Vra vir Faffa

Grootmaak van hans bulkalwers se ekonomie

Vraag

Ek wil Holsteinbulkalwers groot maak. Wat behels die kostes in vandag se tyd om kalwers groot te maak? Poeiermelk en Molovite en kalfpille is waarmee ek gaan begin. Swenk en lusern gaan aangeplant word om te baal vir voeding, als onder besproeiing (30ha). My beplanning is om 50 ‘n maand groot te maak in kampies tot op ses maande. Wat is die kostes verbonde aan entings en doserings? Wat is die markprys vir Holsteins as hulle verkoop word?

Antwoord

Om melk- of melkkruise te wil grootmaak om as SPEENKALWERS te verkoop, KAN NIE winsgewend wees nie.

Neem bloot die aankoopprys ( die heel kleinste koste) van ‘n  Holsteinbulletjie plus een sak melk en kruipmeel en dan staan jy op 6 weke ouderdom alreeds by amper R1500.  Waar is jou arbeid en medikasie en vrektes boonop nog?

Nou moet jy hom nog ‘n stuk of sewe maande voer teen watter koste?

En dan kom jy by die verkoopslag as speenkalf…   Voerkrale sal baie eerder ‘n Nguni koop as ‘n melkkalf.   Melkkruise verkoop teen baie minder as vleiskalwers indien jy hoegenaamd ‘n koper gaan kry.  Kopers weet dit goed en algar probeer daardie kalwers teen diefstalpryse optel.

Daar is vir my net een manier hoe dit vir my winsgewend kan wees.  Ek voer baie goedkoop omdat ek slegs my afval lusernbale (sê maar 3de graad a.g.v. gras/reën of bloot gebreekte bale) aan die kalwers voer.   So ook mieliesifsels vanaf silo’s en selfs gemaalde kameeldoring en prosopis-peule.  Ek koop slegs die sifsels.

Die kalwers gaan wei op groen riete teen die rivier sodra hulle rumens goed genoeg werk.   Saans word hulle gekraal en kry dan lusern en bietjie energie as byvoeding.

Na omtrent 6 maande is hulle op hul eie in die veld totdat ek hulle laat slag.  Na 6 maande groei hulle dus “gratis” tot 400kg en word van die veld af geslag met die minimum byvoeding. En wanneer jy laat slag, is die prys/kg dieselfde vir vleis- of melkosse.

Ek koop ook bv. melkpoeier direk vanaf die vervaardiger teen bykans 50% diskonto relatief tot koöperasiepryse, maar bloot ook net omdat my naaste koöperasie weier om die spesifieke produk in voorraad te hou.

Vir my het dit gewerk, maar ek gaan nie weer daardie roete loop nie.

Ek het n klompie Angus/Jersey verse grootgemaak wat nou begin kalf.   Die plan is om oor tyd daardie koeie as “nurse” koeie te gebruik en om dan ten minste een ekstra kalf groot te maak.

Ek glo dat dit ’n heel winsgewende alternatief sal wees.

In laasgenoemde verband het Outeniqua Proefplaas uitstekende resultate behaal met Angus/Jersey moeders.  Sien aanhangsels hieronder.  Hulle maak ‘n hele paar kalwers per jaar per koei so groot.

Maar melkkalwers grootmaak en as speenkalwers te wil verkoop?  Nooit weer nie.

Geskryf deur ‘n boer wat weet waarvan hy praat.

André Geldenhuys (rugbreek@gmail.com)

Nog ‘n mening:

My eerste reaksie is dat die mark vir suiwel kalwers, suiwer Holstein en Jersey, teen ‘n aansienlik laer aankoopprys vir die speenkalwers geskied?

Dit laat die vraag amper ontstaan of dit lonend sal wees om sulke suiwel kalwers groot te maak al kry jy hulle kleintyd verniet?  Mortaliteite by iemand wat sonder ondervinding van voor af moet leer, kan so hoog as 30% wees…?

Meganisasie om ruvoer op klein skaal te verbou, is ‘n ewigdurende “Repair and maintenance” diep donker put.  Veel beter dat die kalwers self gaan wei, maar nou verstaan mens ook dat sekere dele in die land nie deur die jaar weidings sal hê nie?

My standpunt is dus dat ek nie iemand sal aanmoedig om dit te doen nie?

Gerdie Landman (gerdie@koeihotel.co.za)

Al advies wat ek kan byvoeg is dat as jy so iets aanpak jy in die eerste plek seker moet maak jy het ‘n mark vir die kalwers. Dan kan jy jou verkoopsprys bepaal en vandaar af is dit maklik om uitgawes te bereken en dan jou wins te bepaal.

Dr. Philip Theunissen (philip@computus.co.za

Besoek ook:

www.landbou.com

Klik op Indeks van antwoorde

Klik op Beeste

Klik op Bestuur

Klik op Kalwers grootmaak

Onder Beeste

Klik op Kalwerprobleme

 

31 Augustus 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.