Die seleksie van enige teelbul is baie belangrik aangesien ‘n bul ‘n baie groot invloed op ‘n kudde en die verbetering daarvan het. Daar is drie aspekte waaraan aandag geskenk moet word :
1) Vrugbaarheid
Voordat enige bul aangekoop word, moet die koper seker maak dat die bul deur ‘n veearts getoets is vir vrugbaarheid en dat ‘n vrugbaarheidsertifikaat beskikbaar is. Verder moet die koper seker maak dat die bul se testis goed ontwikkel is (testisgrootte 32 – 40 cm op 18-24 maande ouderdom). Maak seker dat beide testis ewe groot is en beide goed ontwikkel is.
Verder is dit baie belangrik dat ‘n bul skoon moet wees van geslagsiektes (vibriose en trigomoniase)
2) Bouvorm / Funksionele doeltreffendheid
‘n Funksioneel doeltreffende bul is ‘n bul wat soos ‘n bul lyk. Daar is verskeie aspekte waarna gekyk kan word soos bv. verdonkering van die nek en kop om die manlikheid van ‘n bul te bepaal.
Daar is so baie faktore wat ‘n rol speel ten opsigte van bouvorm dat net die belangrikste genoem kan word. Hieronder tel veral goeie bene en kloue, bespiering, kondisie en haarbedekking. Vermy oorvet bulle aangesien hulle moeilik aanpas en oorvoeding op ‘n jong ouderdom kan lei tot lae vrugbaarheid. By die Simmentaler is dit ook belangrik om te kyk na goeie pigment om die oë, die sogenaamde bulle met ”brille”.
3) Teelwaardes/indekse.
Dit is altyd belangrik om na enige relevante inligting wat beskikbaar is te kyk. Dit is egter belangrik om te onthou dat alle data slegs ‘n hulpmiddel is by die seleksie van ‘n bul. Verder moet data korrek geїnterpreteer word. By teelwaardes is die akkuraatheid baie belangrik en by prestasiemeting van groepe is die toetsgrootte weer van belang. Waar kruisteling met Simmentaler op Brahman toegepas word, moet veral klem gelê word op bulle met goeie bespiering, goeie kondisie en bulle wat in die omgewing aangepas is. Dit is altyd beter om ‘n bul uit u eie omgewing te kies as uit ‘n vreemde omgewing.
Raadpleeg ook ‘n kundige van die ras om u verder behulpsaam te wees.
20 September 2009
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)