Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Mangowurms by konyne

Vraag

Help! My konyne het mangowurms!

Antwoord

Deur: Dr. FAFFA MALAN

Vraag:
My konyne het mangowurms! Ek maak gereeld die hok skoon en het die plaaslike veearts al gevra wat ek kan doen om te keer dat hulle mangowurms kry, maar hy kon nie help nie. Ek is ook op soek na 'n boek oor konynboerdery, want ek het met konyne begin boer om geld in te samel vir ons skoolprojek. - Marjolé Mulder (luitjemulder@absamail.co.za)

Antwoord:

Daar is onlangs baie in koerante geskryf oor mense en diere wat mangowurms gekry het. 'n Opskrif in hoofletters lui: "17 Wurms kruip by baba se vel in!" (Beeld, Februarie 2006).

Ek verstaan hierdie probleem baie goed omdat ek vir 25 jaar naby Malelane op Intervet se navorsingsplaas gebly het waar ons gedurig las gehad het van die mangovlieg. Daar moes ons onderklere en babaklere stryk of in 'n tuimeldroër droog maak sodat hulle nie besmet raak nie.

Maar laat ek voor begin en eers die vlieg Cordylobia anthropophaga en sy lewensiklus beskryf. Die vlieg staan ook bekend as die tumbuvlieg, die velmaaiervlieg of die mangovlieg. Die vlieg is stewig, geelbruin en 6 tot 12 mm lank, met 2 oorlangse merke op die toraks en swart strepe oor die breedte van die abdomen. Die gesig en pote is geel. Die volwasse vlieë voed op plantsappe, ontbindende organiese materiaal en uitskeidings. Die wyfies lê 100 tot 300 eiers op 'n keer op oppervlaktes wat met mis of urine besmet is. Hulle kan ook aangelok word deur 'n sweetreuk en klam babadoeke. Hulle sal selfs eiers in sand waar daar geurineer is, lê. Die eiers broei na 1 tot 3 dae uit en die klein larfies bly dan onder die sand of in die kledingstuk en wag op 'n geskikte gasheer. Die gasheer kan 'n mens of dier soos honde, bobbejane en knaagdiere wees. Sodra die larf met die gasheer se vel in aanraking kom, dring dit die vel binne en gaan lê onder die veloppervlakte. Hier voed die larf en ondergaan 2 vervellings. 'n Pynlike letsel wat soos 'n pitsweer lyk, ontstaan en die larf haal asem deur 'n klein gaatjie in die vel. Soms kan 2 spikkeltjies in die gaatjie gesien word. Na ongeveer 8 dae verlaat die larf die gasheer, boor in die grond in en vorm 'n papie. Na nog 10 tot 11 dae kom die volwasse vlieg te voorskyn. Daar is beskryf dat daar al chinchillas dood is ná mangovlieg-aanvalle wat erge weefselvernietiging tot gevolg gehad het.

Beheer:

Was materiaal waarop eiers of larwes kan voorkom goed en stryk die materiaal. Waar vlieë voorkom, moet klere liefs in 'n tuimeldroër geplaas word in plaas van op 'n wasgoedlyn. Slaapplekke van honde moet skoon gehou word, sodat vlieë nie aangelok word nie. Bring gaas aan om die hokke waar knaagdiere aan aanvalle blootgestel is en voorkom dat mis en urine vlieë aanlok.

Indien larwes op diere en mense gevind word, moet die larwes versigtig uitgedruk word. Larwes by kinders word selfs onder narkose verwyder. 'n Goeie ontsmettingsmiddel en antibiotika kan aangewend word om sekondêre bakteriese infeksie te voorkom. Piretroïde soos Deltab back pack, Intervet, G2518, kan op die diere en omgewing gespuit word om vlieë te beheer.

Vir inligting oor konynboerdery tik "rabbit, farming" in op Google se soekblokkie wat te kry is op Landbouweekblad se webblad.

  • Bron: Bosluise, myte en insekte van huisdiere in Suid-Afrika. 1983 Howell, CJ, Walker, Jane B en Nevill, E.M. Wetenskaplike Pamflet 393, Dept. Landbou-Tegniese Dienste, RSA ISBN 0621038490.

    21 Maart 2006

  • 0
    Geen gradering nie
    Jou gradering: Geen