Ek het 18 Dormer ooie, almal omtrent ewe oud; net-net twee tand of dalk bietjie jonger. 'n Goeie vriend van my het sy Dorperram vir my geleen wat die afgelope vyf maande saam met die ooie geloop het. Vier tot vyf weke gelede het drie van die ooie gelam. Tot op hede het die res nog nie gelam nie. Wat dink u is die waarskynlikheid dat die res van hulle ook dragtig is? Moet ek maar weer 'n ram by hulle sit of nog bietjie wag?
Die beste manier om te bepaal of die ooie dragtig is, is om hulle te laat skandeer. Die aantal fetusse kan egter slegs tussen ongeveer dag 40 en 105 van dragtigheid akkuraat uitgewys word. Uiterlike tekens van dragtigheid is om te kyk of die uiers begin ontwikkel, maar dit kan eers vanaf drie tot vier weke voor lam gesien word, mits die ooie voldoende deurvloeiproteïen ontvang het. Koggelramme met merktuie kan by die ooie geplaas word om dié wat nie dragtig is nie uit te wys, maar die nadeel is dat dit net ooie sal merk wat op hitte kom, met ander woorde droë ooie wat nie op hitte kom nie, kan nie uitgewys word nie.