Bestuur dieregesondheid pro-aktief

Vraag:

Wat is jou benadering tot dieregesondheid? Pro-aktief of re-aktief? Lees hier meer waarom 'n pro-aktiewe benadering die regte benadering is en jou op die langtermyn geld kan spaar.

Antwoord:

Vraag:
Hoe benader ek die bestuur van dieregesondheid op my plaas? Pro-aktief of re-aktief?

Antwoord
Sou u in beheer geplaas word van die gesondheidsorg van 'n gemeenskap en in die omgewing van hierdie gemeenskap is daar 'n hoë en potensieel gevaarlike afgrond, hoe sou u hierdie risiko bestuur? Sou u verkies om 'n veiligheidsheining aan die bokant van die afgrond aan te bring, of sou u liewer 'n hospitaal aan die onderkant oprig? U reaksie op hierdie vraag mag u benadering tot die bestuur van die risiko's t.o.v. dieregesondheid op u plaas, reflekteer.

Die pro-aktiewe reaksie sou wees om 'n heining op te rig wat sal voorkom dat mense afval of afspring en die re-aktiewe reaksie sou wees om teen groot onkoste die mense wat afval en beseer word, te behandel.

Hopelik is die antwoord op bogenoemde vraag ooglopend en alhoewel dieselfde benadering op elke plaas gevolg behoort te word - veral by 'n melkery - is dit nie altyd so maklik nie. Veral omdat daar baie voer-, farmaseutiese, toerusting- en kudde gesondheidsfirmas is wat poog om die boer te vertel hoe om die melkkudde se prestasies te verbeter deur sekere produkte en programme te gebruik. Dit is verwarrend dat al hierdie advies potensieel wel van groot waarde mag wees vir die kudde. Om egter enige veranderings ten goede aan te bring, is dit nodig om diep, wyd en op die langtermyn te dink.

Hierdie maand (Desember 2006) se tema in die "Dairymail" is dieregesondheid. By watter deel van die dieregesondheid op u plaas word daar tans, volgens u mening, die korrekte werkswyse gevolg, maar in der waarheid kos dit u meer?

Dikwels is boere nie eers bewus daarvan dat dit veel meer kos nie! As veearts wat in praktyk op melkboerdery konsentreer, het ek bewus geword van 'n paar plekke waar boere gedink het dat hulle geld spaar, maar in werklikheid was hul besig om aansienlik geld te verloor!

 

  • Mastitis, veral die sub-kliniese mastitis, is wêreldwyd die duurste kondisie by 'n melkkudde, en tog is dit juis hier waar die meeste kortpaadjies geneem word. Dit gaan my verstand te bowe dat 'n boer R15 000 sal spandeer op droë koei-mastitisbehandeling vir sy kudde van 250 koeie, maar nie bereid is om 'n breukdeel van daardie bedrag te spandeer om (d.m.v. 'n anti-biogram) te verseker dat die korrekte droë koei-behandeling uit die staanspoor gekies word nie.

    Só word tog verseker dat die maksimum waarde uit die duur middels verkry word. In een van die Skandinawiese lande was dit onwettig om droë koei-behandeling te gee, tensy dit gebaseer was op 'n spesifieke anti-biogram. Die boere was aanvanklik woedend omdat hulle geglo het dat dit net 'n geldmaakstorie was, totdat hulle op die lang termyn die dramatiese verbetering in hul melkkoeie ervaar het. Die nasionale somatiese seltelling (SST) het van 390 000 tot 100 000 gedaal!

    Waarom?

    Omdat die behandeling nou meer spesifiek was en daarom meer effektief. En deur die SST so ver te laat afneem, het die melkproduksie met 4-5% toegeneem - dit mag nie na baie klink nie, maar doen gerus die sommetjie op 'n kudde van 300 koeie wie se gemiddeld voorheen 7500kg/jaar was...ongelooflik, nie waar nie?

    Wie sal nie bereid wees om R5 000 te spandeer om 'n ekstra R200 000 te verdien nie? Ek wil egter nie vir een oomblik voorstel dat dieselfde in Suid-Afrika gedoen moet word nie, maar ek wou deur hierdie voorbeeld demonstreer hoe belangrik effektiewe behandeling en die vermindering van die SST is.

    In die meeste gevalle is dit die moeite werd om gebruik te maak van 'n veearts wat spesialiseer in uiergesondheid om te help om die SST van die melktenk te verlaag en om ook die hele melkery van voor tot agter te evalueer met die doel om produksie te verhoog.

    Soos u kan sien, gaan dit nie soseer om geld nie, eerder oor die manier waarop ons dink, en dit is wat ons moet verander.

    Langtermyn voordele
    Die langtermynvoordele van ondersoeke na die oorsake van aborsie- en dragtigheidsverliese; die diagnosering van die oorsake van die dood en siekte van kalwers; waarom daar gereeld gebruik gemaak moet word van 'n kuddeveearts en waarom inenting nie onderhandelbaar is nie, word nou bespreek.

    Hierbo het ek beskryf wat ek glo die definisie van pro-aktiewe en re-aktiewe dieregesondheidsorg is. Ek het geraak aan mastitis as 'n afdeling van dieregesondheid waar ek in die praktyk ervaar dat boere van mening is dat hulle geld spaar deur nie geld uit te gee nie.

