Rooimiere in die huis
As jy praat van rooimiere neem ek aan jy verwys na Dorylus helvolus. Die mier het ook ‘n ander populêre naam wat ek nie hier wil herhaal nie, maar ek is seker baie mense sal weet waarna ek verwys.
Deltamephrin (L no 7965) en piretroїedes is beslis nie geskik vir gebruik binne in die huis nie.
Daar is ‘n aantal middels beskikbaar vir die doel, maar om miere in ‘n huis te beheer, is baie moeilik. Miere oor die algemeen is seisoenale plae, d.w.s. hulle verdwyn in die winter. Rooimiere spesifiek is verder ook geneig om nomadies te wees. Hulle sal wegtrek as kosvoorrade skaars word.
Ek besef dis nie baie bemoedigende nuus nie, maar probeer om so ver moontlik nie kos vir hulle te los nie.
Verder kan jy soek waar die nes is deur die werkers te volg en dan in die onmiddellike omgewing te spuit met ‘n insekdoder wat geskik is vir huishoudelike gebruik.
Die gebruik van kanolaolie en plantekstrakte waarna jy verwys, is net geskik vir gebruik op plante.
Kakiebosekstrak (trek dit soos tee in kookwater) werk goed teen insekte soos vismotte, vlooie en selfs tot ‘n mate teen kakkerlakke binne in die huis. Dalk kan jy dit ook probeer.
Gaan besoek jou plaaslike koöperasie of plantsentrum en vra hulle om vir jou insekdoders te wys wat geregistreer is teen miere asook vir binnehuise gebruik.
22 Februarie 2012
Lees ook:
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)