Sonder om die perd self deeglik te ondersoek, velskraapsels onder die mikroskoop te ondersoek en die resultaat van behandelings waar te neem, kan ‘n mens maar net raai wat die oorsaak kan wees.
Moontlike oorsake is muggiebyt-allergie wat op Engels “Sweet Itch” genoem word.
Daar is oor die 800 spesies van bytende muggies, Culicoides spp. en elkeen van hierdie spesies het hulle eie voedingsvoorkeure. By perde is daar bv. muggies wat die dele van perde verkies waar die grofste hare op die perd voorkom soos die maanhare en stert basis. Ander muggies verkies weer die onderkant van die liggaam.
Slegs die wyfies byt en ten spyte van die feit dat hulle baie klein is, veroorsaak hulle groot ongemak en rusteloosheid van diere. Hulle veroorsaak klein wondjies wat weer ander vlieёspesies aantrek om verdere skade te veroorsaak.
Die spoeg van sekere muggies bevat iets wat ’n erge allergie veroorsaak en daartoe lei dat perde intens jeuk. Perde veroorsaak selfbesering soos hulle van die jeukerigheid ontslae wil raak. Dit wil lyk of die kondisie meer voorkom in perde ouer as 3 jaar en daar word ook gedink dat die jeukerigheid oorerflik kan wees.
Die simptomatiese behandeling van die kondisie deurdat u veearts die dier met ‘n langwerkende kortisoonmiddel te behandel om die jeukerigheid teen te werk en dan ‘n muggieafweermiddel soos bv. Quadrepel (G3328) aan te wend, kan probeer word, maar is nie altyd suksesvol nie. Diere kan ook onderdak gehou word om sodoende die muggieplaag vry te spring.
Spontane verkleining van die letsels mag in die winter geskied maar haargroei is gewoonlik swak op aangetaste areas.
Soos in jou vraag hierbo genoem kan myte ook velletsels veroorsaak. Sommige myte wat op gras voorkom en selfs hoendermyte kan tydelik op perde voorkom en intense jeukerigheid veroorsaak. Dit kan dalk raadsaam wees dat kontak met hoenders vermy word, aangesien hoendermyte die perde kan besmet. Sarcoptes scabiei (skurftemyte) kan ook jeukerigheid veroorsaak. Psoroptes equi hou van areas met lang hare terwyl P. caniculi in die ore voorkom. Behandel perde met ‘n inspuitbare makrosikliese laktoonbevattende middel wat vir perde geregistreer is.
Raadpleeg jou veearts sodat velskraapsels geneem en ondersoek kan word asook om op die behandeling te besluit.
Bron: Dennis E. Jacobs. 1986. A colour atlas of equine parasites. Baillière Tindall. ISBN: 0-906923-33-6
11 Februarie 2012
Kommentaar
Lewer kommentaar. (Jy hoef nie ingeteken te wees nie.)