Melkproduksie in groot dele van die land is steeds baie seisoenaal weens die neiging om koeie te laat kalf wanneer die eerste reёns geval het en groen weiding beskikbaar is.
Hierdie seisoenale kalwing het tot gevolg dat daar in sekere dele van die land seisoenale surplusse van melk ontstaan. Gewoonlik is dit oor die tydperk November tot Januarie en pryse word dan afwaarts gedwing. ‘n Surplus in een of twee streke van die land vloei oor in die nasionale mark wat tot gevolg het dat ‘n nasionale surplus ontstaan.
In die binnelandse mark verlaag melkgebruik drasties gedurende die periode November tot Januarie weens die vakansieseisoen. Verbruikers gaan met vakansie, skole en universiteite sluit en nywerheidsbesighede sluit vir vakansie.
Bogenoemde verskynsel het tot gevolg dat koeie wat met hulle eerste en belangrikste 100 dae van laktasie begin, nie optimaal of ekonomies gevoer word nie weens die laer seisoenale melkpryse.
Wenke
- Die melkprys moet nooit net vir ‘n maand geёvalueer word nie. Die prys moet oor ‘n jaarperiode beoordeel word.
· Dek (KI) alle verse wat geslagsryp is in Mei, Junie en Julie. Hulle kalf dan in die tyd van die jaar wanneer pryse opwaarts beweeg.
· Alle dragtige koeie van drie maande voor kalwing en wie se produksie ekonomies te laag is, kan vroeёr opgedroog word. Die seisoenale groen weidings kan dan help om die koeie goedkoper te dra tot kalwing.
· Alle swak produseerders, koeie met vrugbaarheids- en uierprobleme moet op die laatste jaarliks in Oktober verkoop word.
· Voer kalwers in Oktober tot Januarie vars melk en nie melksurrogaat nie. Sodra melk in die mark meer in aanvraag is, kan daar oorgeskakel word na melksurrogate.
· Dit is belangrik om die meeste melk te produseer in die “hoёr melkprys” maande (Februarie tot Augustus) om sodoende hoё gemiddelde melkpryse te realiseer.
· Melkkoeie produseer nie minder melk in die maande van Februarie tot Oktober nie, behalwe in baie koue streke, waar huisvesting baie belangrik raak.
· Melkprodusente moet te alle tye seker maak dat hulle aan ‘n melkkoper, wat beskik oor surplus verwyderingsgeriewe (harde kaas- en melkpoeiervervaardiging), hulle melk verkoop.
· ‘n Melkproduksie is ‘n langtermyn bedryf en dus moet daar geen korttermyn besluite geneem word nie.
· Doen jou huiswerk deeglik voordat jy van melkkoper verwissel of jou eie besigheid begin.
· Indien melkprodusente van melkkoper wil verwissel, doen dit slegs gedurende die volgende periode van die jaar: Februarie tot Augustus.
Leer om te produseer wanneeer die aanvraag en prys hoёr is!
Geskryf deur: ‘n Melkkoper
15 Januarie 2010