Vra vir Faffa

Selfmeng van varkvoer

Vraag

Ons het met varke begin boer. Ons voeding bestaan uit gemaalde lusern, gemaalde mielies en rosyntjiereste. Wat moet ons nog by die voeding voeg vir die speenvarkies en ook die sôe wat nou kleintjies het?

Antwoord

Daar moet versigtig omgegaan word met byprodukte of afvalprodukte van grondstowwe. Rosyntjie reste bevat ʼn hoë vog en suiker inhoud. Daarom is die kans dat die produk kan muf baie groot. Muf vervaardig toksiene wat baie nadelig is vir die kleinvarkies sowel as teeldiere. Die toksiene het ʼn invloed op groei, reproduksie en ʼn rits ander probleme wat ook tot vrektes kan lei.

ʼn Speenvarkie se spysvertering is baie sensitief en gespesialiseerd. Daarom moet hoogs- verteerbare en kwaliteit voeding voorsien word. Omdat kleinvarkies so vinnig groei en hulle voer omset so effektief is, betaal dit definitief om te belê in goeie voeding ongeag die prys, fokus eerder op kwaliteit.

As jy belangstel om jou eie voer te meng, sal dit raadsaam wees om spesialiste op die gebied te kontak wat vir jou die regte rantsoene kan saamstel met goeie advies daarby saam. Dis nie net belangrik om ʼn gebalanseerde voer aan jou varke toe voorsien nie, maar ook om die regte rantsoen op die regte produksiestadium aan die diere te voorsien. Elke fase van ‘n vark se lewe het ‘n spesiale rantsoen nodig bv laktasie/dragtigheid/voorspeen/speen/groei en bemarking.

  1. ASA produkte in Johannesburg 011 683 7212 het spesiaal geformuleerde melkpoeiers asook (pasgebore) varkbabakos en speenrantsoene.
  2. U kan ook gerus van die groot veevoermaatskappye vra vir raad en advies. Hulle help graag.
  3. Vir tuismeng van veevoer: feedtek.co.za

Kontak die naaste agent of voedingskundige in u kontrei

Die Feedtek-organisasie het ook aangepaste oplossings vir tuismengers

Geskryf deur Dr. Pieter Grimbeek, Varkkonsultant (pigvet@mwb.co.za)

4 Julie 2017


Lewer kommentaar

Slegs in Afrikaans

Los 'n antwoord

Alle velde moet ingevul word.