Vra vir Faffa

Beenmeel in rantsoene vir diere

Vraag

Kan ek beenmeel in varkransoene gebruik?

Antwoord

Jou navraag rakende die gebruik van beenmeel in varkrantsoene verwys.

Die gebruik van beenmeel word nie in varkrantsoene (of enige ander rantsoen) aanbeveel nie. Inteendeel dit is teen die regulasies soos beskryf onder Wet36/1947.

Die Wet op Misstowwe, Veevoedsel, Landboumiddels en Veemiddels, 1947, Wet 36 van 1947 reguleer die veevoedsel bedryf.

Artikel een van die Wet gee die definisie van ‘n veevoedsel as:

‘veevoedsel’

(a)…

(iii) enige beenproduk, wat bedoel is of verkoop word om huisdiere of lewende hawe te voer;…

Die definisie van Verkoop word ook in artikel 1 weergegee as:

‘verkoop’ ook ooreenkom om te verkoop, of vir verkoop aanbied, adverteer, hou, uitstal, versend, vervoer, lewer of, vervaardig of verruil, of teen enige vergoeding hoegenaamd aan enige persoon op enige wyse vervreem, of ingevolge ‘n verkoping, verruiling of vervreemding soos voormeld versend, vervoer of lewer; en het ‘verkoop’, wanneer dit as ‘n naamwoord gebruik word, ‘n ooreenstemmende betekenis;

Artikel 7(1)(a) van die Wet bepaal:

7 Verkoop van misstowwe, veevoedsel, landboumiddels en veemiddels

(1) Niemand mag ‘n misstof, veevoedsel, landboumiddel of veemiddel verkoop nie tensy-

(a) dit kragtens hierdie Wet geregistreer is onder die naam of merk waaronder dit aldus verkoop word

Wat hierby saam gelees moet word is regulasie 11(4)(b), soos gepupliseer in Staatskoerant R1087 van 3 November 2006 wat bepaal (die Regulasie is net in Engels beskikbaar):

“A product shall not be registered as an animal feed if:

(b)        it consists of or contains any substance of animal origin, including excreta or other by-products, and which has not been sterilised beforehand to such extent that the infection or contamination of such product with Bacillus anthracis, organisms of the gas-gangrene type, other pathogenic or putrefactive organisms of viable micro-organisms or substances has been reduced to the level where such organisms or substances will be injurious to or endanger the health or detrimentally affect the productive capacity of animals to which such product is fed” 

Huidiglik is daar GEEN gesteriliseerde beenmeel wat as veevoedsel geregistreer is onder die Wet nie, aangesien niemand dit nog ooit gesteriliseer het ten einde dit as veevoedsel te aan te bied nie, daarom mag dit nie gevoer word nie. Die gesteriliseerde beenmeel wat wel geregistreer is, is geregistreer as misstowwe en word nie aangebied om gevoer te word nie. 

Geskryf deur: Dr. Pieter Grimbeek, Varkkonsultant

pigvet@mweb.co.za

 

Bygestaan deur Wimpie Groenewald van AFMA

19 Junie 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.