Agriwiki

Trekkerwerf

Hunter & Jagter

Farming SA

Is my ooie dragtig?

Vraag

Ek het 18 Dormer ooie, almal omtrent ewe oud; net-net twee tand of dalk bietjie jonger. 'n Goeie vriend van my het sy Dorperram vir my geleen wat die afgelope vyf maande saam met die ooie geloop het. Vier tot vyf weke gelede het drie van die ooie gelam. Tot op hede het die res nog nie gelam nie. Wat dink u is die waarskynlikheid dat die res van hulle ook dragtig is? Moet ek maar weer 'n ram by hulle sit of nog bietjie wag?

Antwoord

Deur: Dr.JASPER COETZEE

Die beste manier om te bepaal of die ooie dragtig is, is om hulle te laat skandeer. Die aantal fetusse kan egter slegs tussen ongeveer dag 40 en 105 van dragtigheid akkuraat uitgewys word. Uiterlike tekens van dragtigheid is om te kyk of die uiers begin ontwikkel, maar dit kan eers vanaf drie tot vier weke voor lam gesien word, mits die ooie voldoende deurvloeiproteïen ontvang het. Koggelramme met merktuie kan by die ooie geplaas word om dié wat nie dragtig is nie uit te wys, maar die nadeel is dat dit net ooie sal merk wat op hitte kom, met ander woorde droë ooie wat nie op hitte kom nie, kan nie uitgewys word nie. 

Haal die ramme uit en sit hulle begin Februarie weer by al die ooie, ook dié wat nou lammers het. Februarie tot ongeveer Mei is die geslagsaktiwiteit van ooie hoog. Enige ooi wat dan nie beset raak nie, moet geprul word.
 
Dit is 'n swak boerderypraktyk om ramme vyf maande by ooie te laat loop. Die nuutste Australiese navorsing toon dat dit daartoe aanleiding gee dat ooie gewoond raak aan ramme wat tot swakker besetting aanleiding gee. Indien ramme by ooie loop, wat klein lammertjies soog, kan tot 20 % van hulle in teelrus gaan en eers die volgende seisoen op hitte kom. Indien ramme vyf maande by die ooie loop, moet die ooie noodwendig hanteer (bv. enting, dosering, skeer, ensovoorts) word. Dit kan tot embrionale en fetale vrektes aanleiding gee. Met ander woorde, daar kan dalk meer van die ooie dragtig gewees het, maar weens oormatige hantering veral gedurende die eerste 60 dae van dragtigheid, kan van hulle hulle embrio’s of fetusse geresorbeer het. Maak gebruik van vaste lamseisoene en paar ooie slegs 28 dae indien koggelramme gebruik word en indien nie, paar hulle slegs 35 dae. Indien ooie in 'n goeie kondisie met paring is; ramme vrugbaar, vry van geslagsiektes en dekbehendig is, moet alle ooie wat nie in hierdie paringsperiode beset raak nie, geprul word.
 
Geskryf deur: dr. Jasper Coetzee, Tegniese Direkteur, Voermol Voere (jasperco@iafrica.com)
8 November 2009
 

Addisionele dokument

5
Gemiddeld: 5 (3 votes)
Jou gradering: Geen