Menu

Luise, myte en vlooie van pluimvee en ander voëlsoorte

Vraag:

Rooiluise vreet my hoenders op. Hulle is brandmaer en hulle sit veral op die koppe, kamme en belle. Ek het hulle behandel met karbadust in water, maar dit help net vir ‘n paar dae. Help asb.

Antwoord:

Luise

Luise is relatief klein, afgeplatte, vlerklose insekte en varieer van minder as 1 mm tot ongeveer 10 mm in lengte. Hulle leef permanent op die liggame van verskeie diere en kan nie vir meer as ‘n paar dae in die afwesigheid van hulle gashere bly leef nie. Hulle is baie gasheerspesifiek, d.w.s. elke luissoort voed op ‘n sekere diersoort.
Hulle lewenslope is relatief eenvoudig en die onvolwasse stadia lyk baie soos die volwassenes. Die eiers word aan hare of vere vasgeheg en nimfe broei na 1-2 weke uit. Die nimfe is kleiner en gewoonlik bleker as die volwassenes en het nie geslagstrukture nie. Hulle ondergaan 3 ontwikkelingstadia voordat die volwassenes gevorm word, gewoonlik 2-3 weke nadat die eiers uitgebroei het. Die volwassenes paar in die meeste gevalle voordat die wyfies eiers lê.
Belangrikheid
Luise veroorsaak irritasie wat daartoe lei dat gashere ‘n afname in welstand vertoon. By pluimvee raak vere beskadig en ‘n afname in eierproduksie vind plaas.
Luise op pluimvee en ander voëls
Lipeurus caponis: die hoendervlerkluis wat op hoenders en fisante, gewoonlik op die vlerk en stert, aangetref word.
Goniocotes gallinae: ‘n klein tipe hoenderluis wat gewoonlik aan die basis van vere, veral op die rug voorkom. Dit word op hoenders, mak duiwe en fisante aangetref.
Goniodes gigas: ‘n groot luis wat op die liggaam en tussen die vere van hoenders voorkom.
Cuclogaster heterographus: die kopluis van pluimvee.
Chelopistes meleagridis: die kalkoenluis.
Menopon gallinae: die skagluis van pluimvee, is klein en geel van kleur en voed blykblaar op stukkies vere.
Menacanthus stramineus: die lyfluis van pluimvee. ‘n Groter, meer aktiewe, strooikleurige luis wat gewoonlik op die gasheervel op dele waar min vere voorkom, aangetref word. Hulle voed op bloed wat sypel uit bytplekke wat hulle aan die basis van sagte veerskagte maak. Swaar besmettings kan kuikens laat vrek.
Trinoton anserium: op ganse en swane.
Columbicola columbae: op mak en wilde duiwe.
Vlooie
Volwasse vlooie is klein (1,5-4 mm lank), lateraal afgeplatte vlerklose parasitiese insekte, met goed ontwikkelde agterpote wat aangepas is vir spring. Die monddele is aangepas om die vel van voёls te penetreer en om bloed mee op te suig.
Die sogenaamde vasheg- of vassitvlooie waarvan die wyfies aan die gashere vasgeheg bly, is bv. die hoendervlooi. Die wyfies raak in die vel ingebed sodat net die agterste gedeelte van hulle lywe uitsteek.
Lewensiklus
Die wit, ovaalvormige vlooieiers word tussen die vere, in neste of op die grond gelê. Die wat op die gasheer gelê word, val af. Vier- tot vyfhonderd eiers kan gedurende ‘n lewensloop van hoogstens 200 dae gelê word. Die harige, wit, maaieragtige larwes broei na 2 dae uit. Die larwes is ligsku en woon in krakies en nesmateriaal waar hulle op organiese afvalmateriaal insluitende die bloed in die mis van volwasse vlooie voed. Daar is 3 larfstadia en onder gunstige toestande kan hulle ontwikkeling binne 9-15 dae voltooi word, alhoewel dit tot 200 dae mag neem as ongunstige toestande heers. Die volgroeide larf, wat ± 6 mm lank is, spin ‘n los, witterige kokon waaraan sandkorrles mag kleef en vorm ‘n papie binne-in die kokon.
Die papiestadium neem onder gunstige toestande 7-21 dae om te voltooi. Die hele lewensiklus kan dus oor ‘n tydperk van 18 dae tot etlike maande strek.
Volwassenes wat pas ontpop het, kan verskeie weke sonder ‘n bloedmaal aan die lewe bly, maar as hulle eers een keer gevoed het, moet hulle gereeld bloed inneem om te bly lewe. Die volwasse lewensloop kan onder gunstige toestande oor baie maande strek.
Echidnophaga gallinacea: is die vassitvlooi van pluimvee wat ook op die pote van honde, die ore van katte en op perde, konyne, rotte en die mens voorkom.
