'n Leser het kaal kolle op die vel van sommige van sy rooibokke opgemerk. Wat kan die oorsaak wees, vra hy?
Vraag:
Ek verwys na die foto van die rooibokke hiernaas: Waaraan is die kaal kolle op die vel te wyte?
Die bokke loop tussen Tolwe en Baltimore en dit was verskriklik droog. Daar was glad nie enige weiding oor nie. Die plaas is 3 000ha en daar is so 500 bokke op die plaas. - Hanre Pretorius (kdpfjk@iafrica.com)
Antwoord:
As rooibokke oud word en hulle 'kam'-tande val uit, is hulle geneig om hulle hare uit te trek wanneer hulle hulself liefkoos met hul voortande, maar dan is dit net op die lyf en nie op die kop nie.
Ook nie soos twee van die ooie se haarlose areas wys nie.
Ek dink dit is 'n mytbesmetting. Sulke besmettings het periodiek in die KNP op rooibokke voorgekom en dan spontaan verdwyn (miskien is die aangetaste bokke deur karnivore gevang en opgevreet).
Ek dink in die bepaalde geval is die besmetting te wyte aan die droogte, oorbevolk en dus immuunonderdrukking. As daar so baie rooibokke op die plaas is, sal ek amper geneig wees om van die wat die ergste aangetas is te skiet en dus die bron van besmetting te verminder. Ek glo die ander sal spontaan genees.
16 November 2007