‘n Goeie kalfpersentasie is die resultaat van verskeie faktore wat reg bestuur word. As net een van hierdie faktore nie in plek is nie, dan is daar ‘n daling in die persentasie. Twee faktore wat ‘n groot rol speel is voeding en siektebeheer.
Voeding: Mens kry net uit ‘n bees uit, wat mens in hom insit. Gobabis se wêreld het goeie kwaliteit weiding, maar ongelukkig is kwantiteit ‘n probleem sekere tye van die jaar. Verseker dat die drakrag van die weiding nie oorskry word nie. As daar met tye tekorte is, moet u vroegtydig ekstra voeding begin gee. Dit is goed dat die beeste ‘n fosfaataanvulling kry, maar in die winter benodig hul ‘n aanvulling van proteïen en energie. In die vroeë winter behoort ‘n winterlek wat hoog is in proteïen (500g/kg) genoeg te wees. Wanneer die koeie kalf, kan hul op ‘n produksielek gesit word, dit het laer vlakke proteïen, maar is hoër in energie. Die lek moet vir die koeie gegee word tot ten minste ‘n maand na die eerste goeie reёn wanneer die natuurlike weiding weer voedsaam is. Daar is goeie kommersiële lekke beskikbaar. U moet kyk wat u koeie vir u sê: maer koeie kan nie weer dragtig word nie, of goed vir hul kalwers sorg nie. Sodra koeie vinnig gewig verloor of maer is, moet hul ekstra voeding kry. ‘n Ander opsie wat u kan oorweeg, is om u kalftyd later te maak sodat die koeie kalf wanneer die weiding goed is.
Siektes: Daar is baie siektes wat die reproduksie van ‘n koei kan affekteer soos trigomoniase, besmetlike misgeboorte, campylobacteriose en nog ander. Dit is krities om u kudde te laat toets om te verseker dat een van hierdie siektes nie die oorsaak van die lae besettingsyfer is nie. Nader u veearts om raad te kry oor hoe u kudde getoets kan word en om ‘n entingsprogram in plek te kry.
Daar is ander faktore wat ek nie nou bespreek nie soos koeiseleksie, mikrominerale (Multimin word 4 weke voor paring en weer voor kalwing toegedien) en stresfaktore. Hul speel egter gewoonlik ‘n kleiner rol in onvrugbaarheid en dit is belangrik om eers die ander, soos hierbo genoem in plek te kry.
Geskryf deur: Marnus de Jager, Finalejaar Veeartsenykunde student en dr. Dietmar Holm BVSc,MSc(Vet), Fakulteit Veeartsenykunde, Universiteit van Pretoria (dietmar.holm@up.ac.za)
26 April 2011
Lees ook:
Fosfaat
Lekke
Verse
Wintervoeding
Winter-byvoeding
Spoorelemente
Deksiektes
Entstowwe