Vra vir Faffa

Bloutong enting: Rol van biesmelkimmuniteit

Vraag

Ek wil graag seker maak of biesimmuniteit werklik so ‘n groot rol speel in bloutong as ooie maar tweekeer in hul lewe geënt was. Ons wil graag vroeër (voor speen op 2 maande ) begin ent en dit kombineer met klostridiale entings. Is dit regtig nodig om te wag tot 2 weke na speen voor ons die eerste bloutong kan ent - vir die September maand lammers raak dit dan te laat na Januarie toe - bloutong slaan dan reeds toe?

Antwoord

BLOUTONG  ENTING :    Rol van Biesmelkimmuniteit

Hierdie vraag omtrent die rol van biesmelk (passiewe) immuniteit is van wesenlike belang, nie net ten opsigte van bloutong nie, maar vir ‘n verskeidenheid toestande, veral virussiektes.

Passiewe immuniteit is krities belangrik om pasgeborenes te beskerm teen kieme en virusse.  Dit is egter baie varieerbaar en die vlak en duur van beskerming hang o.a. af van die immuniteit van die moederdier asook van die kwaliteit en hoeveelheid biesmelk wat binne 24 uur na geboorte ingeneem word.  Immuniteit by skape teen bloutong word nie net verwek deur enting nie, maar herhaalde blootstelling aan besmette muggies dra baie by, ook selfs om entstofimmuniteit te versterk. Ouer ooie beskik dus gewoonlik oor ‘n beter immuniteit vanweë meer inentings asook groter natuurlike blootstelling aan die siekte en hierdie toestand sal dan ook in die lammers weerspieël word.

By siektes soos bloutong word die situasie verder gekompliseer deur die veelvuldige stamme of serotipes (minstens 21 in Suid Afrika) met min kruisbeskerming tussen verskillende tipes. Indien die passiewe immuniteit se beginkonsentrasie en verval met tyd grafies voorgestel word is daar nie ‘n enkel lyn nie maar soveel as 21 verskillende lyne.

Die maksimum duur van biesmelkimmuniteit by lammers is ongeveer ses maande in gevalle waar met ‘n maksimum konsentrasie begin is.  Daar is ongelukkig nie ‘n eenvoudige manier waarop die teenliggaamkonsentrasies teen die verskillende serotipes bepaal kan word nie (behalwe in ‘n laboratorium).  Daar moet dus aanvaar word dat die biesmelkimmuniteit by lammers van ooie wat geënt of natuurlik blootgestel is vir so lank as ses maande kan duur.

Wanneer bloutong baie algemeen voorkom (gewoonlik Januarie tot April) tydens goeie reënjare kan jong lammers egter reeds die siekte opdoen. Hierdie probleem word veral ervaar by lentelammers (3-6 maande oud) wat nog nie ingeënt is wanneer die bloutongseisoen aanbreek nie.

Ongelukkig is daar nie ‘n eenvoudige oplossing vir hierdie probleem nie.  Lammers van immuunooie behoort nie voor twee maande geënt te word nie omdat die vlakke van immuniteit (minstens teen sommige serotipes) nog so hoog is dat die ooreenstemmende stamme in die entstof geneutraliseer sal word met gevolglike swak ontwikkeling van aktiewe immuniteit.  Indien lammers wel voor ses maande ouderdom geënt is, moet hulle weer op ses maande ouderdom geënt word om ‘n redelike goeie beskerming daar te stel.  In sekere areas waar bloutong gereeld en straf voorkom, word soveel probleme ervaar met ‘n lente lamseisoen dat boere beperk word tot ‘n herfslamtyd. Herfslammers verloor hul passiewe immuniteit in die lente wanneer bloutong nog nie ‘n probleem is nie. Dit laat ongeveer drie maande waartydens sulke lammers korrek volgens voorskrif die drie afsonderlike bloutong entstowwe (A, B en C) kan ontvang om sodoende die beste moontlike beskerming te kry.

Geskryf deur: Dr. Baltus Erasmus, Voormalige Hoof van Onderstepoort Biologiese Produkte  (baltus@Deltamune.co.za)

4 Augustus 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.