As daar bloed in die urine gesien word, kan dit veroorsaak word wanneer beskadiging van bloedvate voorkom deur bv. trauma, ontsteking van die niere en bloedvergiftiging. Beserings kan ook tydens paring voorkom.
Steentjies in die urienbuise, blaasstene, ontsteking en gewasse in die blaas kan ook bloeding veroorsaak. Dit is moontlik dat daar stukkies bloed in die urine mag voorkom, maar gewoonlik sien ‘n mens dat die urine dieprooi tot bruin gekleur is. By minder erge gevalle word slegs ‘n wolkerigheid in die urine gesien. As die urine in ‘n buisie laat staan word, sak die rooiselle af en vorm ‘n rooi afsaksel op die bodem.
In vroulike diere kan die urine gekontamineer word deur bloed vanuit die vroulike geslagsorgane.
Kliniese tekens by diere wat rooiwater het, kan ook rooierige tot swart koffiekleurige urine wees as gevolg van rooibloedselle wat deur die Babesia-parasiete vernietig word. Leptospirose kan ook verkleuring van die urine tot gevolg hê.
‘n Kondisie wat wêreldwyd gesien word, maar nie in Suid-Afrika opgeteken is nie, is chroniese ensoötiese hematurie (bloed in die urine). Die toestand word veroorsaak deur diere wat adelaarsvarings vreet. Hierdie varigs kom wydverspreid in Suid-Afrika voor. Daar is ‘n karsinogeniese stof in die varings wat kanker van die blaas veroorsaak.
Rooibruinverkleurig van die urine (hemoglobinurie) kan voorkom by nitraatvergiftiging bv. deur plante te vreet wanneer die plante te veel nitrate opgeneem het: hanekam, blaarrape, beeskool, rooibeet, Soedansgras, graansorghum, hawer, rog, koring, mielies.
By jong kalwers wat baie koue water suip, is rooi verkleuring van die urine opgemerk.
Skakel met u veearts sodat ‘n korrekte diagnose gemaak kan word.
Bronne:
Coetzer, J.A.W en Tustin, J.A.W. 2004. Infectious diseases of livestock. Oxford University Press. ISBN 0 19 576171 5
Mönnig, H.O en Veldman, F.J. 1975. Handboek oor veesiektes. Tafelberg-Uitgewers. ISBN 0 624 00359 0
Radostis, O.M, Gay, C.C, Hinchcliff, K.W en Constable, P.D. 2007. Veterinary Medicine, 10 th edition. Elsevier. ISBN 978 0 7020 2777 2
17 September 2010