Vassitvlooie van pluimvee kan beheer of uitgeroei word deur die pluimvee in afsondering te hou; die vloere van hokke kraakvry te maak; uitskeidings gereeld te verwyder; donker skaduwee in die hokke uit te skakel en die verspreiding van vlooie deur katte en honde wat ook as gashere dien, te verhoed. Die voëls, asook hulle hokke, neste en sandbaddens moet gereeld behandel word. Pluimvee kan met ‘n geregistreerde plaagdoder bestuif of gedip word.
Myte
  • Macronyssus bursa; die tropiese hoendermyt
Die mytkom op pluimvee, wilde voëls en toevallig by die mens voor. By hoenders is die myte geneig om saam te koek in die sagte donsvere om die uitskeidingsopening, maar besmettings mag ook in kolle op ander liggaamsdele van die gasheer voorkom. Groot getalle myte kan op ‘n klein kolletjie saamgekoek aangetref word.
Lewensiklus
Die eiers word op die gasheer of in sy nes gelê. Na uitbroeiing gaan die myte deur ‘n larf- en 2 nimfstadia voordat die volwasse stadium bereik word. Hulle is slegs gedurende die laaste nimf- en die volwasse stadium bloedsuiend. Die lewensiklus kan binne 8-10 dae voltooi word en die myte kan nie vir langer as 10 dae sonder ‘n gasheer voortbestaan nie.
Siektes veroorsaak
By hoenders kan hierdie mytsoort aansienlike irritasie en bloedverlies veroorsaak, terwyl swaar besmettings die dood van veral jong kuikens tot gevolg mag  hê.
  • Macronussus sylvarium: die noordelike hoendermyt
Die myt lyk baie soos die tropiese hoendermyt. Die gashere, lewensgewoontes en voedingsplekke op die gasheer stem ook ooreen.
Lewensiklus
Baie soos die tropiese hoendermyt behalwe dat die myt meer gehard is en tot 3 weke sonder ‘n gasheer kan leef.
Siektes veroorsaak
Soos die tropiese hoendermyt is hierdie myt ook aktief bloedsuiend en veroorsaak dat hoenders hulle vere uittrek, ‘n afname in eierproduksie en massa toon, asook aan bloedverlies ly, wat vrektes tot gevolg mag hê. Besmette hoenders vertoon oor die algemeen ‘n grys of swart verkleuring rondom die uitskeidingsopening, samekoeking van die vere en die vorming van korse.
  • Dermanussus gallinae: die rooimyt van pluimvee
Die gashere van hierdie myt is pluimvee en voëls.
Lewensiklus
Dit is soortgelyk aan dié van die tropiese hoendermyt en kan die siklus binne 7 dae voltooi. Al die stadia behalwe die larwes is bloedsuiend. Hierdie parasiete bly nie permanent op die gasheer nie. Hulle voed snags, maar skuil bedags. Die volwassenes is gehard teen uithongering en kan tot 5 maande lank sonder ‘n bloedmaal voortbestaan.
Siektes veroorsaak
Die effek by besmetting met hierdie myt op pluimvee is soortgelyk aan die van die noordelike hoendermyt.
Ektoparasietmiddels wat geregistreer is vir die gebruik in pluimvee
Karbadipspray, Bayer AH, Karbaril 50% m/m (G145)
Karbadip powder, Bayer AH, Karbaril 50% (G1291)
Bayticol, Bayer AH, Flumetrien 2% m/v (G489)
Coopers Expel, Cooper (Afrivet), Deltametrien 0,10%, harse en olies,kiemdoder (G3245)
Decatix 3, Cooper (Afrivet), Deltametrien 2,5% ( (volstruise) (G1348)
Delete X-5 Intervet/SPAH, Deltamethrin 5% (volstruise) (G3279)
DeltabBack-Pack tablets for spraying, Intervet/SPAH, Deltametrien 25% (volstruise) (G2518)
Drastic Deadline, Bayer AH, Flumetrien 1% (Volstruise) (G723)
Ectomin 100 EC, Novartis, Dip and Spray, Sipermetrien 10% (G3314)
Maxipour, Cipla Agrimed, Flumetrien1%, (volstruise) (G3567)
Taktic cattle spray, Intervet/SPAH, Amitras 12,5% (volstruise) (G2535)
Metode:
Poeier elke kuiken met Karbadust of benat elke kuiken met Bayticol
Poeier of sprei elke nes asook die areas waar die kuikens in die sand ”bad”
Sprei op die houtsaagsels
Sprei op alle houtstrukture met Karbadust of Bayticol
Herhaal behandeling elke 10 dae vir 3 toedienings
Herhaal behandeling daarna elke 21 dae.
Bron
Howell, C.J., Walker, J.B., Nevill, E.M. 1983. Bosluise, myte en insekte van huisdiere in Suid-Afrika. Deel 1. Beskrywing en biologie. Wetenskaplike pamflet Dept. van Landbou-tegniese dienste, RSA. ISBN 0 621 03849 0
 
