1 en 2 kg) bo karpvleis.
Geelvis (Labeobarbus spp.) is volgens my nie ‘n goeie kandidaat vir akwakultuur nie. Myns insiens lê geelvis se waarde eerder in die ontwikkeling van volhoubare ekotoerisme, veral wat kunsvlieghengel betref. Dit is ‘n aspek wat jy verseker op die Oranjerivier moet oorweeg!
Uit bogenoemde sou ek voorstel dat jy karpe en babers verder oorweeg. Die tweede ding waarna ons moet kyk, is die vlak waarop jy die boerdery wil bedryf. Jy kan 1) vis produseer deur slegs van natuurlike kos gebruik te maak (m.a.w. damme bloot van tyd tot tyd “oes”); 2) natuurlike kos aanvul met voorbereide kos / vispille of ander organiese materiaal (byvoorbeeld hoendermis om die produktiwiteit in die damme te verhoog); 3) vis intensief onder grootliks kunsmatige toestande onder hoë digthede aan te hou en te voer (waterkwaliteit en voedselkwaliteit raak al hoe belangriker wat produksiekoste opdruk). Ek vermoed jy sal kyk na opsies 1 en/of 2. Die tweede opsie kan gekombineer word met ander aspekte soos groente-, hoender- of varkboerdery.
‘n Ander inheemse spesie wat oorweeg kan word, is kurpers (vlei-, rooibors- en bloukurpers). Let egter daarop dat jy toestemming van natuurbewaring sal nodig hê om visse te skuif. Veral waar daar rivierstelsels betrokke is, is dit nooit wys om spesies wat nie natuurlik in die omgewing voorkom in te bring nie!
Nou die moeilike een – bemarking en verspreiding. Daar is oor die algemeen redelike verbruikersweerstand teen “damvis”. Die “maklikste” teikenmark sal laer inkomstegroepe wees. Die probleem is dat, om die produk bekostigbaar te maak, jou winsgrens al kleiner word weens produksiekostes. Ek is egter nie op hoogte met die huidige situasie wat verkope en bemarking betref nie. Dit sal beter wees om vir hulp aan te klop by die volgende individue / instansies in die verband:
1) Aquaculture Institute of South Africa.
Telefoon: 021 556 7339
Kontakpersoon: Dr. Lizeth Botes
e-pos adres: lbotes@ai-sa.org.za
2) Aquaculture Association of Southern Africa.
Webadres: http://www.aasa-aqua.co.za
Telefoon: 012 807 6720
Kontakpersoon: Etienne Hinrichsen
e-pos adres: chairman@aasa-aqua.co.za
3) Hartbeespoort Fisheries
Webadres: http://www.fisheries-sa.co.za
Telefoon: 012 259 1231
Kontakpersoon: Casper Kruger
11 Maart 2010