Wat is die drakrag per hektaar vir rooibokke, koedoes en springbokke in Vryburg en Kuruman distrik?
Alle streke in Suid-Afrika het ‘n spesifieke drakrag wat uitgewerk is as die hoeveelheid hektaar benodig om 1 Grootvee Eenheid (GVE) te dra. Sonder om tegnies te raak, is dit alles natuurlik werk wat op beeste gedoen is. Alles word gemeet en oorgedra na ‘n 450 kg bees. Omrede daar ‘n groot leemte was in die werk, en sekere wild natuurlik ook blaarvreters is, het Prof. Koos Bothma en ander wetenskaplikes die verwerkings gedoen van die verskillende wildsoorte t.o.v. GVE en watter persentasies gras en blare die diere vreet. Dit is natuurlik baie belangrik in die bepaling van drakrag vir ‘n spesifieke plaas in ‘n bepaalde streek. Kyk maar net wat die verskillende metodes op koedoes hieronder meebring! Op grond hiervan kan mens dus die drakrag van grond vir die verskillende wildsbokke in jou area redelik akkuraat bepaal. Onthou ook net een ding en dit is dat die syfers redelik veralgemeen en lokale toestande soos droogte, erosie en swak grond baie sterk in ag geneem moet word!