Ek is ‘n kommunale boer van Namibiё, Grootfontein area. Boklammers word gebore met geswelde kliere op hul nekke, so ook onder die kakebeen. Dan is hulle baie swak, kan nie by die ma self suip nie en vrek so na ‘n dag of twee. Hulle sê dis 'n tekort aan jodium. Kan jy help?
Die mees kenmerkende teken van ‘n jodiumtekort is ‘n vergrote skildklier by pasgebore lammers en kalwers. Die skildklier vergroot om te probeer kompenseer vir die tekort aan jodium. Die fetus word die meeste deur ‘n jodiumtekort beïnvloed omdat jodium absoluut noodsaaklik is vir seldifferensiasie en - ontwikkeling. Die persentasie doodgebore lammers/kalwers of vrektes net na lam/kalf is hoog en pasgebore diere het vergrote skildkliere, terwyl sommige haarloos en/of hoefloos gebore kan word.
Volgens Grace (1994) kan die vergrote skildkliere en vrektes by lammers voorkom word deur dragtige ooie 8 weke voor lam en weer 4 weke voor lam met 212mg jodium, in die vorm van kaliumjodied, te doseer.
Diere kan ook deur die jaar, maar veral gedurende dragtigheid, van ‘n lek wat jodium of gejodeerde sout bevat, voorsien word.
Dit is verder belangrik om te weet dat selenium en jodium sinergisties is en dat jodiumtekorte tot ‘n mate deur selenium reggestel kan word indien die diere voldoende selenium inneem.
Daar word aanbeveel dat die diere deur die jaar, maar veral gedurende dragtigheid, ‘n lek ontvang wat ‘n gebalanseerde spoorelementmengsel van jodium en selenium bevat.
Geskryf deur: dr Willie Smith, Voedingskundige, Animalia (williesmith@iafrica.com)
15 Mei 2010