    Dit is van deurslaggewende belang dat alle intensiewe boere (melkerye, voerkrale, varke,en pluimvee) 'n diagnostiese toets of 'n besoek deur 'n kudde-veearts as 'n belegging, en nie as 'n uitgawe nie, sien.

    Mastitis is egter nie die enigste area van dieregesondheid waar boere dink hulle spaar geld deur nie geld te bestee nie....

     

  • Aborsies, gedefinieer, is dragtigheidsverliese wat voorkom nadat dragtigheid bevestig is (gewoonlik na 42 dae van dragtigheid): Die aanvaarbare vlak van verliese na hierdie stadium behoort nie 4-5% te oorskry nie. Indien dit hoër as dit is, behoort daar ondersoek ingestel te word!

    Selfs al bestaan jou kudde net uit 100 koeie, dan is elke persentasiepunt bokant die aanvaarbare vlak van 4-5%, 'n kalf en daardeur ook 'n laktasie verlore. Bepaal hoeveel net een aborsie jou gaan kos, en besluit dan of die onkoste verbonde daaraan om uit te vind wat die aborsie veroorsaak het (veearts en laboratorium), te veel is. Hou in gedagte dat die uitslag mag meehelp om in die toekoms verdere aborsies te voorkom.

     

  • 'n Soortgelyke benadering behoort gevolg te word by siekte en dood van kalwers. Moet asb. tog nie wag totdat 'n derde of die helfte van die kalweroes diarree het, of totdat vyf of ses kalwers gevrek het van siekte voordat die veearts se hulp gevra word nie.

    Die oomblik wanneer die kalwers met 'n onverklaarbare diarree begin, moet u veearts dadelik geraadpleeg word, of u moet tenminste vars mismonsters van die kalwers na die veearts neem om na 'n laboratorium gestuur te word. Die uitslag van hierdie toetse sal bepaal watter virus of bakterie die probleem veroorsaak en ook watter antibiotika die beste sal wees om te gebruik. Die onkoste van laboratoriumtoetse en die veearts sal oorskadu word deur die besparings wat 'n akkurate diagnose en die gebruik van die korrekte middel sal meebring. Dit is waarlik 'n geval van honderde te spandeer om duisende te spaar!

     

  • Ek moet nog iemand ontmoet wat my kan oortuig dat 'n kommersië le melkboer met 'n progressiewe benadering kan bekostig om nie weekliks (groot kuddes), tweeweekliks of tenminste maandeliks 'n besoek van 'n kuddeveearts te ontvang nie. Alle diere wat drie weke of langer gelede gekalf het, behoort deur 'n veearts ondersoek te word, en afhangende van die grootte van die kudde, is 'n besoek dalk net elke 6-8 wele nodig, maar u beursie en u koeie sal steeds voordeel trek uit 'n besoek!

    Slegs u plaaslike kuddeveearts kan dragtigheidstoetse doen, terselfdertyd ondersoek vir kliniese baarmoederontsteking, sub-kliniese baarmoederontsteking, sistiese eierstokke en daarna wettiglik die korrekte middels, wat die probleem gaan aanspreek,voorskryf. Daardeur word tussenkalf periodes en dragtigheidspersentasies dramaties verbeter. Oorweeg bogenoemde medium en lang termyn voordele voordat u besluit dat 'n besoek van 'n veearts nie die onkoste werd is nie, of nie 'n vereiste is nie!

     

  • Die eise wat vandag aan 'n melkkoei gestel word, maak dat inenting teen verskeie siektes nie onderhandelbaar is nie. Om daagliks 25 liter melk te gee en boonop jaarliks te kalf, is so ver van 'n natuurlike situasie as wat kan kom. Daarom het siektes wat die rondte doen so 'n hewige impak op melkkoeie - hul immuunsisteme is nie opgewasse nie omdat ons diere geselekteer het met al hul prioriteite op hul uiers en nie hulle immuunnsisteme nie. Ons het dus geen ander opsie as om in te ent nie.

    Hierdie is net 'n paar voorbeelde van waar u nie kortpaadjies moet neem nie, en ek kan niks waarborg nie, maar ek kan u belowe dat indien u bogenoemde voorstelle as 'n beleggingsmoontlikheid sien, u op die lang termyn werklike finansië le en dieregesondheidsvoordele sal ervaar.

    Onthou: Voordat u 'n besluit neem, doen eers 'n berekening!

     

  • Geskryf deur dr. Barry Coates (barry.coates@intervet.com)
    Verwysings en meer inligting by outeur verkrygbaar.

    Hierdie artikels het onderskeidelik in die Dairymail van Desember 2006 en Januarie 2007 verskyn.

    01 Oktober 2007

1 Oktober 2007

3679 keer gelees | 0 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Kry ons op jou foon

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 12/06/13 19/06/13 %
Beesvleis A2/A3 2771c 2774c down 0.1
Speenkalf (lewend) 1440c 1432c down -0.6
Skaapvleis A2/A3 4249c 4300c down 1.2
Varkvleis (gem. prys) 1784c 1792c down 0.4
Braaikuikens 1506c 1506c down 0

Aandele

Pricecheck Flights