Geskryf deur: dr. Faffa Malan, Veeartsenykonsultant en dr. Mick Versfeld, Pluimveekonsultant (mickversfeld@mweb.co.za)
 
11 Mei 2010

11 Mei 2010

5585 keer gelees | 0 kommentaar

Kommentaar
Slegs in Afrikaans

Naam Kommentaar
E-pos
Tik in die nommers  

Vind jou perfekte maat nou!

Ek is 'n:
Stel belang in:
Ouderdom: tot
Huidige
Ligging:
Wys net profiele met foto's

Teken in vir die nuusbrief

Teken in op Landbou se weeklikse nuusbrief deur jou e-posadres hier in te vul.

Lewende Hawe

Soort 08/04/14 15/04/14 %
Beesvleis A2/A3 3415c 3422c down 0.2
Speenkalf (lewend) 1723c 1719c down -0.2
Skaapvleis A2/A3 4638c 4636c down 0
Varkvleis (gem. prys) 2136c 2119c down -0.8
Braaikuikens 1712c 1721c down 0.5

Aandele

  • Namibiese Elite-koei: Bonsmara

    Funksioneel doeltreffende diere wat oral in alle toestande kan produseer, is die doelwit van mnr. Edward Hansen van Okahandja.

  • Sussex se Elite-koeie

    Met sý Sussex-beeste moet kommersiële boere op die veld wins kan maak, sê mnr. Chris Nel van Petrus Steyn.

  • Beefmasters se Elite-koei

    Mnr. Piet Human van Steynsrus se Beefmasters is die resultaat van die familie wat al 150 met beeste in die Vrystaat boer.

  • Drakensbergers se Elite-koei

    Jou oë kan vir jou jok, maar nie syfers nie, sê mnr. Edwin Schroeder van Dundee, eienaar van die Elite-koei in die Drakensberger-ras.