Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Inentings vir katte

Vraag

Ek wil 'n klein kathotel begin. Graag wil ek weet watter minimum inspuitings noodsaaklik is vir my diere-gaste. Ek weet van die 3:1 en hondsdolheid, maar watter inentings is nog noodsaaklik waar baie katte bymekaar is (veral in die Desembervakansie)? Die plan is dat slegs katte van dieselfde familie in een hok geplaas word, maar die hokke is tog langs mekaar?

Antwoord

Deur: Dr. SUNELLE STRYDOM

Die 3 in een waarna u verwys is teen panleukopenie by katte, rinotrageïtis by katte en calicivirus. Daar is egter ook entstof beskikbaar teen die volgende siektes by katte:                                                                             - Chlamydophila felis

- Bordetella bronchiseptica
- Leukemie by katte
- Immuniteitsgebrek virus by katte
 
Om te bepaal watter inenting u moet verlang, moet ons gaan kyk na hoe die verskillende siektes oorgedra word:
 
·         Chlamydophila felis
Kan geassosieer word met boonste lugweginfeksie en konjunktivitis, wat meer algemeen bekend staan as “snuffles”. Chlamydophila felis is egter maar een patogeen (siektekiem) wat tot “snuffels” kan lei en in baie gevalle word “snuffels” veroorsaak deur ‘n kombinasie van patogene (siekteverwekkende agente) wat rinotrageïtis by katte en calicivirus mag insluit. Oordraging is deur direkte of indirekte kontak en word dus oorgedra deur middel van aërosoldruppels en enige ander voorwerpe wat van die een kat tot ‘n ander gedra kan word. Menslike gevalle van konjunktivitis weens Chlamydophila felis is ook al aangemeld en dit is dus ‘n potensiële soönose. 80 tot 90% van katte wat herstel van ‘n akute infeksie (‘n infeksie wat skielik ontstaan en nie lank duur nie) word egter draers wat of simptoomloos kan wees of kombinasies van kliniese tekens kan wys.
 
·         Bordetella bronchiseptica
Bordetella bronchiseptica veroorsaak siekte van die asemhalingstelsel en is veral ‘n siektekiem waar daar ‘n hoë inwonertal is soos byvoorbeeld by ‘n katherberg. Die bakterie word uitgeskei in beide oog- en neusuitloopsels en oordraging vind dus plaas deur beide direkte en indirekte kontak.   
 
·         Leukemie by katte (FeLV)
Dit is ‘n neoplastiese (kanker) siekte van katte wat mees algemeen oorgedra word deur ’n virus wat teenwoordig is in die speeksel van draerkatte. Baie noue kontak is nodig vir oordraging en die virus in die speeksel word oorgedra na die vatbare kat deur middel van die slymvliese van die oë, neus of asemhalingstelsel. Dit kan egter ook deur die melk oorgedra word na klein katjies toe wat nog soog. 
 
·         Immuniteitsgebrek virus by katte (FIV)
Die virus word oorgedra deur middel van bytwonde en die siekte is dus minder algemeen in huishoudings waar die katte nie baklei nie.
 
Vergelyk dus die oordragingsmetodes met die uitleg van u kathotel om te bepaal teen watter van die siektes die katte voor opname ingeënt moet wees. Bespreek ook gerus die kostes, asook die moontlike newe-effekte van die verskeie inentings met u veearts as verdere oorweging van watter inentings u verlang.
 
Verwysings:
1. BVSc klasnotas
2. Guidelines on feline infectious diseases. Bordetella bronchiseptica infection in cats. October 2008.
European Advisory Board on Cat Diseases. Beskikbaar by http://www.ivis.org/proceedings/abcd/abcd_bb_guidelines1008.pdf, soos op 12 Maart 2010
 
Geskryf deur: Dr Sunelle Strydom (BVSc)
 

Addisionele dokument

0
Geen gradering nie
Jou gradering: Geen