Mastitis, veral die sub-kliniese mastitis, is wêreldwyd die duurste kondisie by 'n melkkudde, en tog is dit juis hier waar die meeste kortpaadjies geneem word. Dit gaan my verstand te bowe dat 'n boer R15 000 sal spandeer op droë koei-mastitisbehandeling vir sy kudde van 250 koeie, maar nie bereid is om 'n breukdeel van daardie bedrag te spandeer om (d.m.v. 'n anti-biogram) te verseker dat die korrekte droë koei-behandeling uit die staanspoor gekies word nie.
Só word tog verseker dat die maksimum waarde uit die duur middels verkry word. In een van die Skandinawiese lande was dit onwettig om droë koei-behandeling te gee, tensy dit gebaseer was op 'n spesifieke anti-biogram. Die boere was aanvanklik woedend omdat hulle geglo het dat dit net 'n geldmaakstorie was, totdat hulle op die lang termyn die dramatiese verbetering in hul melkkoeie ervaar het. Die nasionale somatiese seltelling (SST) het van 390 000 tot 100 000 gedaal!
Waarom?
Omdat die behandeling nou meer spesifiek was en daarom meer effektief. En deur die SST so ver te laat afneem, het die melkproduksie met 4-5% toegeneem - dit mag nie na baie klink nie, maar doen gerus die sommetjie op 'n kudde van 300 koeie wie se gemiddeld voorheen 7500kg/jaar was...ongelooflik, nie waar nie?
Wie sal nie bereid wees om R5 000 te spandeer om 'n ekstra R200 000 te verdien nie? Ek wil egter nie vir een oomblik voorstel dat dieselfde in Suid-Afrika gedoen moet word nie, maar ek wou deur hierdie voorbeeld demonstreer hoe belangrik effektiewe behandeling en die vermindering van die SST is.
In die meeste gevalle is dit die moeite werd om gebruik te maak van 'n veearts wat spesialiseer in uiergesondheid om te help om die SST van die melktenk te verlaag en om ook die hele melkery van voor tot agter te evalueer met die doel om produksie te verhoog.
Soos u kan sien, gaan dit nie soseer om geld nie, eerder oor die manier waarop ons dink, en dit is wat ons moet verander.
Langtermyn voordele
Die langtermynvoordele van ondersoeke na die oorsake van aborsie- en dragtigheidsverliese; die diagnosering van die oorsake van die dood en siekte van kalwers; waarom daar gereeld gebruik gemaak moet word van 'n kuddeveearts en waarom inenting nie onderhandelbaar is nie, word nou bespreek.
Hierbo het ek beskryf wat ek glo die definisie van pro-aktiewe en re-aktiewe dieregesondheidsorg is. Ek het geraak aan mastitis as 'n afdeling van dieregesondheid waar ek in die praktyk ervaar dat boere van mening is dat hulle geld spaar deur nie geld uit te gee nie.
Dit is van deurslaggewende belang dat alle intensiewe boere (melkerye, voerkrale, varke,en pluimvee) 'n diagnostiese toets of 'n besoek deur 'n kudde-veearts as 'n belegging, en nie as 'n uitgawe nie, sien.
Mastitis is egter nie die enigste area van dieregesondheid waar boere dink hulle spaar geld deur nie geld te bestee nie....